Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Willie Knoetze: Uit die boks

Uit die boks: De la Rey?


Willie Knoetze - 2007-05-03

Nou toe kyk, selfs ek het nie gedink hierdie komper se toetsbord gaan ooit “Bok van Blerk” tik nie – maar daar het dit nou so pas. Dit het my so rukkie gevat om uit te werk – maar my deelname aan die sogenaamde “De la Rey-debat” is alles Pampoen se skuld (nie Steve se snit nie – die eetplek in Mosselbaai). Dis daar waar ek en my ouers die eerste keer die liedjie gehoor het. Wel, ten minste my ouers; ek weet nie wanneer ek die liedjie gehoor het nie. Vermoed ek het die wysie vantevore iewers gehoor.

In elk geval – daai aand was my ouers se kys-herdenking, en ons drie het gaan uiteet om dit te vier. Die Pampoen-plekkie is nogal baie oulik en ons het lekker aan die boerekos gesmul (wie sien die liggie?). So tussendeur die gesels, onthou en kou deur, kom ons agter dat die Afrikaanse musiek wat speel, ook nogal lekker is. Die stemme was nou wel onbekend, maar hulle was vars en die wysies nogal aansteeklik. Ons gesprek draai toe in die rigting van Afrikaanse musiek uit my ouers se studentedae (Johan Stemmet dra al jare lank sy byderwetse onderbaadjies). En net daar, in die middel van ’n hap boontjies, vang ’n refrein ons ore: “De la Rey, De la Rey ...” My pa se ore het skoon spits gestaan: “Dis nou ’n aangename verrassing! Weet die kinders nog van De la Rey?” As die enigste lid van die “kinders” aan tafel, grou ek toe diep in my liasseerkabinet, op soek na die hoërskool-Geskiedenis hokkie. “Was hy nie die generaal wat guerrilla-oorlogvoering uitgedink het nie?”

Tot my verbasing was ek in die kol – maar ek het duidelik nie alles geweet nie. Generaal Koos de la Rey was aanvanklik teen die oorlog en was die laaste ou wat sy roer opgetel het teen die Britte. Die man was glo geniaal, wat die Engelse ernstig omgekrap het – al was hy baie genadig met sy krygsgevangenes. Toe die tyd vir vrede kom, was hy van instrumentele belang by die onderhandelinge in Vereeniging. Later het hy ook dwars getrek in die politiek. Volgens hom moes almal in vrede saamleef – en met "almal" vermoed ek het hy bruin en swart mense ingesluit (Senator Koos De la Rey het juis nie langs dieselfde kampvuur as Kruger of Hertzog gesit nie.)

Ek het die volgende dag vir my pa die CD gaan soek. Dit was so cool dat hy ’n nuwe Afrikaanse kunstenaar se musiek so kon geniet. By die musiekwinkel vind ek toe uit die kunstenaar is ene Bok van Blerk. Bietjie eienaardig, het ek gedink, maar funky op ’n Kombuis/Kerkorrel-manier. Die omslag het my bietjie laat dink aan Valiant Swart – seker iets te doen gehad met die wildebeeskop. My waarskuwingsliggie het egter geflikker toe die meisie agter die toonbank my verbaas aangaap toe ek wou betaal. Was die nuwe highlights bietjie “te”? Snaaks hoeveel mens die haarkapper toelaat as hy vir jou wyn aandra. Na ’n blitsige inspeksie van my klere, skoene en slingersak neem ek toe aan dis seker omdat Nataniël ook in my hand is. (Ek bedoel die CD. As ek hand aan hand met Nataniël kon loop, sou ek sekerlik eers geskeer het.)

“Hou jy van Bok van Blerk?!” Ek het bietjie gefrons en gesê dat ek van baie Afrikaanse musiek hou: Amanda Strydom, Koos Kombuis, Koos Doep en Fokofpolisiekar inkluis. Dis sekerlik nie so snaaks om Nataniël en Bok te wil koop nie? “Maar jy’s ... jy’s dan gay!” My ma het gesê die highlights lyk mooi en ek flap net ernstig as ek bietjie tipsy is. “Ek het jou al by die klub gesien.”

Stomgeslaan druk ek toe die geld in haar hand en vra vir die Rammstein-DVD daarby. As dit brommertyd was, was haar mangels oortrek van die goed.

Terug by die huis was my pa aangenaam verras met die geskenkie. Die CD was so-so. Ons het lekker gelag vir die dronkmansliedjies en gaan eet. Bok is in die rakkie langs Stef Bos gesit en het nog nie weer geroer nie. Niks kry Juanita Claasen uit my pa se bakkie nie.

Wie weet hoe lank daarna kom ek op Koos Kombuis se stuk oor Bok en die De la Rey-liedjie af. Tot op daardie stadium was ek nog nie bewus van al die bohaai nie. Ek het geweet daar is ’n miniseminaar op LitNet, maar tot my pa Saterdagoggend my opinie gevra het, het ek gedink dis onbenullig. “Die liedjie sokkie lekker.”

“Gaan oop Sesam!” Die brommermangelkind se verbasing maak skielik sin toe ek hoor van die Vierkleur-aanhangers. Ek kan my ook nie indink hoe ons by die gayparty skoffel op "De la Rey", met die ou landsvlag teen die mure, nie.

Die artikel in my ma se Encyclopedia Africana (Huisgenoot) het my verder ontstem. Wat de hel is aan die gang? Politiek en rassepolemiek? Versugting na ’n meer militante leefstyl? Gits vrou! En toe verbied hulle (nou wel nie suksesvol of vir lank nie) die snit by Loftus. Nee wag ’n bietjie manne, hokaai. Kom praat nou met oom. Wat jeuk so?

Waar is die antiregeringsboodskap wat julle so oor aangaan? Die man het teen die Britse magte geveg nog voor ons ’n Unie was. Dit was nou wel die Anglo-Boereoorlog – maar dit was nie net die sogenaamde “Boere” wat deel gehad het aan die stryd nie.

(So gepraat – wie is die “Boere”? Ek weet al twee my oupas was boere voor hulle afgetree het. Hulle het onder andere met pluimvee, Afrikaners (!?) en Brahmane geboer. My ouers het egter nooit geboer nie – en ek ook nie. Noudat ek daaraan dink – niemand in my familie boer meer nie. Maar ek sweer die Stellenbosch-ouens (wat oa BCom studeer) glo hulle is Boere – en van hulle was nog nooit op ’n plaas nie! In ieder geval, terug na die oorspronklike draad.)

Sover ek kan agterkom, was daar mense van elke beskikbare ras en kultuur betrokke aan beide kante (tien teen een 48 susters ook). Dit was ook nie net die tannies met die kappies wat in die veld moes wegkruip vir die Kakies nie. Die koning se magte het nie onderskei tussen ras en kultuur nie.

Die soeke na nuwe rolmodelle en geloofwaardige leiers kan ek verstaan – maar die kaliber mense wie ek sou navolg, is nie beïndruk met die volkstaatmentaliteit nie. Al het van ons pienkes ook al sulke idees gehad. So byvoorbeeld het ’n afvaardiging destyds by die Equality Project aangeklop met planne vir ’n gaydorp ... met ’n hartvormige poort in onse kleure en al. Verbeel jou nou dit – ’n gayrepubliek! Ek dog dan dis Houtbaai?

Nee wat, nooiens en kêrels, as ons op soek is na hoop, rigting en ’n plek in die samelewing moet ons dit hier doen. Vandag. In die plekke en situasies waarin ons is en die posisies wat ons beklee. Die dae van gewelddadige vlae hys en tien dae te perd van jou huis af woede stook, is verby – al lankal.

As Bok se liedjie jou patrioties laat voel – mooi so. Jy’s ’n mens met ’n binneste wat nog geroer kan word. Onthou net – patriotisme is nie om jouself in die Vierkleur toe te wikkel en hand op die bors te tjank oor die Ou Transvaal nie. Laat staan nog magtige dreunings of wyle eerwaarde Malan se nalatenskap. Pas ook op om nie voor ’n bus in te hol nie. Nee, patriotisme is om saam te werk en te strewe na ’n beter land en samelewing vir jouself en jou medemens.

Ek self hou van die De la Rey-liedjie – dis ’n lekker sokkietreffer en dit voel goed om ’n held uit die geskiedenis te kan hê wat nie as ’n monster ontmasker is nie. Van die vorige landsvlag hou ek niks. Dis immers in die tyd toe daai lap orals gepronk het dat ook ek vervolg en onderdruk gevoel het. Onder daai vlag is ek en mense soos ek verneder, vervolg, gebrandmerk en selfs vermoor (ek gaan nie weer ingaan op die ou wetgewing en vervolgingsgebruike met betrekking tot homoseksuele persone nie).

Ons moenie aanhou teem oor die verlede nie. Maar dan kan ons ook nie terug verlang daarna nie. As mens met ’n swastikavlag by konserte in Berlyn wil pronk, moet mens gereed wees vir alle hel om los te breek. Dieselfde geld hier in Suid Afrika.

So dink mooi voor jy antwoord op ’n roepstem, sit neer wat pla en kyk vorentoe.

Ah-mahn-dla, girlfriend!