Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

'n Troudagherdenking is meestal ‘n onding


Fanus Rautenbach - 2007-03-20

Maar nie die 50ste troudag van Henk en  Joey Bierman van Stilbaai nie.

Waarom?

Daar was nie een toespraak nie !

Jakob Jordaan, die skoonseun, het begin deur voor te lees van die gelykenis van die verlore muntstuk. In die Bybelse dae het die vroue muntstukke in hulle hooftooisels gedra. Toe verloor sy een, en dit was so goed soos ’n vrou wat vandag haar trouring verloor. Almal het gesoek en toe hulle dit kry, het hulle fees gevier. (Laat my dink aan die klassieke verhaal van die jonge man van 18 wat verlief geraak het op die ou dame van 80. Harold and Maude is die boek se naam. Harold koop toe vir Maude  ’n verloofring en staan op die brug toe hulle verloof raak en hy die ring aan haar vingers steek. Sy haal toe weer die ring af en gooi dit in die rivier. “Hoekom doen jy dit?” vra Harold verbysterd. En Maude antwoord: "Nou sal ons altyd weet waar dit is!”)

Daardie aand van Henk en Joey Bierman se trouherdenking is daar so fees gevier:
Deric, die ander skoonseun, het ’n skyf saamgestel van Henk en Joey se werklike troudag, 50 jaar gelede; hulle wittebrood; die drie kinders; en hoogtepunte uit die gesin se verlede.

Yolanri, die oudste kleindogter (19), het ’n huldeblyk aan haar oupa gelewer. Dit het oor sy eienaardighede gegaan, maar ook oor die feit dat juis almal vir  hom deernis en bewondering het. Sy het na Einstein verwys wat gesê het as daar ’n tweeling is en een word die ruimte ingestuur, en hy kom na baie jare terug, sal dit twee vreemdelinge wees. Oupa is Oupa, maar hy is ook ’n vreemde wese wat koffie oor sy Post Toasties gooi en soms glo dat hy onsigbaar is.

Daarna het Ané (die jongste kleindogter) ’n pragtige balletsolo gedans – "spesiaal vir Oupa en Ouma", maar ook bietjie vir haarself, want sy is gek na dans, maar sy wou nie ’n tweede dans doen nie.

Rikhardt, die oudste kleinkind en die enigste kleinseun, het ’n karatevertoning gelewer, net om te wys dat hy sy oupa sal beskerm.

Aninca het ’n verwerking van Antjie Krog se gedig voorgedra: “Liewe Ma. Ek skryf vir jou ’n gedig sonder fênsie leestekens – sommer net ’n kaalvoetgedig …", maar sy het natuurlik Ma met Oupa en Ouma vervang.

Hanrike het ook haar danstalent gewys en op die maat van die liedjie uit Benny and Joon ’n klopdans gedoen.

Daarna het Greta ’n huldeblyk aan Joey, haar ma, gelewer to sy Spreuke 31 gebruik het en die ideale vrou op haar ma van toepassing gemaak het.

Henk en Joey se enigste seun, Engelhardt, het met kitaar afgesluit met Lukas Maree se “Weduwee se Kruik”. Dit gaan oor die liefde wat net meer word hoe meer jy daarvan weggee.  

Ingrid, die oudste dogter, het toe die egpaar weer getrou omdat die kinders altyd so graag op hulle ouers en grootouers se trou wou gewees het. Dit het sy gedoen deur ’n verkorte huweliksformulier voor te lees. En toe vir Hanrike en Ané elk ’n nuwe trouring gegee wat hulle aan Henk en Joey oorhandig het.

Wat min van die gaste  geweet het, is dat die trouringe vasgemaak is op dieselfde Bybeltjie wat Joey op haar troudag gebruik het om haar ruiker te dra – en wat Joey se oudste dogter, Ingrid, weer op haar eie trouring gedra het.

Tradisie.
 
As die meeste tweetjies wat vandag trou, dit oor 50 jaar moet vier, sal hulle dalk ’n hele paar egskeidings moet insluit. Of soos die suinige bruidegom vir sy bruid gesê het: "Die bruilof gaan HOEVEEL kos? En die wittebrood gaan HOEVEEL kos? Ek sê jou wat: ons wag tot die kinders groot genoeg is, dan vat ons hulle saam!”   

Ek kan niks van my ma en pa se troue onthou nie. Al wat ek weet, is dit: ek is saam met my vaar piekniek toe en het in my moer in terug gekom.