Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

O Nick Cave, gee my jou lekker lyf


Theunis Engelbrecht - 2007-05-16

Ná die verbruikerswaansin van elke jaar in Desember voel dit aan die begin van die jaar daarna asof alles en almal om jou van ‘n roller coaster afgeval het. Aangesien popmusiek geen geringe rol speel in hierdie kommersiële breinspoeling nie, hou dit die voordeel in dat ‘n mens rustig kan bestek opneem van die oordaad wat op jou neergereën het – en heelwat daarvan het buitendien gevoel soos die donderreën van ‘n strontstorm. Baie CD’s is maar ‘n pot klatergoud (en daardie pot is nie eers aan die einde van Anneli se reënboog nie).

Gelukkig het daar darem vanjaar reeds besonder magtige dreuninge opgegalm in die onderwêreld van heidense rock en pop en hip-hop-till-you-drop. Saligheid op aarde. Kom laat ons bop.

CD EN DVD VAN DIE MAAND

CD: Grinderman

DVD: Nick Cave & The Bad Seeds: The Abattoir Blues Tour

Grinderman The Abattoir Blues Tour

Nick Cave staan sy plek vol onder die reuse in die rockwêreld, ouens soos Bob Dylan, Lou Reed, Leonard Cohen en Tom Waits. Al word die Grinderman-CD nie onder sy naam uitgegee nie (dit heet doodgewoon net Grinderman), sing hy hier saam met enkele lede van The Bad Seeds – Warren Ellis, Martin Casey en Jim Sclavunos. Grinderman is meer van ‘n eksperimentele projek deur dié drie, en Cave het saam met hulle geïmproviseer.

Die resultaat is 40 minute wat jou wegblaas. Kookwatermusiek! Klankgewys is dit nie jou gewone, voorspelbare Top 40-fodder nie, en die eksperimentele aard daarvan lewer klanklandskappe op wat getuig van algehele oorspronklikheid. Dit is ‘n oorrompelende ervaring – dit is musiek met bôls en geweldige skop, musiek wat hardegat sowel as bedrieglik delikaat is. Die psigedeliese kitaarspel op “No Pussy Blues” maak van dié liedjie ‘n siedende, kokende pot frustrasie en woede. Trouens, deurgaans kry ‘n mens hoendervleis van wat Ellis alles met sy kitaar aanvang.

Die promosie-eksemplaar wat ek van hierdie CD ontvang het, bevat ongelukkig nie die lirieke nie, maar die stories wat Cave in die liedjies vertel, spreek van ‘n onverskrokke straatwysheid en insig, die siellose waansin van die moderne wêreld, die genadeloosheid van mense. Van voor tot agter is daar nie een enkele dowwe oomblik nie – benewens “No Pussy Blues” is “Electric Alice”, “Honey Bee (Let’s Fly To Mars)”, “Man in the Moon” en “Love Bomb” van die ander snitte wat jou soos ‘n voorhamer slaat.

Die DVD van The Abattoir Blues Tour is, nodeloos om te sê, ook ‘n oorweldigende ervaring vir enige Nick Cave-liefhebber. Dit bevat twee DVD’s met optredes in die Brixton Academy en die Hammersmith Apollo in Londen. Cave sing hoofsaaklik liedjies van sy fenomenale dubbelalbum Abattoir Blues/The Lyre of Orpheus, maar ook ouer liedjies soos “God is in the house”, “The Ship Song” en “Stagger Lee”.

Daarbenewens bevat dit ook die musiekvideo’s van “Bring it on”, “Babe, I’m on Fire”, “Nature Boy”, “Breathless” en “Get Ready for Love”, asook ‘n agter-die-skerms-kykie na die vervaardiging van die “Bring it on”-video.

Hierdie CD en DVD is ongetwyfeld die hoogtepunte onder die nuwe pop- en rock-uitreikings tot dusver vanjaar. As dit jou nie soos ‘n muil skop nie, is jy ‘n zombie.


DIE BESTE SUID-AFRIKAANSE UITREIKINGS TOT DUSVER VANJAAR

Vusi Mahlasela: Naledi Ya Tsela

en

Springbok Nude Girls: Peace Breaker

Dis so lekker as daar die heeltyd nuwe albums is wat jou wegblaas. Jy het skaars herstel van Nick Cave, of hier kom twee Suid-Afrikaanse albums wat jou amper uitasem laat, so briljant is hulle.

Mahlasela het met reg ‘n Sama-prys gewen as beste Suid-Afrikaanse manlike kunstenaar vir die jaar met Naledi Ya Tsela en Lloyd Ross ‘n Sama as die beste opname-ingenieur vir dié pragtige album.

Met woorde kan ‘n mens nie reg laat geskied aan die rykgeskakeerde inhoud van Naledi Ya Tsela nie. In die eerste plek is daar Mahlasela se ongelooflike stem –jy kan die hart en siel daarin hoor. In die tweede plek is daar 16 sterk liedjies, en net die beste musikante speel saam – Robin Auld, Roger Bashew, Guy Buttery, Wynand Davel, Pedro Espi-Sanchez, Albert Frost, Paul Hamner, Chris Letcher, Mauritz Lotz, Moses Ngwenya (van The Soul Brothers), Kenny Mathaba, Steve Newman van Tananas, Lesego Rampolokeng, Ollie Viljoen en Hanepoot van Tonder – om maar net ‘n paar te noem.

Boonop tree daar ook ‘n groep uitgelese gaskunstenaars op sommige van die liedjies saam met Vusi op, soos Ladysmith Black Mambazo, Dave Matthews, Jem en Xavier Rudd. Rian Malan het ook uitstekende lirieke geskryf vir die liedjie “Chamber of Justice”. En as bonussnit is daar ‘n gatskop rockweergawe van die klassieke “Pata Pata” waarop Albert Frost kitaar speel dat nie net die biesies nie, maar ook die bloekombome bewe.

Met dié album bevestig Vusi Mahlasela dat hy een van die grootste kunstenaars in Suid-Afrika is. Naledi Ya Tsela is ‘n pragstuk wat in elke huis hoort.

Wat die Springbok Nude Girls betref, is daar ná hul nuwe CD, Peace Breaker, by my geen twyfel meer nie dat hulle die allerbeste Suid-Afrikaanse rockgroep is – hulle kan hul man internasionaal staan, en dié album is baie beter as heelwat van die internasionale rock-CD’s wat die afgelope ruk op Sound Bites se reeds oorlaaide lessenaar beland het. Dit is baie goeie nuus dat hulle weer saamspeel – ek verkies hulle bo Arno Carstens se solo-albums. Peace Breaker is so briljant dat mens nie een enkele snit kan uitsonder bo ‘n ander nie – al 12 liedjies is van die (heel) boonste rak. (As ek een móét uitsonder, is dit die titelsnit.) Die album het my soveel plesier verskaf dat ek weer na al hul vorige werk gaan luister het, en dit het my weer eens uitgeboul en opnuut laat besef beter Suid-Afrikaanse rock kry jy nie maklik nie. Moenie hierdie een misloop nie. Dis awesome, broers en susters.


ROCK, OU BOK, ROCK TOT JY KROK!

Groot nuus, en goeie nuus, vir rock-maniakke is dat die groepe Arcade Fire en Arctic Monkeys nuwe CD’s uit het. Hulle sal na verwagting die ander rockgroepe na Sondagskoolpiekniek-sanggroepies laat klink. Ongelukkig het ek die twee albums nog nie gehoor nie, maar intussen is daar darem ander nuwe rock-uitreikings wat heel plesierig is.


Fall Out Boy: Infinity on High

Infinity on High is die Amerikaanse groep Fall Out Boy se vierde album. ‘n Mens hoef net een keer na hul sublieme treffer “This ain’t a scene, it’s an arms race” te luister om heeltemal uitgeboul te wees. Wat ‘n kwaai liedjie! Nadat jy dit gehoor het, is jy nuuskierig om die res van die album te hoor. (Intussen het dit nog ‘n treffer, “Thnks fr th mmrs” – ja, net so gespel – opgelewer.)

‘n Teleurstelling is dit gewis nie, al kom nie een van die ander 13 liedjies op die CD naby aan “This ain’t a scene, it’s an arms race” nie. ‘n Mens kan verstaan dat die album in die eerste week na die uitreiking daarvan 260 000 eksemplare verkoop het en die eerste plek op die Billboard-trefferlys gehaal het, want dit het al die skop, intensiteit en energie wat rock lekker maak. Dis kommersiële rock, en ek twyfel nie daaraan dat Arcade Fire en Arctic Monkeys stof in Fall Out Boy se oë sal skop nie, maar Infinity on High is genotvol, al is dit nie groots nie. Na ‘n paar keer se luister is daar ‘n handvol liedjies waarvoor mens gou moeg raak, dus sal baie mense waarskynlik eerder verkies om die lekkerste liedjies te download as om die hele album aan te skaf.


Kasabian: Empire

Hierdie album is nie so splinternuut nie, maar het verswelg geraak in die oordaad uitreikings voor Kersfees. Dit is dus ‘n besonderse vreugde om dit as’t ware te herontdek, want Kasabian skop veel beter gat as wat Naas Botha ‘n rugbybal kon skop. Empire het tot dusver die groot treffer “Shoot the runner” opgelewer, en die meeste van die res van die album is op dieselfde hoë peil.

‘n Deurlopende tema is oorlog, mag en politieke hebsug. Ongelukkig is daar nie lirieke in die CD-boekie nie, wat dit moeiliker vir mens maak om al die woorde te volg. Kasabian speel met passie en dryfkrag, die liedjies is goed, die verwerkings baie knap en daar is baie aansteeklike hooks en riffs. Ek verkies Kasabian bo Fall Out Boy. Ander mense mag van my verskil, want smaak verskil, so luister liewer self voor jy koop. Kasabian se Empire is egter nie een van jou tipiese kommersiële rock-albums wat net ‘n vervlietende impak het nie. Jy kan oor ‘n jaar of twee weer daarna luister en dit sal nog steeds vars klink.


KOMPILASIES VAN DIE MAAND

Van Morrison At the Movies: Soundtrack Hits

Ag, wat ‘n verruklike, fantastiese kompilasie. Dit bevat al die liedjies van Van Morrison wat al in rolprente gebruik is soos The Last Waltz, The Departed, As Good as it Gets, Born on the 4th of July, Good Morning Vietnam, An Officer and a Gentleman, Proof of Life, French Kiss en An American Werewolf in London, om net ‘n paar te noem.

Hierdie CD kan gerus ook maar ‘n stempel dra wat sê “Klassieke album”. Dit bevat 19 snitte, met al Van Morrison se grote goue oues, soos “Gloria”, “Baby Please Don’t Go”, “Jackie Wilson Said (I’m in heaven when you smile)”, “Moondance”, “Wild night”, “Brown eyed girl”, “Into the mystic” en “Real Real Gone”. Interessant is ook sy duet met Roger Waters op Pink Floyd se The Wall-treffer “Comfortably Numb” (uit die fliek The Departed).

‘n Spesiale versameling liedjies wat ‘n spesiale plek op jou CD-rak verdien. Tydloos.


Diana Ross & The Supremes: The No. 1’s

As jy nog nie ‘n CD het waarop The Supremes “Where did our love go”, “Baby love”, “Stop! In the name of love” en hul ander treffers sing nie, is hierdie kompilasie net die ding vir jou. Altesame 24 snitte, waarvan 10 solo-treffers van Diana Ross, soos “Ain’t no mountain high enough”, “The Theme from Mahogany”, “Love Hangover”, “Upside Down”, “Chain reaction”, “I’m coming out” en die aaklig-soetsappige “Endless love” (met Lionel Richie).

Ná al die jare klink Diana Ross & The Supremes nog steeds baie sjarmant en oulik. Niks aardskuddends nie, maar goeie, opbeurende vermaak – en daarvan het ‘n mens ook nodig te midde van al die musiek wat oor oorlog, verontmensliking en verskrikking handel.


Verskeie kunstenaars: Rhythms del Mundo Cuba

Ná die rolprent Bueno Vista Social Club het Kubaanse musiek – heel tereg – wêreldwyd gewild geword met die musiek van mense soos Ruben Gonzales, Ibrahim Ferrer en Omara Portuondo.

Dié CD is deel van ‘n projek genaamd APE (Artists’ Project Earth) om geld in te samel vir en bewustheid te verskerp oor klimaatsverandering, omgewingskwessies, rampe en verwante uitdagings. ‘n Edele doel, maar ek het gemengde gevoelens oor die resultaat.

Dit bevat onder meer treffers van Coldplay, Arctic Monkeys, Faithless, Jack Johnson, U2, Maroon 5, Kaizer Chiefs, Radiohead, Franz Ferdinand en Sting wat almal ‘n Kubaanse verwerking gekry het. Die resultate is interessant, maar in sommige gevalle gedwonge – en van die liedjies klink ook beter as wat hulle in hul Kubaanse baadjies klink. Tussendeur is daar darem ook die ware Jakobs en Jakobas, soos Ferrer en ‘n mooi weergawe van “Killing me softly” deur Omara Portuando.

‘n Interessante eksperiment en darem nie heeltemal goor nie. As jy ‘n lekker partytjie-album soek, is Rhythms del Mundo Cuba nét die een.


‘N LEGENDE HERLEEF


Yusuf: An Other Cup

Drie dekades nadat Cat Stevens besluit het hy is klaar met die heidense wêreld van popmusiek, is hy terug met ‘n nuwe album.

Maar moenie die ou Cat verwag nie. Jy hoef egter ook nie te vrees dat jy op dié CD gebombardeer gaan word met godsdienstige prekies en sedelessies nie. Die kenmerkende Cat Stevens-stem is nog daar, maar die musiek is baie meer gestroop en selfs bykans minimalisties. Dit dra by tot ‘n treffende gevoel van eenvoud, en daar kan gaan twyfel wees aan die opregtheid en eerlikheid waarmee Yusuf Islam hier musiek uitvoer wat die ene delikate suiwerheid is nie. Dis nogal ‘n verheffende spirituele ervaring om hierna te luister. Die CD is ook baie mooi uitgegee met ‘n treffende boekie waarin Yusuf sekere geestelike waarhede op ‘n ongedwonge manier oordra deur middel van ‘n metaforiese kort verhaaltjie.

Van “Midday” en “Heaven/Where True Love Goes” deur tot “Maybe there’s a world”, die treffende “Whispers from a spiritual garden” en “Green fields, golden sands” neem Yusuf jou op ‘n musikale reis wat die moeite werd is om mee te maak. Ek is net nie so seker oor sy weergawe van “Don’t let me be misunderstood nie”, en ek dink ook ek hou meer van Cat Stevens se musiek as Yusuf s’n, maar dit doen niks afbreuk aan die feit dat An Other Cup ‘n heilsame luisterervaring is nie.


NOG DVD’S

And Through It All: Robbie Williams Love 1997-2006

Daar is al in Sound Bites gedebatteer of Robbie Williams die koek vat of nie. Kyk ‘n mens na dié dubbelstel-DVD, is dit duidelik soos daglig dat hy ‘n besonder talentvolle kunstenaar, liedjieskrywer en entertainer is.

Dit bevat al sy groot treffers wat by verskillende konserte opgeneem is – en daar is so baie dat mens nie eers almal kan opnoem nie. Die energie en die atmosfeer van die konserte is inderdaad iets om te beleef met 5.1.-klank, en die spesiale effekte, beligting en verhoogontwerp is regtig skouspelagtig. ‘n Visuele fees, en die musiek is regtig nie sleg nie.

Dis interessant as mens na die tweede DVD kyk vóór die eerste een, want dan kry jy ‘n chronologiese oorsig van Williams se loopbaan. Die tweede DVD bevat TV- en klub-optredes in The Forum en Abbey Road Studios in Londen en die Velodrome in Berlyn in 1997, nog voor Williams wêreldbekend geraak het. Hy was toe meer van ‘n rocker met ‘n rebelse streep, en dis interessant om te sien hoe hy deur die jare ontwikkel en verander het in ‘n internasionaal gewilde ster. (Gelukkig het hy nooit die rebelse streep verloor nie.)

As jy van Williams hou, sal hierdie DVD jou eindelose genot bied. En as jy niks van Williams hou nie, sal And Through It All jou oë laat oopgaan en jou laat besef dat hy werklik ‘n goeie kunstenaar is (al was sy laaste album, Rudebox, so ‘n insinking).


Abba: Number Ones

Wat sou ons tog gewees het sonder nostalgie. Daar is geen twyfel nie dat Abba baie cool was. Hulle het goeie popliedjies geskryf, en snaaks genoeg raak ‘n mens ook nie moeg daarvoor nie.

Dié DVD bevat 19 musiekvideo’s van al hul groot treffers, asook drie TV-optredes. Dit is darem baie snaaks om te sien hoe die mense in daardie dae aangetrek het – die retro-gevoel slaan sterk deur. Om nie eens te praat van die haarstyle nie!

Ek sal eerder na Abba luister as om na hulle te kyk, en daar is so baie ander DVD’s beskikbaar dat ek twee keer sal dink voor ek my geld hierop uitgee. Maar vir die ware Abba-fanatikus is dié DVD onmisbaar. Die res van ons kan dit maar eerder kyk wanneer ons by vriende kuier wat dit gekoop het as wat ons self ons swaarverdiende geld daarop blaas.