Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Willie Knoetze: Uit die boks

Uit die Boks: Vaal tuine


Willie Knoetze - 2007-03-21

Ek het ’n Maandag-ritueel. Ek begin elke week met ’n traan vir iemand wat ek nie ken nie.

Nee, wag nou; rol jou oë terug vorentoe en doen jouself ’n guns: gaan kyk na www.postsecret.com. Sien wat ek bedoel? Die webmeester laai elke Sondag nuwe tuisgemaakte poskaarte met anonieme persone se geheime op die blad. Dis ’n ongelooflike platform wat hy geskep het en sluit aan by ander elektroniese biegplatforms soos BiegNet (die uiters gewilde biegplatform op LitNet). Op www.postsecret.com raak mense ontslae van al die swaar geheime wat hulle rondsleep deur ’n poskaart daarvan te maak en in die pos te gooi. Dit alleen is ’n bevryding. Dan word party van die poskaarte op die webblad gelaai en met die res van die wêreld gedeel! Nou kan hordes mense dwarsoor die planeet hierdie geheime sien! Dalk identifiseer jy met iets; dalk herken jy die geheim; of dalk maak dit net jou oë oop vir die wêreld van ’n ander. Laastens word van die poskaarte gepubliseer en word hierdie geskenk iets wat jy kan vashou, ruik en koester. (Of die winste uit die verkope aan die selfmoordhulplyn gaan, weet ek nie.)

Ek dink ons kort meer inisiatiewe soos Postsecret en BiegNet. Dit is ongelooflik wat alles wil uitkom sodra jy die deur oopmaak.

So van oop deure gepraat (os op die jas tipe denksprong hierdie): ek het ‘n nuwe deur oopgewikkel vandag. ’n Nuwe Paradyser het my sin vir etiek en menseregte getoets deur te vra watter gays in die omgewing hy liewer moet vermy, vir sy eie geesteswelstand en fisieke gesondheid. Veral, was sy verweer, noudat hy so baie aandag op SletNet [sic] kry. (Dis ongelooflik hoe belustigheid uitbreek soos runderpes in Februarie.)

Daar het dadelik ’n paar wesens se name in my ore gesuis. Die vraag is egter: Is dit my plek om Kieppie te waarsku teen hulle? Selfs al vra hy, is dit eintlik ek wat weet wat hy vra, nie regtig hy nie. En net ek sal weet hoekom ek iemand wil noem, nie hy nie. Om nie eers te praat van die arme drommels wat ter sprake kom nie! Hulle mag dalk aards onsuiwer wees, maar is dit eties korrek om dit oor te vertel? En sê nou die luiperd het intussen van uitrusting verander? Is die enkele ervarings wat ek gehad het, genoeg rede om iemand te lys?

Natuurlik speel motivering ’n groot rol. Hoekom wil mens iemand anders brandmerk as “effe af”? Wat is die doel – wat moet bereik word daardeur? Gaan dit oor my eie onderdrukte emosies of gekoesterde wraakgedagtes, of is dit ’n filantropiese oefening om die kind ’n paar letsels te spaar? Hierdie tipe denkrigting spiraal baie vinnig buite beheer en gou weet mens nie meer wat aangaan nie.

Einde laaste het ek egter geswig en vyf skuilname genoem. Of dit die regte ding was om te doen, weet ek nie. Die internet het sy eie etiek – des te meer die kuberhoekies vir eensames. Daar is goeie uitgangspunte om beide die “Ja” en die “Nee” te ondersteun. Vir my het die ingewing gekom toe ek onthou het hoe een spesifieke luiperd my lewe amper verwoes het binne my eerste twee weke in Eden. As iemand my destyds maar net gewaarsku het … Snaaks genoeg is sy naam nie op die lysie nie. Vriend Poephol het intussen migreer na ander weivelde, nadat die Tuinroete bietjie “warm” geword het. Boontjie kry sy loontjie.

Wat ek wel duidelik agtergekom het, is dat ek nog nie hierdie “SletNet Vyf” vergewe het nie. Noudat ek verder daaraan dink, is daar nog ’n klomp ouens in hierdie kategorie. Ai, en ek het juis so mooi oor vergifnis geskryf in die vorige Boks!

Miskien is ek effe af. Die hele bohaai rondom Valentynsdag maak my moontlik effe bitter – nee, eerder suur. Bitter is ek darem seker nie (ek hoop nie so nie!). Ja, ek bieg, ek hou nie van Valentynsdag nie. En nie oor edele, filosofiese redes of beginsels nie. Nee, ek erken nou dat Valentynsdag my geweldig irriteer, omdat ek in 1989 laas ’n kaartjie gekry het. (My eerste en laaste, moet ek byvoeg.) Ek het al sulke goeters gemaak en ’n paar al uitgedeel so oor die jare (natuurlik volkome anoniem), maar dis nie heeltemal dieselfde nie.

My innerlike kind is ongelukkig. Nie heeltemal soos Boetman van ouds nie – maar hy wil ook iemand se blerrie Valentine wees!

Dis eintlik pateties. Verskoon my terwyl ek myself gou van my slagoffer-oomblik bevry. Dalk moet ek daaroor ’n poskaart maak … Hmm …

Maar ja, ek wou aanvanklik skryf oor hoe ongelukkig en alleen so baie mense in ons moderne samelewing is. Hoe dit soms erger voel in die (selfopgelegde?) afsondering wat LGBTIQ’s ervaar – en hoe onbevredigend die oppervlakkigheid van winkelkaartjies, sjokolades en langsteelrose is. My aanvanklike gedagte was om te vertel van ouens se pronkgedrag en hoe onverklaarbaar ek vakansieromanse teen einde Januarie vind. Helaas was dit egter nie vir my beskore nie.

Uiteindelik kom dit daarop neer dat julle tog maar die maand van liefde moet vier. Maak seker die mense in jou lewe wat na aan jou hart is, wéét dit. Al koop jy nie lekkergoed en geskenkies, kaartjies of blomme nie. dit ten minste net. Dis een van die kosbaarste dinge wat jy ooit kan deel.

Ek gaan my bes probeer om te sorg dat al my geliefdes en dierbares weet wat hulle vir my beteken – en in die liefdesmaand gaan ek myself bederf met ’n roomyswafel!

(Poskaarte is natuurlik altyd welkom!)

Suidkaapliefde

Willie