Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Woorde wat (nog) nie in die woordeboek is nie


Fanus Rautenbach - 2007-04-12

Ek kry heelwat navrae van lesers wat die vertaling van Engelse woorde in Afrikaans soek; of lesers wat wil weet: Wat beteken dié woord en waar kom dit vandaan?

Amore Bekker, wat saam met my die oggend van 3 Maart 2007 oor RSG uitgesaai het, vra of ek saam met haar op 31 Augustus 2007 op Bredasdorp se Fees sal optree, en as ek wil, of ek vir haar ’n kiekie sal stuur.

“’n Tiekie?” vra ek.

Sy lag haar lekker-bekker-lag. “Nie 'n tiekie nie, ’n kiekie van jouself.”

“O, ek dag jy wil my bel! Ja, ek sal, maar eers moet jy my sê waar die woord kiekie vandaan kom.”

“Sê jy maar?”

“My predikant, ds Ben Kotze, sê: “’n Kiekie is ’n kleinerige foto wat gewoonlik deur ’n amateurfotograaf geneem is … met die ou Brownie … Dit is vernoem na die Leidse Joodse fotograaf Israel Kiek, wat veral studentefoto’s geneem het. Kiekie is na hom vernoem, nie Brownie nie!”

“En tiekie? Waar kom dié woord vandaan?”

"Lyk my die naaste ene aan reg is hierdie een: dit is die kleinste muntstuk wat voor Daan Desimaal in 1961 in gebruik was. 'Daan Desimaal' is die liedjie wat gesing is om Suid-Afrikaners bewus te maak van die desimale stelsel:

Daan Desimaal, die rand-sentman
verander die pond in rand net waar hy kan!

"Of so iets …

"Voor 1961 is drie pennies ’n tiekie genoem … ’n dwergie, ’n piekie.

"In die Nguni-tale, byvoorbeeld Xhosa, is die klein muntstukkie icici genoem, ’n oorring. Dink hier ook aan ons nuwe woord vir selfoon: oorbel. Dit kos mos ’n tiekie om te bel! Woorde is soos wors! Want ’n telefoonhokkie is voor 1961 ’n tiekieboks genoem.

"’n Ander teorie is dat arbeiders in Kaapland ’n tiekie per dag betaal is. Ook moes die passasiers ’n tiekie vir ’n treinreis betaal. In dié geval kom tiekie moontlik van ticket af.

"En ’n baie klein varkie is ’n 'tickey pig' genoem."

“Nou wat nou van tiekie-aand en tiekiedraai?”

Tiekie-aand was ’n soort kerkbasaar, waar die meeste eetgoedjies, pannekoek en koffie … jellie en vla … fudge (wat is dit in Afrikaans?) verkoop is …"

Fudge? Antoinette van Niekerk noem dit soetmalsies. Hester Viljee van Durbanville sê hulle het gepraat van botterblokkies.

Intussen vonk Prettige Pieter my: "SMS is Engels, en dit is ’n blitsige berig. Wat van BB vir SMS?”

Ja, Pieter, dan het ek weer gedink as e-mail vonkpos is, dan moet die ander ene, SMS, mos sterpos wees? Afkorting: SP vir Sterpos.

Danie van Heerden van Mossieboud-volstruisplaas, vra: "’n Woord wat my nog altyd gekielie het, is kierie. Wat is sy geskiedenis?”

Kierang, van kurang,kom heel waarskynlik van die Maleise woord tjoerang – "bedrieg, bedrog".

Maar kielie? Moenie vra nie!

Oortjie: Voor 1961 se "Daan Desimaal" was daar ’n kwartpennie … Dit is om dieselfde rede as een van die redes hier bo vir tiekie,’n oortjie genoem: as ’n Xhosa nie ’n tiekie kon bekostig nie, het hy ’n kwartpennie in sy oor gesit – ’n oortjie, dus.

’n Halfpennie is ’n stuiwer genoem. Vanwaar stuiwer – en ook bokstert?

En aapstert is om pak te kry. Maar ’n aapstert is ook bekend as ’n bobbejaansleutel.

Aapstert: ook ons eie benaming vir die @ in ’n vonkposadres. My adres is fanus/aapstert/isales.co.za, of dan fanus@isales.co.za.

Bok: Ek soek al weke lank na die bok by die slagpale, die een met die klok om sy nek, wat die bokke ter slagting lei. Seun Frans vra of dit nie Jake White is nie … Baie slim, maar g’n sigaar nie.

Pieta van Plumstead hou vol dit is die voorbok, maar ’n voorbok is die belhamel op die partytjie, of by die kwaaddoen, of in die skool. ’n Offerbok is die bok wat Abraham vir Isak geoffer het.

Nou wat is dit dan?

Vreemd dat ek dit nie onthou het nie, want ek het skoolvakansies by die slagpale gewerk. Toe vra ek my drie tafelgenote in Arkadia-Oudehof en Nora antwoord dadelik: "Judas-bok!”

Boksemdaais, soos in: “Hy kom toe daar aan met sy hele boksemdaais …" Uit Engels box and dice: dosie met dobbelsteentjies … die hele spul (speletjie?).

Stokkiesdraai: WAT reken dit kom uit Nederlands stokjes draaien (1847). En dit kom op sy beurt heel waarskynlik van pijpies draaien … van die skool af wegbly en skelm rook. Maar ek het ’n mooier ene: in Amerika het die boere hulle seunskinders in die somer by die huis gehou om op die plaas te werk. Toe verleng hulle die somervakansies. In Suid-Afrika is die seuns uit die skool gehou om te help met die draai van die stokkies vir die aanplant van die wingerde. Dus: “Stefaans, waar was jy gister?” “My pa gehelp stokkies draai, Meneer!”

En ons moenie kindertaal vergeet nie. Ingrid Jordaan vertel van haar broer se vierjarige Ané se woordeskat …

Bombeltjie: Daardie ding wat mens in die lug sien vlieg en wat elke keer wegvlieg as jy vir hom probeer kyk (amper soos ’n moesie). En moesie? Kom uit die Frans moescha: skoonheidspleistertjie, vlekkie. En uit Latyn uit, musca:vlieg!

Sprikkeltjies: Brusselse spruitjies (spruitkool).

Wippel: Wat jou oog doen as die spiertjies spring.

Komnimzamma: Die naam van haar jongste dansskepping.

Ja, net vier jaartjies oud!

Miskien moet Umfaanus op ’n keer oor kindersêgoeters gesels …

Klein Corné, drie jaar oud, noem die groot hyskrane by nuwe geboue opligters. Toe sy oupa, Piet Coetzer, ’n nuwe lamp in die badkamer sit, help hy kastig. Eers dog hy Oupa gaan net ’n gloeilamp inskroef, maar sy Oupa sit toe ook ’n lampskerm aan. “Oupa het nog iets ingesit … ’n lighawe!"