Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Lili Marlene


Coenie Kukkuk - 2007-04-04

Skuins voor middagete loer Liesl by my deur in. Aan haar gesig kan ek sien sy wil weer iets hê.

 
“Wat?” vra ek ongeduldig, en kyk af na my rekenaar.
 
“Kom ek stick jou vir lunch. Wag, ek weet jy dieet of iets, maar waar ek jou wil vat, maak hulle die beste vegetarian pizzas denkbaar.”
 
Sy bly stil en kyk af en ek weet hier kom dit.
 
“Asseblief, Steven. Ek wil nie alleen gaan nie – dis nie werk nie, dis net ’n vriendin en ek het nie vandag alleen krag vir haar nie. En sy is eintlik heel ok. Asseblief.”
 
Haar pleitende bruin oë kan niemand weerstaan nie en ek gee in.
 
“Nou maar goed, op voorwaarde dat jy praat en ek eet. En jy help my met die reëlings vir die kantoorfunksie volgende week.”
 
Op pad is sy stil in die kar. Nie haarself nie.
 
“Watse heks gaan saam met ons eet dat jy so stil hier sit?” vra ek tergend.
 
“Nee, Steven, sy is net deur ‘n baie moeilike tyd en ek ondersteun haar. Ons … ons drie … ek en sy, ag … ons is al jare vriende, van universiteit af.”
 
Sy sug.
 
“Ek en die tweeling was soos die drie musketiers op varsity. Sonja en Marius was identies. En onafskeidbaar. Selfs colour-coded aangetrek. Daar was iets tussen my en Marius, maar dit het nooit ver gekom nie, Sonja was altyd by. Maar ek en hy het geweet ons was meer as vriende.”
 
Die verkeer is druk en sy gaan na ’n stilte aan.
 
“Na varsity het hulle albei hulle klerkskap gaan doen – by dieselfde groot praktyk in die stad – en ek is oorsee. Ons het kontak behou, maar mens dryf maar tog uitmekaar. Toe ek terugkom, was ons ’n paar keer saam uit, en dit was soos die ou dae, maar steeds hulle twee saam. Ek was nooit alleen saam met Marius nie. En toe gebeur die ongeluk.”
 
Die verkeer laat my toe om vinnig weg te kyk, want ek sien die trane lê vlak in Liesl se oë.
 
“Dit was ’n wonderwerk dat iemand lewend uit die wrak gekom het. Sy – Sonja – het my hulp nou nodig. En ek hare. Dis nou al langer as ’n jaar. Sy … verwerk dit op haar manier, ek op myne. Marius is nie eintlik … dood vir my nie … en nou gaan ek en Sonja een keer ’n maand lunch. Net dit. Die ou dae is verby.”
 
Ek sien dat ek Liesl nou moet los. Sy sal vertel wat nodig is en niks meer nie. So ken ek haar. Moet ook nie druk nie, dan slaan sy toe.
 
Ons wag by die restaurant vir ons gas en ek staar na die menu sonder om eintlik te lees wat daar staan.
 
As Liesl skielik opstaan, kyk ek op. ’n Modieuse jong vrou kom aangesweef na ons toe. Lank, elegant en met net die regte hoeveelheid grimering aan. Haar parfuum dartel verby my. Die ligte serp om haar nek wapper agter haar aan.
 
“Liesl! Kan nie glo nog ’n maand is verby nie!”
 
Sy soen in die lug na haar en draai met haar uitgestrekte hand na my.
 
“Sonja Verwey. Aangenaam!”
 
Ek groet half skaam; sy is taamlik oorweldigend. Die stem laat my dink aan Marlene Dietrich s’n – diep, sensueel. "Lili Marlene" draai skielik in my kop.
 
“Kom nou net weer van die dokters af! Sjoe, maar dis moeite! Maar als gaan goed, dankie! Die operasie was ‘n sukses.” Sy lag diep en knipoog vir Liesl.
 
Sy maak my ongemaklik en ek kan nie sê hoekom nie. Dié mediese inligting was half ongevraagd.
 
Die gesprek gaan oor werk en dit en dat. Baie oppervlakkig. Ek kan nie my oë van haar sterk gesig af hou nie. Toe ons oë skielik ontmoet, kyk ek vinnig weg. Verbeel ek my of was daar ‘n speelse trek om haar mond?
 
Ek eet my pizza in stilte en dra die minimum tot die gesprek by. Sonja en Liesl pik-pik beide net aan hulle slaai. Ek kry die indruk dat hierdie maandelikse ritueel nie een van hulle eintlik meer aanstaan nie en dat hulle dit bloot uit pligsgevoel doen.
 
Sonja is op pad nog voordat ek klaar is. Sy soen na my toe in die lug, en ja, daar is ‘n terg in haar oë. Dis die laaste ding wat ek nou nodig het. ‘n Vrou wat, soos my ma altyd gesê het, net "té" is. Nee wat, hou verby, dankie.
 
In die kar terug raak die stilte te erg vir my.
 
“Ek het haar anders voorgestel Lee. Ek kan nie sê hoekom nie. Sagter. Nie … so, wel …”
 
Skielik loop die trane oor Liesl se wange. Haar stem is skaars hoorbaar toe sy uiteindelik praat.
 
“Moet niks sê nie, Steven … Sien … Sonja is dood in die ongeluk. Marius het bestuur. Hy het homself nooit vergewe daarvoor nie. Dis Marius wat jy so pas ontmoet het.”