Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Kersfees 2006


Sebastiaan Nouwen - 2007-05-09

Hy is twintig. Pas tweedejaar. Sy uitslae het sowat ’n week gelede uitgekom. Hy sê hy sien nie kans vir Kersfees nie. Nie vir hierdie Kersfees nie.

Hulle familie vier al vandat hy kan onthou Kersfees op dieselfde manier. Die hele familie kom Oukersaand van heinde en verre bymekaar. Hulle eet saam en dan word daar geskenke gegee.

Dit was tot verlede jaar nog altyd vir hom ’n opwindende ervaring. Vanjaar kan dit vir hom, sê hy, net ’n nagmerrie wees. Die ete en die geskenke was darem nog altyd iets om na uit te sien. Hy voel asof hy nou verby dit beweeg het.

Hy is die oudste van al die neefs en niggies. Almal se held. Die neefs en niggies het hom nog altyd bewonder by sulke familiegeleenthede.

Sy stem het eerste gebreek. Hy het eerste geskeer. So was hy die eerste van baie ander eerstes. Die grootmense is ewe trots op die jongeling met sy goeie geaardheid en maniere. Vir Pa en Ma, ’n trots. Ouma kan skaars haar bevooroordeeldheid teenoor hierdie oudste kleinkind, erfgenaam van al die kosbare familieskatte en voortplanter van die familienaam, wegsteek.

Op Kersdag kom almal weer bymekaar – van na die Kersdiens tot die middag so vyfuur, wanneer die familie wat van ver kom, weer die pad huiswaarts aandurf.

Dit is ’n geseënde familie. Daar is nie "issues" tussen hulle nie. Hulle geniet dit om jaarliks so bymekaar te wees. Niemand in die familie voel ingeloop deur ’n ander een nie. Selfs as dit Kersdag jolig word en die tonge begin losraak, dan val daar selde ’n skuins woord.

Hierdie Kersfees is hy stiller. So half vreemd vir van die neefs en niggies. Almal swerm nou nie meer rondom hom saam nie. Van die ouer niggies het hulle eie vriende saamgebring. Hy sien die kleiner neefs en niggies is half geïrriteerd met hom – dink seker hy gedra hom nou soos ’n grootmens. As daar van die grootmense is wat die stilheid in hom opmerk, dan sê niemand ’n woord nie. Van hulle probeer hom betrek by hulle geselskap, maar dit laat hom ongemaklik voel. Wat hy eintlik wil doen, is om in sy kamer te gaan lê, sy deur te sluit en alleen te wees.

Hy voel by tye baie selfbewus oor die stilte in hom, want hy dink almal sien dit raak. Dit is die soort stilte wat ’n mens in ’n oorvol stoomkamer by die gym ervaar. Baie mense, maar tog voel jy so stoksielalleen.

Dié soort stilte het ’n pyn.

Hy sien die stilte het tant Marie, wie se man vroeg in Januarie dood is, ook beet. Sy lag en gesels, maar dit is asof sy in stilte iets koester.

Hy het vanjaar vier geskenke gekoop. Soos die vorige jare het hy vir sy pa, sy ma en sy kleinboet iets gekoop.

Die vierde geskenk was vir die dominee. Daarmee het hy die meeste gesukkel. Hy het lank daarna gesoek, maar hy sê daaroor was hy die mees opgewonde. Die geskenk het hy Oukersdagmiddag, voordat die familiegedoente begin, gaan afgee. Terwyl hy na die dominee toe ry, wonder hy hoe dit gebeur het dat die dominee hierdie jaar sy vertroueling geword het. Amper soos sy pa en ma geword het, met wie hy klein dingetjies kon deel. Soos die eerste afspraak wat hy gemaak het. Hoe bang hy was. Laataand het hy vir die dominee ge-SMS hoe great dit was. Dié soort van goed het hy voorheen met sy ouers op hulle dubbelbed gedeel. Om die waarheid te sê, hulle was nog altyd ’n close gesin. Nou is daar net ’n voelbare stilte tussen hulle. Soos wanneer ‘n skande ’n gesin tref. Niemand praat nie, maar almal weet die ander loop en wonder daaroor.

Hy merk op dat sy ouers ook effens stiller is. Veral sy joviale ma. As ’n geselskap begin sluk soos wanneer ’n motor se petrol opraak, gee sy dit gewoonlik die nodige woema om onverpoos voort te gaan. Hy weet nie of die ander familie dit opmerk nie, maar haar opinie oor alles waaroor gesels word, is vanjaar baie meer gereserveerd as gewoonlik.

Miskien verbeel hy hom, maar dit lyk asof die frons op sy pa se voorkop effens dieper is. Hy bly nog steeds die volmaakte gasheer, maar dit is asof daar by hom ’n stuk ernstigheid is wat hy nie ken nie. Op ’n stadium hoor hy sy pa se suster sê: “Verbeel ek my, of is daai oudste van jou bietjie stil?” Hy is dankbaar toe sy pa met die standaard cliché antwoord: “Ag jy weet mos die man is nou groot. Nie meer kind nie, maar ook nog nie grootmens nie.”

Kersdag is vir hom, soos hy verwag het, lank en uitmergelend. Deur die dag word al wat ’n saak is, aan die orde gestel. Daar is nooit ongemaklike stiltes nie. Daar word gepraat oor die regering, Zuma, kerkvereniging, Boesak, misdaad, homoseksualiteit, familiestories en dominees. Oor die meeste sake is almal dit vurig eens. Op ’n stadium raak hy bewus van hoe ontsettend eendersdenkend hierdie familie van hom is.

Hy verdryf die leegte binne hom deur oral te help en selfaangestelde kelner te speel. As hy alleen is in die kombuis, dan draai hy effens langer om die alleenheid in te drink. Snaaks, dink hy, dit is asof die alleen wees die stilte binne hom draagliker maak. Om in sy kamer bietjie te gaan skuiling soek, met ’n toe deur, sou as die toppunt van onbeskoftheid beskou word. Om langer in die toilet te vertoef, is meer aanvaarbaar. Ook net tot sy ma vra of daar met sy maag iets fout is.

Die stilte in hom neem hom op ver paaie. Sommige daarvan pervers. Meestal is sy gedagtes by sy mense – dié mense wat hy sedert Juniemaand leer ken het. Hy wonder waar elkeen van hulle vandag is. Hulle sê bloed is dikker as water. Vir hom voel dit nie hierdie Kersfees so nie. Die dominee het gesê dit mag dalk nog ’n klompie Kersfeeste vir hom so voel. Dit maak hom depressief om aan die vooruitsig te dink.

Hy dink aan ’n vriendin van hom wie se pa vroeër die jaar in hulle oprit geskiet is. Wonder of sy ook so leeg voel. So alleen tussen al die mense. Hy voel effens skuldig dat hy sy alleenheid met hare vergelyk. Hy het nie iemand aan die dood afgestaan nie. Sy het begin huil toe hy haar Kersoggend gebel het om Geseënde Kersfees te sê. Hy het niks van haar pa gesê nie – hy het so half stom gevoel. Dit is seker maar net dat sy in hom iets gehoor het van haar eie stilte.

Hy het ook nie oor die stil pyn in sy bors met haar gepraat nie.

Dit is nie dat hy hierdie Kersfees vir die eerste keer die kloppende stilte in hom gevoel het nie. Dit was al vorige kere ook so. Hoe ouer hy geword het, hoe meer het die stilte soos "die ongebore lam in die pens van die ooi" van Anna M Louw in hom geskop. Dit was ’n ewig skoppende, skoppende gevoel hier binne. Soos ’n kloppende hoofpyn – maar dit was ’n anderster seer. Hy het dit nie verstaan nie. Altans hy het nie die oorsprong daarvan verstaan nie. Om die waarheid te sê, hy wóú dit nie verstaan nie. Nou besef hy dat dit eintlik nie ’n kwessie van verstaan is nie, maar van vincit omnia veritas.

Dit was sy eerste Kersfees sedert hy vroeër vanjaar teenoor die dominee en sy ouers uit die kas geklim het.

Kersfees, sê hy, het vir hom reeds in Junie gekom.