Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Rubrieke > Lonkie onbeperk

Lonkie onbeperk: Taalversorging is sexy


Lonkie Mackenzie - 2007-03-20

Volgens die Britse skrywer en opvoedkundige Philip Pullman is taalversorging ’n manifestasie van die liefde. If you love something, sê hy, you want to look after it.
 
Dalk is dít waarom ek so afgeskeep voel by die lees van Afrikaanse koerantberigte vol foutiewe of afwesige lees- en skryftekens, bengelende en ontbrekende verbindings-s’e, bisarre woordafkappings en brabbelsinne vol ongeskrapte woordrommel.           
 
Ook advertensies loop kwaai deur.          
 
Kort gelede adverteer Gremlin Kollege ’n diploma-kursus in kleinhandelreis. In kopie direk uit Engels vertaal, word die voornemende student “verseker dat jy die perfekte kwalifikasie vir ‘n (sic) intreevlakspecialis (sic) of junior bestuurpos (sic) in die reidbedryf (sic) sal hê.”
 
Stof tot dankbaarheid is die verdere stipulasie, in fynskrif, dat die kursus slegs in Engels aangebied word.       
 
Die week daarna spoor Jip hulle lesers aan om daardie groot crush op die man of girl van hulle drome in ’n SMS-boodskap oor te dra. Vir publikasie ter viering van Valenstynsdag. Moontlike bewoording word verskaf: Love Jannie! Ek like jou baie, Sannie. Sannie se taalgestremde boodskap kan glo die begin van something special wees.       
 
Net daar skiet Gabriel Garcia Marques se romantitel my te binne: Love in a Time of Cholera.
 
Ek staan verslae voor die moontlikheid dat Sannie se choleriese boodskappie Jannie se hartsnare, of enige ander deel van sy anatomie, sou kon roer.      
 
Noem my ’n taalslet, maar selfs as tiener kon ek nie verlief raak op iemand wat nie die sensualiteit van ’n goedversorgde sin kon aanvoel nie.          
 
Tóé al het ek gewonder: Is aandagtige taalversorgers nie dalk bedagsamer vryers nie? Tot watter emosionele en lyflike hoogtepunte sou ’n taalghwar in staat wees – horende doof vir die musikaliteit in foutlose spelling, onbewus van die ligte eb en vloed van welgevormde bysinne, onvatbaar vir die trillende afwagting in welgeplaaste kommas, die rysige gestalte van hoofletters en, o, die asemrowende klimaks van ’n volpunt, net, nét betyds?
 
Nie dat jy noodwendig moet breyten om ’n taalflerrie se belangstelling te prikkel nie. Ons reageer ook positief op gemeenplasige boodskappies, mits die grammatika vloeiend verloop.            
 
Kom ek verskaf ’n praktiese voorbeeld.
  
Vanoggend steier ek en my dogter onder swaar inkopiesakke na ons motor bakkend in die son voor Avalon-kafee. Onder die ruitveër ingeskuif, aan passasierskant, wapper ’n briefie in die bergwind.       
 
’n Teregwysing deur ’n medemotoris met sonsteek, dink ek wrokkig. Oorgehaal vir venyn lees ons: "Morning! I just want to tell you that I think you are Drop Dead Gorgeous. Enjoy your day. M."
 
Blosend lag my kind en rits die briefie in haar beursie toe.
 
Ek skuif agter die stuurwiel in en draai die lugverkoeler aan. Heelpad huis toe tuur sy deur die venster, tot stilte gebring deur drie kort sinnetjies agterop ’n kasregisterstrokie.  
 
Want sien, M is ’n flankeerder van formaat. Let op sy spontane, onvoorwaardelike bewondering; die joie de vivre in allitererende hoofletters. Nie vir M ’n klewerige ellips of die klinkerlose gekletter van I-wnt-2-tel-u en njoy-yr-day nie. Hoflik. Bedrewe leestekenaar. Ongetwyfeld ’n minnaar duisend in wording.                 
 
Toe ons voor die huis stilhou, kyk sy my stip in die oë.   
 
“Ma,” sê sy sag, “hy’t gorgeous reg gespel.”  
 
Só werk dit.