Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Rubrieke | Columns > Afrikaans > KritNet

Oorweldigende Pynchon


Paul Cilliers - 2007-05-02

Against the Day
Thomas Pynchon
Jonathan Cape 2006
ISBN97 80224080958
1085 pp
Klik hier om hierdie boek by Exclusive Books te koop.



Laat ek my kaarte dadelik op die tafel sit: ek is ’n Pynchon fan. Ek het al sy goed gelees. Ek onthou hoe ek mateloos beïndruk was deur V toe ek dit in die vroeë tagtigs gelees het. Dit was snaaks en ernstig met ’n reikwydte wat my asem weggeslaan het. Daarna het ek vir maande gesukkel om Gravity’s Rainbow in die hande te kry, aangesien dit op daardie stadium nog in Suid-Afrika verban was. Pynchon se voorlaaste roman, oor twee landmeters, Mason and Dixon, was besonder harde werk om te lees. Binne die konteks van die afmeet van die sogenaamde “Mason and Dixon line” – wat die grens tussen die noordelike en suidelike state van die VSA moes bepaal – is die boek ’n uitgebreide refleksie oor die vestiging van verligtingsdenke. Die argaïese styl waarin dit geskryf is, het dinge nie makliker gemaak nie, maar geen oomblik van al die tyd wat mens daarin moes investeer, was gemors nie. Sonder twyfel een van die boeke heel bo-aan my lys. En nou het ons, amper ’n dekade later, Against the Day.

Against the Day is ’n magtige boek. Met meer as ’n duisend fyngedrukte bladsye is dit nie alleen ’n dik boek nie, die inhoud is ook astronomies in omvang. Dit speel af in die eerste paar dekades van die twintigste eeu, grotendeels in die jare wat die Eerste Wêreldoorlog voorafgaan. Om presies te wees, dit begin met die groot wêreldtentoonstelling in Chicago in 1893 en eindig net na die oorlog. Dit speel af in die VSA, Europa (veral in die universiteitsdorpe Cambridge en Göttingen), Noord-Afrika, die Midde-Ooste, Rusland, Mongolië, die Arktiese See en Meksiko, asook op allerhande onmoontlike plekke soos binne-in die aarde. Hoewel dit aan die een kant onmiskenbaar handel oor gebeure op ons eie planeet, bevat dit ook ’n groot deel fantasie en ’n verbeelde aarde eerder as die werklike een, en geen bewuste onderskeid word tussen die twee gemaak nie.

Net soos dit moeilik is om te bepaal waar dit afspeel, is dit ook moeilik om te bepaal in welke styl die boek geskryf is. Dit lees op plekke soos ’n avontuurverhaal vir tiener- seuns en op ander soos iets uit William Burroughs. Dit is op plekke vergesog en snaaks, (amper “slapstick”) en op ander weer ernstig en polities betrokke. Sommige hoofkarakters is plat en karikatuuragtig terwyl ander in diepte en detail ontwikkel word. Pynchon glip naatloos van die een styl na die ander sodat mens nooit weet wanneer hy speel en wanneer hy ernstig is nie. Hoewel daar meestal ’n soort ironiese afstand is, is daar ook oomblikke van opregte intimiteit en teerheid.

Waaroor, en oor wie, die boek gaan, is net so moeilik om vas te pen. Daar is ’n stortvloed van karakters. Vir die eerste twee honderd bladsye probeer mens net tred hou met wie is wie (miskien die rede hoekom dit soms soos Burroughs lees) en nege honderd bladsye die boek in word ons steeds aan belangrike nuwe karakters voorgestel. Daar is dosyne storielyne, waarvan sommige met mekaar verband hou en ander na ’n ruk sonder enige duidelike rede sonder resolusie in die lug bly hang.

Hoe moeilik dit ook al is, ’n bespreking van die boek moet seker meer sê as net dat dit oorweldigend van omvang is. In die eerste plek moet mens miskien hierdie oordadigheid toegee. Dit is ’n totaal ander soort boek as Travels in the Scriptorium van Paul Auster, waaroor ek dit in ’n vorige bespreking gehad het. Waar die Auster miskien soos ’n perfekte stukkie Japannese fynkos is, is die Pynchon soos ’n oorlopende skottel pasta met ’n komplekse en ryk sous. Beide romans is onmiskenbaar postmodern, maar waar Auster die logika van die roman op ’n yl metavlak ondersoek, gee Pynchon vir ons ’n roman wat al die buitensporigheid en oorvloed bevat wat in ’n roman moontlik is. Teenoor Auster se koue refleksie probeer Pynchon ons volstop met narratief totdat ons daarvan wil bars. Mens kan ’n soortgelyke vergelyking tref tussen die twee groot komponiste van die laat-romantiek, Sibelius en Mahler. Waar Sibelius op ’n kouer Skandinawiese manier die innerlike essensie van emosie probeer konsentreer, gee Mahler vir ons emosie in al sy volheid en kontradiksies in emmers. Hy gebruik alles waarop hy sy hande kan lê om dit te doen: ’n magtige orkes, ’n massiewe koor en elke ding wat ’n geluid kan maak, van ’n poshoring tot ’n koeiklok. Wat mens nie uit die oog moet verloor nie, is dat Sibelius en Mahler albei ongeëwenaarde meesters was.

Sodra mens Pynchon sy oordadigheid toegee, is dit makliker om ’n geskikte leesstrategie vir sy boek te vind. Mens hoef nie die boek te probeer beheer nie, mens kan jou bloot oorgee aan sy rykheid. Indien mens op die oppervlak van die boek bly, is dit ook nie ’n moeilike boek om te lees nie. Pynchon se verbeelding is eindeloos: ’n gemeenskap van geheime agente (die “Chums of Chance”) in waterstofballonne wat avontuurtogte onderneem dwarsoor, selfs dwarsdeur, die aarde; duikbote wat onder die oppervlak van die woestyn in die sand kan vaar; ’n universiteit wat spesialiseer in die reis oor tyd (daar is ’n wonderlike beeld van ’n ashoop van ou en stukkende tydmasjiene); avontuurtogte oor hele kontinente; politieke en sosiale intrige in Venesië; ’n tonnel wat deur die Alpe gegrawe word; verslawing aan dinamiet; vreesaanjaende goggas uit William Burroughs; ‘n geheimsinnige meteoriet, miskien uit Peter Hoeg se Miss Smilla … die lys kan vir bladsye aanhou.

Ek dink ook dat dit moontlik is om iets te sê oor waaroor die boek gaan. Die verhaal kan mens – as ’n soort reduksie van die kompleksiteit van die roman – beskryf as die wedervaringe van die seuns van Webb Traverse, ’n myner wat weerstand bied teen sy kapitalistiese base en dan deur hulle vermoor word. Sy drie seuns is verstrooi oor die wêreld en probeer elkeen op sy manier iets doen aan die ongeregtigheid van hulle pa se dood. Die roman stel op hierdie manier deurgaans ’n spanning tussen die groot magte van wetenskap en kapitaal (wat hulleself aan mekaar verbind om hulle mag te konsolideer) en die benarde toestand van gewone mense wat daaraan uitgelewer is. Die boek is egter geen politieke traktaat nie. Die subversiewe aard van die boek verskyn algaande – is ’n soort “emergent property”, om weer van kompleksiteitstaal gebruik te maak – soos wat die verskillende storielyne ontwikkel en met mekaar verweef raak. Dit is asof Pynchon wil voorgee dat daar ’n ander storie moontlik moet wees as die een waarin ons uitgelewer is aan die kragte van geld en politieke magsug, kragte wat alles rondom hulle korrupteer. (Hoewel die Eerste Wêreldoorlog self net ’n bladsy of drie van die meer as duisend beslaan, hang die aanleiding daartoe soos ’n giftige wolk oor die hele boek.) Hierdie alternatiewe storie is nie die storie van belangrike mense nie, maar het te doen met ’n kreatiewe en alternatiewe soort lewe wat sigself nie laat inbind deur die bourgeois middelklas nie.

So ’n lees van die boek help mens miskien om iets oor die titel daarvan te sê. Dit lyk asof die dag geassosieer word met die koue werklikheid en helder, meedoënlose rasionaliteit. Subversiewe dinge gebeur in die nag – nie alleen ’n soort anargistiese politieke subversiwiteit nie (anargisme is terloops ’n sterk tema van die boek), maar ook die subversiwiteit van mense se liggaamlikheid. Dit is in die nag wat mens jou oorgee aan ’n meer impulsiewe oordadigheid. Hoewel veral die seksuele oordadigheid nie naastenby van dieselfde orde is as in Gravity’s Rainbow nie, is Against the Day die boek wat die naaste kom aan Pynchon se vroeëre meesterwerk.

Moet mens op die ou end ’n evaluerende uitspraak oor Against the Day maak. In ’n sekere sin is daar soveel boeke in hierdie boek dat mens eintlik ’n klomp verskillende uitsprake sal moet maak. As ek my eie kop op ’n blok moet sit, sal ek op hierdie tydstip miskien die volgende sê: ek was nooit verveeld terwyl ek gelees het nie, maar het op kolle gewonder of ’n bietjie sny hier en daar nie die boek sou verbeter nie (baie mense voel dieselfde oor Mahler se simfonieë). Die boek lees makliker as Mason en Dixon, maar is steeds nie heeltemal ’n “pageturner” nie. Die ironiese styl bewerkstellig ’n afstand tussen die leser en die karakters, maar dit was nog altyd deel van Pynchon se werk. Die oomblikke waarin hy hierdie afstand vernou, besit ’n soort teerheid wat mens laat vra vir meer daarvan, maar daarvoor is hy te versigtig om nie op ’n goedkoop manier sentimenteel te wees nie. Wat mens ook al verder oor Against the Day kan sê, sal geen afbreuk doen aan die feit dat dit ’n fenomenale boek is nie.



Resensie moontlik gemaak deur Exclusive Books