Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

Hier staan tradisie en passie skouer aan skouer


Johann H Crafford - 2007-03-15

Nes jy dink die Kaapse wynlande kan jou nie meer onkant vang nie, verras hy jou uit ‘n rigting waaruit jy dit allermins verwag.
 
Ek doen die wynding nou al byna vier jaar (dis nou van leer en ervaar van die wingerdstok en sy nektar tot gereelde besoeke aan wynmakers oral vir my eie plesier en dié van ander). Ek het al half begin dikkop raak oor al my kennis en ervaring, en toe kry ek ‘n uitnodiging van die Beaumont-familie van Compagne’s Drift by Botrivier om hul ope dag einde Januarie by te woon.
 
Dit bots toe nou met ‘n bergfiets-en-kajak-naweek wat ek en vroulief al geruime tyd beplan het (en ek’s in elk geval nie mal oor ‘n klomp mense rondom my nie), en ek reël toe vir ‘n ander naweek vroeg in Februarie.
 
Maar ek wil darem nou nie al die pad deurry Botrivier toe vir net een proe nie en ek vra uit oor ander wynmakers in daai omgewing. Nie dat ek juis iets verwag nie – ek meen, Botrivier is mos die ou plekkie langs die N2 wat jy jouself altyd beloof jy gaan eendag vinnig besoek wanneer jy weer daar verby ry, maar nooit so ver kom nie.
 
Nee, vertel die vriendelike Ariane Beaumont my, daar’s ook nog Luddite, Goedvertrouw en Wildekrans op die Groenlandberg-wynroete.
 
Groenlandberg-wynroete?
 
Ja, hy’t so einde 2005 tot stand gekom, lig sy my in – sen daar maak die Kaapse wynlande nogmaals sy skatkis oop vir my.
 
Ek vra uit oor eetplekke (mens moet darem die ou voggies met iets afsluk, of andersom) en sy vertel my van die lekker kroegetes by die Botrivier Hotel en van Elreda Pillman se alombekende tuismaaltye op Goedvertrouw.
 
Heel opgewonde stel ek ‘n dagbesoekplan op, bevestig dit per vonkpos met almal en begin die dae, ure en sekondes aftel. My pos se vonk is nog nie heeltemal geblus nie toe kry ek 'n boodskap van Wildekrans af wat my en die punt van my hart uitnooi om die Saterdagaand by ‘n B&B by Houwhoek oor te bly eerder as om dieselfde dag terug te ry Melkbosstrand toe.
 
Halfnege daai Saterdagoggend vat ons toe die pad uit Melkbosstrand, bergfiets op die dak, want daar is glo lekker roetes by die Wildekrans Country House. Die N2 vat ons oor Sir Lowryspas met sy asemrowende uitsig oor Valsbaai en die Helderberg, verby Grabouw en dan oor die kronkelende Houwhoekpas totdat jy afdaal tot daar waar die paaie begin vurk na allerhande lekker vakansieplekke.
 
Ons ry verby die Hermanus-afrit tot by die R43 na Botrivier/Hermanus (Uitgang 92). Hom vat ons, en by die T-aansluiting kies ons koers na Botrivier.
 
Skaars ‘n kilometer verder en so ‘n katspoeg anderkant die Botrivier Hotel links kry ons toe die ingang na regs na Compagne’s Drift Estate (028 284-9194), die tuiste van Beaumont-wyne, en nog ‘n kilometer aan stop ons by die kelder en proelokaal.
 
Na ‘n staptoer deur die tradisionele kelder, waar oop sementkuipe en blink metaalvate skouer aan skouer staan en waar wynmaaktoerusting uit toeka se dae jou om elke hoek en draai inwag, ontmoet ons vir wynmaker Sebastian Beaumont. Ek vra hom oor hul benadering tot wynmaak en hy verwys my na ‘n plakkaat teen die proelokaal se muur wat sê: "In ons kelder is tradisie ‘n kompliment en is die wetenskap geen plaasvervanger vir passie nie."
 
Sebastian vertel my hulle het nie sogenaamde premium- en huiswyne nie, aangesien elke bottel wyn met dieselfde passie en toewyding gemaak word, van die Chenin Blanc tot die Shiraz en van die Chardonnay tot Suid-Afrika se eerste enkelkultivar Mourvedré, en al die versnitte tussenin. En ek proe en ek geniet!
En so met die gepratery vind ek uit hulle het op die plaas twee kothuise wat uitverhuur word, naamlik die Mill House, wat tot ses mense kan akkommodeer, en Peppertree Cottage, wat ‘n maksimum van vier mense kan huisves. As ons nie reeds geholpe was nie …
 
Terloops, die ou Compagne's Drift-meul, wat rondom 1800 gebou is, is pragtig gerestoureer en het die dag met ons besoek vir die eerste keer in dekades gedraai. Dis ook ‘n besoek werd.
 
Hiervandaan is ons terug na die hoofstraat, waar ons regs gedraai, oor die spoorlyn gery en toe weer regs gedraai het op die grondpad oor die Van der Stelpas na Villiersdorp. So 1,6 km verder het ons links gedraai na Luddite (028 284-9450), wat knoes aan die oostelike hange van die Houwhoekberge lê.
Eienaar en wynmaker Niels Verburg wil glo van Botrivier ernstige wynmaakwêreld maak. Hy het in 1999 begin met sy doelwit om wêreldklas Shiraz te maak. Ongelukkig was die Verburgs uitstedig en kon ek nie proe of hy al in sy doel geslaag het nie.
 
Terug na die grondpad en links en net duskant 7 km verder ry mens byna by Goedvertrouw (028 284-9769) verby. Die huisie sit so gemaklik teenaan die pad dat jy hom amper miskyk. Maar dan tref hy jou soos ‘n prentjie uit die storie van Hansie en Grietjie.
 
Weer eens is ons oorweldig deur die gasvryheid en hartlikheid van die mense. Nadat die wynmaker ons deur die tradisionele kelder en pragtige proelokaal geneem het (hier word glo in die winter etes aangebied wat mense rasend maak), het ons op die groot stoep voor Elreda se huisie (wat oorspronklik in 1820 gebou en een van die oudste huise in die omtrek is) aan tafel gaan sit en wag vir die maaltyd wat sy met ons aankoms besig was om in haar kombuis voor te berei. Saam met ‘n Yank en twee Rooinekke wat ‘n paar jaar gelede hul wortels in Kaapstad geplant het.
 
Eers het ons sommer daar op die stoep Cabernet Sauvignon, Pinot Noir, Sauvignon Blanc en Chardonnay geproe en toe, met die suidoostewind wat vriendelik deur die groot bloekombome onder in die vallei gefluister het, het ons weggeval aan ‘n ete wat mens net as uit die boeke kan beskryf.
 
Tradisie “vereis” mos dat ons Afrikaners na ‘n stewige middagete eers so bietjie gaan skuins lê en ek moes my met mening aan die kraag wegsleep, anders was die vriendelike Elreda met my opgeskeep vir die hele naweek. En natuurlik het die wyne gretig op my gewag by Feiteiras Vineyards en Wildekrans.
 
Laat ek gou-gou van Feiteiras vertel. Terwyl ons so heerlik op Compagne’s Drift gekuier het, haak die vriendelike Sebastian af en wys na ‘n lappie grond so tussen hulle en die N2. Dis nou Jose de Andrade se boetiekplekkie daai, het hy te vertel, en sommer so in dieselfde asem beveel hy aan ons moet daar ‘n draai gaan maak met die terugkomslag en die Portugese nektar proe. Hy sal intussen met Jose dinge reël.
 
So gesê, so gedaan. Baie tevrede het ons toe die grondpad terug Botvivier toe aangepak, links gedraai in die hoofstraat en later weer links om by die N2 aan te sluit. Jy’s skaars op die N2 dan sit die ingang na Feiteiras Vineyards (082 453 1597) aan jou linkerkant. Soos met die ander plekke op hierdie wynroete is dit ‘n slim idee om vooraf ‘n afspraak te maak.
 
Slegs 4,5 hektaar van die plasie van bykans 17 hektaar is onder wingerd - Verdelho, Mourvedre, Petit Verdot, Shiraz, Merlot en Cabernet Sauvignon. Wit Port, rooi Port en ‘n rooi versnit sien hier die lig. Die eerste wyn is in 2003 gemaak van druiwe wat by die Beaumonts gekoop is.
 
Een van die interessantste kenmerke van hierdie boetiekwynplaas is die massiewe mandjiepers wat ‘n stuk hout (7 000 mm x 650 mm) van twee ton gebruik om druiwe mee te pars. En die affêre het ‘n tweemeter-skroef van essehout. Die hele kontrepsie staan buite voor die kelder.
 
Kyk, na al dié inligting het ek ‘n ernstige behoefte aan Suid-Afrikaanse nektar van die gode gehad en is ons by die hek uit, regs oor die N2, links op Uitgang 92, weer links op die R43 na Kleinmond/Hermanus en sowat 600 m verder nog ‘n slag links, maar hierdie keer na Wildekrans se proelokaal!
 
Soos die ander wynplase wat ons daai dag besoek het, is Wildekrans (028 284-9829) relatief jonk as wynprodusent en is die mense nog nie bederf deur kommersiële bekendheid en eie vernaamheid nie, en ek hoop regtig hulle almal kan so mooi plat op die aarde bly, want dis wat die Groenlandberg-wynroete ekstra-spesiaal maak.
 
Op Wildekrans het Melissa Nelsen ons laat voel of ons royalty was en ons eers deur die kelder geneem (die grootste en modernste op hierdie wynroete, maar steeds met ‘n sterk gevoel van tradisie) voordat ek onder hul wyne ingeklim het.
Soos by die ander wynmakers op hierdie roete het Wildekrans se wyne ook al ‘n hele paar toekennings gewen en genoeg sterre gekry om hul eie naghemel mee op te helder. Maar moenie dat ek jou vertel wat hulle alles maak nie. Gaan kyk self en jy sal ook, soos ek, met ‘n botteltjie of drie onder die arm wegstap.
 
Net so terloops, hierdie area se terroir met sy kleiagtige ondergrond, sanderige en klipperige bogrond en koel winde vanuit die rigting van die Atlantiese Oseaan sorg vir kenmerkende aromatiese geure in die druiwe. Die witwyne is subtiel terwyl die rooies in die algemeen voller en ryker is met sagte tanniene.
 
Nou ja, hiervandaan is ons terug N2 Kaapstad toe. So 8 km verder het ons regs gedraai na die Houwhoek Inn en links by die hotel verby gery totdat ons die Wildekrans Country House (028 284-9827) aan ons regterkant gekry het. Hier het ons vinnig afgesaal en is ons met ope arms deur Alison en haar man Barry ontvang.
 
Die brosjure sê "Country living at its best", en glo my, dis geen liegstorie nie. Die B&B, ‘n uur se ry van Kaapstad af, lê op ‘n vrugteplaas in die Houwhoekvallei, omring deur berge. Die opstal dateer uit 1811 en is gemeubileer met antieke meubels en kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns. Twee tipies Kaapse kothuisies, die een met ‘n vuurherd, lê knus in ‘n pragtige tuin en peerboord.
 
Ek en my beter helfte is sommer reguit swembad toe nadat ons afgepak het en na ‘n hele paar lengtes in die koel, verfrissende water is ons terug vir ‘n vleisbraai op die stoep reg voor ons slaapkamer, nogal die honeymoon suite! En daar sit ek en my meisie toe op die stoep, met ‘n vuurtjie wat knetter van die lekker, ek met ‘n glas van Wildekrans se Caresse Marine Cape Red Blend en vroulief met haar tradisionele Tab, en ons kyk hoe die sonnetjie agter die berge verdwyn. Nie ‘n blaartjie beweeg nie en dis asof die natuur jou in sy sagte omhelsing toevou. Man, lekker is darem nie sleg nie!
 
Die volgende oggend is ek vroeg op om op my ysterperd een van die bergfietsroetes aan te pak. Tussen rye peerbome deur, oor ‘n stadigvloeiende riviertjie en teen die laer hange van die Houwhoekberge uit totdat ek reken genoeg is genoeg. Toe al die pad terug vir daai beloofde brekfis.
 
Nou ja, ons is so teen tienuur se kant daar weg, maar met die belofte aan onsself dat dit beslis nie die laaste keer is nie. Alison het ons van die Groenlandberg-ekoroete en die Elgin-vrugteroete vertel en dis iets wat ons twee vanjaar nog moet pak.