Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Van testosteroon, adrenalien en bevogtiger


Erik Dopper - 2007-04-04


Het mos toe nou onlangs besluit die fiksheid begin maar taan, so miskien is dit goed om weer te begin oefen.
 
Nou dis snaaks hoe dinge in plek val as jy jou half in ’n spesifieke rigting begin wend. Dié dat ek kort voor lank in ’n gayspan begin rugby speel. Ek is nog steeds half verstom dat so iets werklik bestaan en dat dit nie net op Will & Grace gebeur nie.
 
Maar nouja, so begin ons toe mos oefen. Nou geen gay man kan anders as om my gelyk te gee dat mens so deur die testosteroon en die adrenalien wat pomp, nou nie juis so effe rondkyk en die talent om jou raaksien nie. Dis nie net vrouens wat kan multitask nie. Ek meen: daar’s baie tegniek betrokke om in die gym te fokus op jou oefenroetine, én die lywe uit te kyk, én die perfekte kapsel in plek te hou – en dit alles terwyl jy jou beste gee om goed te lyk in die Puma doelgemaakte uitrusting.
 
Maar dis nou van die punt af, nie waar nie?
 
Merk ek mos toe die mooi man by my eerste wedstryd op. Omtrent my hoogte, effe donkerder van gelaat, met pragtige oë en die mooiste, mooiste glimlag. In die weke wat volg, is daar seksuele innuendo dat die byle huil. So half ‘n verbale geterg, wat tog so lekker is. Die probleem, natuurlik, met hierdie Skerpioen is dat dit vir my ’n uitmergelende hel is om onseker te wees oor goed – nie dat ek ooit die bravado aan die dag sal lê om die eerste stap te neem nie. Daarvoor is ek tog gans en al te bang.
 
Met dit in gedagte is dit ook ’n feit dat brandewyn niemand voortrek nie, en so gebeur dit dat ons toe op ’n onlangse sosiale funksie na afloop van ’n wedstryd so half mooitjies in mekaar se geselskap vasgevang is.
 
Maar kom ons gee eers ’n paar treetjies terug in die verlede, net om die prentjie bietjie beter in te kleur. Vroeër die aand loop ons so na die klubhuis toe en praat oor alles en nog wat. “So, is daar iemand spesiaal in jou lewe?” vra hy, so ’n absolute weggee-vraag, en ek laat beslis nie op my wag nie.
 
“Ja, maar die gevoel is nie van beide kante nie,” antwoord ek. Waar die fok hierdie stupid sin vandaan gekom het, weet ek nie, want dit het heeltemal die hele kognitiewe proses omseil.
 
“O,” is al wat ek as terugvoer kry.
 
O. Daai woord hang nou nog in my gedagtes soos ’n druppende mes; hy het presies geweet op daardie oomblik waarvan ek praat – nie amper of naastenby nie, presies.
 
Nou sit ons vir mekaar by die social en kyk, ek met ’n bek vol tande, ‘n hart vol adolessente liefde en opgewondenheid, en drank in my are. Immer tog die bestanddele van ’n fokapie van epiese proporsie, maar omdraai is nou nie ’n opsie nie. Ek deel nie my emosies nie, juis seker daaroor wat iemand my nou die dag in die openbaar, sommer so oor ’n G&T uitkryt as "… een van die mees arrogante klein kakke wat hy nog teëgekom het". Bid jou aan, dink ek toe.
 
In ieder geval, hier stort ek my emosies uit soos ’n tienermeisie met ’n matriekafskeid en ’n gebrek aan ‘n metgesel. Wat daarop gevolg het, het ek glad nie verwag nie. As jy hierdie storie lees en ’n lessie hieruit wil neem, as iemand op hierdie wyse ‘n aap van homself maak, en jy nie belangstel nie, om dit so kort en kragtig as moontlik te maak: hier kry ek toe ’n Freud-sessie waarin meneer na homself in die derde persoon verwys en ek toenemend soos ’n raap begin voel omdat hy juis my vroeëre vrese onderstreep, en dat daar iemand anders in die span is wat hy eerder beter sou wou leer ken.
 
Ek wens ek kon my woorde insluk, amper ont-sê wat reeds gesê is, maar my kak is nou my kak. Ek vermy vir die res van die aand vir knaap soos mens kasterolie sou vermy, maar daai tos skaam gevoel en die gevolglike woede wel op soos Viagra nooit eers kan droom om te help doen nie. Dié dat ek toe maar almal groet, ’n soentjie hier (’n baie Pretoria-ding) en ’n drukkie daar, maar die uwe kry net ’n baie sindelike totsiens.
 
Woerts vlieg dit op en vra omhelsing en nou word ek aangespreek as “my vriend”.
 
Na ek in ’n rekordtyd by die huis aankom (shame, ek kry my VW al so jammer; sy ontsê dit ook maar immer as ek die hel in word), gebeur dit toe. Gefrustreerd, teleurgesteld en kwaad sit ek my vuis netjies in die rousteenmuur – twee keer om presies te wees. Help ’n bietjie vir die oomblik, en so tussen die cocktail van emosie en alkohol plons ek op my bed en is dadelik omtrent in ’n besluimering.
 
Die volgende oggend skrik ek wakker en kyk na die pienk rou ou kneukels en so in die absolute afwesigheid van emosie (geen teleurstelling, geen woede, net hierdie lam doodsheid) dink ek net by myself: jou poephol, en dit vir presies wat?
 
Somtyds wil ek nie meer hierdie game speel nie, want dit maak seer, maar nouja, wat is die alternatief? “No man is an island”, maar fokkit, kan ons mekaar net ophou gooi met kokosneute.
 
sela