Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Rubrieke > Joernaal uit Cambridge

Van Matieland tot Engeland


Judith de Villiers - 2007-03-28


Vandag is dit presies twee jaar, twee maande en twee dae sedert ek Suid-Afrika verlaat het. Om die waarheid te sê, slegs tien dae nadat ek my finale NOS-eksamen (vir die ouer garde: moenie vandag die fout maak om van 'n HOD te praat voor 'n NOS-dosent nie; dis 'n vreeslike sensitiewe storie) op Stellenbosch geskryf het, het ek uit dié studentedorp gevlug.
 
Ek het my ontvlugting geneem uit 'n omgewing waarin ek my vir vyf jaar lank verloor het. Vir vyf beautiful jare het die studentelewe aan my gedoen wat dit veronderstel was om te doen: nie alleen het dit my 'n lewe gebied nie; so ampertjies het dit dieselfde lewe geëis.
 
In my tyd op die Bos het ek gereis van McDonald’s na Huis ten Bosch; later Paarl toe en daarna weer terug na Dorpstraat; van Gereformeerd na Charismaties en, uiteindelik, tot die stilte wat geheers het in die veilige ruimte van De Villa se houtvloere. Die dag toe hierdie vloere egter 'n vreemdeling begin huisves het, het ek besef my tyd by daardie adres het uitgeloop.
 
Met my aankoms in Engeland was dit donker en koud. Die tubes was vinnig en my tasse was swaar. King's Cross was groot, maar die aanwysingsborde was nie groot genoeg nie. Die mense was baie, maar die helpende hande was min. Ek moes elkeen van my vier sakke alleen teen 34 trappe opsleep – van die underground na die boonste platform. Boonop moes ek my treinkaartjie ten duurste koop ('n volle £27, want ek het toe nog nie van die goedkoper opsie geweet nie). Ja, ek moes myself voortsleep na platform 8.
 
Die trein word later 'n taxi en ek bevind my eindelik in die plek wat vir die eerste twaalf maande my tuiste in hierdie land sou word: 'n piepklein kamertjie in 'n huis wat ek deel met my suster en nog iemand anders, in 'n piepklein dorpie genaamd Ely. Nog voor ek my tasse kon uitpak, word ek uitgeneem vir my eerste kennismaking met 'n Engelse pub. En die wonder van "pints"!
 
Ek vermoed my jare in Stellenbosch het veel meer te make gehad met selfontdekking as met studies. Op skool was ek altyd die perfekte leerling, maar op universiteit kon ek net nooit weer die akademiese cut maak nie. My studentedae was nooit regtig eenvoudig nie. Selfontdekking bring sy eie sorge en daar was menige tye wat ek gewens het ek kon die horlosie terugdraai na die tyd toe ek begriploos en sonder gekompliseerde verantwoordelikhede op die skoolbanke kon sit.
 
As ek vandag na die kindersgesiggies op die skoolbanke voor my kyk, besef ek dat my ervarings eintlik 'n leeftyd ver agter my lê. Die tye het skrikwekkend verander – die gesigte voor my is nog só jonk, maar lankal nie meer onskuldig nie. Dinge wat nooit eens my gedagtes as kind binnegedring het nie, lê reeds loodswaar op die tenger skouertjies hier voor my:
 
·         'n Outjie uit 'n gebroke huis herinner my aan The Little Prince: altyd vraend, altyd met 'n inkennige skewe glimlaggie op sy sproetgesig. Soos wat die tyd aanstap, transformeer sy ouers se rampspoedige verhouding hom algaande tot 'n stil, agterdogtige klein moeilikheidmaker.
 
·         Klein Mikey is die slagoffer van armoede. Sy adres verander kort-kort na gelang van sy enkel-ma se wisselende inkomste. Ja, selfs in 'n ontwikkelde land soos Engeland in 'n fancy stad soos Cambridge hou Armoede sy septer ongenaakbaar uit.
 
·         Zak is aan my immer bekend as 'n fris, tawwe Moslem-seun wat nie van wiskunde hou nie. Aanvanklik het ons mekaar gedurig aangevat; ek het geweier om 'n tree terug te neem. Tot die dag toe hy by my klas instap, stil op die bank langs my lessenaar kom sit en opkyk met breekwater vlak in sy oë. Dis eers toe dat die storie agter die storie my opval. Om een of ander rede is geweld in 'n religieuse huishouding net soveel meer intens.       
 
·         En dan: die leë bank van die dogtertjie wie se lot oorgelaat is in die hande van Social Services. 'n Ma se verslawing word mettertyd 'n dogter se gedragsprobleem. Die roetine van huis toe gaan en sien hoe jou ma en haar vriende "lyne trek", waarborg noodlottige gevolge. Ek wonder wat van dié kindjie geword het.
 
Inderdaad moes ek my hardcore taktieke vroeg-vroeg laat staan. My rol as onderwyser, het ek vinnig besef, strek soveel verder as akademiese prestasie, algebra en statistiek. My vooropgestelde idees oor dissipline en hardwerkendheid het in hierdie plek skielik soos ou Prestik begin werk – glad nie!
 
Dis nie elke dag maklik nie. Ek klim nie elke liewe oggend met 'n lied in my hart op my fiets en ry skool toe, reg om die kinders te gaan "red" nie. Ek sukkel vreeslik. Die afstand weg van my veilige ruimte daar in Afrika maak my reis hier selfs soveel moeiliker.
 
Maar ek probeer. Ek poog om elke dag 'n bietjie stabiliteit aan hierdie kinders te bied. Om iemand standvastig te wees wat nie – soos die meeste substituut-onderwysers hier in Engeland – op pad iewers heen is nie. Op pad terug huis toe nie. Dit maak nie saak hoe swaar my hart begin klop oor my geliefdes in Suid-Afrika nie; as hierdie kinders voor 'n vakansie vra of ek weggaan, is my eerste antwoord altyd “Ja”, maar dan voeg ek vinnig by: "Ek sien julle in die nuwe kwartaal."
 
Ek is dankbaar vir die proses wat my hierheen gelei het. Elke tree het bygedra tot wie ek vandag is. Maar daar is nie tyd vir gemaklik voel en dink jy is volleerd nie. Hierdie beroep vereis aanpassing van dag tot dag; 'n voortdurende omvorming van die self om die lewens wat voor my sit, só te raak dat hulle vrede mag hê met wie hulle is en waar hulle vandaan kom.
 
As ek terugdink hoe ek sedert my dae as 'n onervare jong student op Stellenbosch skielik moes grootword en verantwoordelik raak as wiskunde-onderwyser in Cambridge, sien ek hoedat al die fragmente, al die momente wat destyds onverstaanbaar was, nou in mekaar begin pas en deel uitmaak van die wie ek vandag is. Daardie persoon wat ek word as ek elke oggend telkens my plek voor die bord inneem.
 
Ek kan maar net hoop dat my klaskamer 'n ruimte sal wees wat vanuit my eie ervaringe aan elk van hierdie kinders 'n plek sal wees waarin hulle veilig sal voel en rustig sal wees, al kan hulle nie die somme altyd so lekker doen nie.