Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Rubrieke | Columns > Afrikaans > KritNet

Travels in the Scriptorium: ’n metafiksionele spel


Paul Cilliers - 2007-03-07



Klik en koopTravels in the Scriptorium
Paul Auster
Faber and Faber
ISBN 0-571-23255-8
130 pp
Klik hier en koop Travels in the Scriptorium nou.
Klik hier om Travels in the Scriptorium te wen! Kompetisie sluit 31 Mei 2007.



’n Jaar of wat gelede het die New York Times vir ’n honderd letterkundiges (skrywers en kritici) gevra om die beste Amerikaanse roman van die afgelope 25 jaar aan te wys. Die wenner, Beloved van Toni Morrison, was miskien iets van ’n verrassing, maar die top vyf nie eintlik nie: Underworld van Don DeLillo, American Pastoral van Philip Roth, Blood Meridian van Cormac McCarthy en die Rabbit-romans van John Updike.

So ’n lys is natuurlik altyd kontroversieel en het uiteraard heelwat kommentaar uitgelok. Jane Smiley het heelwat te sê gehad oor die afwesigheid van vroue op die lys, en dadelik haar argument in die voet geskiet deur haarself op die lys te plaas! ’n Ander opmerking was dat daar (met goeie rede) omtrent ’n halfdosyn Philip Roths onder die top 20 was, maar nie ’n enkele roman van Paul Auster op die lys verskyn het nie.

Paul Auster is inderdaad ’n belangriker skrywer as wat die Times se lys wou aandui. Hy het, ook in Suid-Afrika, ’n uitgebreide en ingeligte leserspubliek. Hy is ’n intelligente skrywer wat op ’n gesofistikeerde manier gebruik maak van ’n hele boel postmoderne en metafiksionele tegnieke. Ek het veral sy vroeë romans, The New York Trilogy, In the Country of Last Things en Moon Palace indrukwekkend gevind. Hoewel hulle ’n elliptiese karakter het, het hulle ’n volgehoue yl soort liriek. Die rol van toeval was ’n sentrale tema – dink byvoorbeeld aan The Music of Chance – en hy het met ’n fyn oog gekyk hoe kontemporêre mense vervreemd is van mekaar en van hulle omgewing.

Hoewel Auster se “middel”-romans nie vir my altyd ewe bevredigend was nie, het hierdie temas deurgaans behoue gebly. Hy het mettertyd ’n “warmer” styl ontwikkel, in so ’n mate dat sy voorlaaste roman, The Brooklyn Follies, amper soos ’n hoofstroom populêre Amerikaanse roman gelees het. Geen wonder dat dit waarskynlik sy mees populêre boek geword het nie.

In Travels in the Scriptorium keer hy amper met weerwraak terug na sy vroeë elliptiese styl. In plaas van ’n roman met herkenbare karakters gee hy ons ’n gestroopte, amper metafisies-abstrakte teks. Die naamlose hoofkarakter, ’n ou man slegs bekend as Mr Blank, sit in ’n leë kamer met ’n toe venster en ’n toe deur. Hy weet nie wie hy is en waar hy vandaan kom nie, behalwe dat hy ’n knaende skuldgevoel het oor wat hy mense aangedoen het. In die enkele dag waarin die “verhaal” afspeel, besoek ’n klompie mense hom. Hulle probeer by hom dinge uitvind wat hulle dink net hy weet, en hy probeer by hulle uitvind wat op aarde aan die gang is. Dit is duidelik dat hy hulle almal iets aangedoen het, maar wat dit is, word nie duidelik nie. Sommige verwyt hom, ander vergewe hom. Hy is egter so vergeetagtig dat niemand eintlik vordering maak met wat op aarde aan die gang is nie. Aan die einde van die dag word die lig afgesit.

Dit is gou duidelik dat hier ’n metafiksionele spel gespeel word. Die eerste aanduiding is die verhaal binne die verhaal. Op Mr Blank se tafel lê ’n gedeeltelike manuskrip. Dit vertel van iemand wat in ’n tronksel opgesluit is (sic!) vir ’n onbekende misdaad en besig is om sy verhaal neer te skryf. Wat Blank in sy hande het, is hierdie verhaal, maar dit is onvoltooid. Een van sy besoekers versoek hom om die verhaal te voltooi, en hy doen dit met oorgawe op ’n bykans kompulsiewe manier. Leser word skrywer, skrywer word leser. Het ons die idee al iewers gehoor?

Om die metafiksionele spel heeltemal te verstaan moet ek ongelukkig iets weggee wat mens nie uit die roman self kan weet nie. Al die mense wat vir Mr Blank kom besoek, is karakters uit Auster se vorige boeke. Daar het ons dit. Mr Blank is die skrywer, Paul Auster, wat leeg gestroop is van idees en deur sy karakters gevange gehou word. Dit is alles heeltemal slim gedoen, maar die vraag is of dit goed genoeg is. Ek wil amper sê van nee.

’n Roman behoort een of ander element te hê wat dit bevredigend dra, hetsy dit die verloop van die verhaal, die ontwikkeling van die karakters, die sosiale implikasies, die tegniese aspekte van die struktuur, die gebruik van taal of wat ook al is – daar is sekerlik nie ’n resep nie. Travels in the Scriptorium stel my egter op al hierdie vlakke teleur. Die metafiksionele spel is net nie interessant of nuut genoeg om mens te boei of verder te laat dink nie. Daar is uiteraard geen karakterisering nie en ook geen verhaal nie. Die verhaal binne die verhaal is eintlik ook maar net ’n skets van ’n verhaal. Wat sou dan die punt daarvan wees om die boek te lees? Ander lesers vind miskien beter sleutels tot die roman as ek, maar vir my was dit nie heeltemal die moeite werd nie.

Indien mens na ’n leesstrategie vir die boek soek, is daar vir my twee opsies.

Die eerste sou wees om die boek op sigwaarde te neem en dit te lees as die verhaal van die disintegrasie van ’n ou man. Daar is heelwat treffende oomblikke in die boek wat so ’n lesing sou kon ondersteun: sy gesukkel om te loop, sy avonture op die toilet en sy desperate pogings om te probeer onthou wie of wat hy is. Op die lang duur (en die duur van die novelle is nie baie lank nie) is daar egter nie genoeg hiervan om die boek te dra nie. As mens dit vergelyk met die rits romans oor ou mans wat onlangs verskyn het – Everyman en The Dying Animal van Roth, The Body Artist van DeLillo, My Melancholy Whores van Garcia Marques en selfs Ravelstein van Bellow – skiet dit net te ver tekort. Die yl, Kafka-agtige atmosfeer is dalk vir sommige lesers genoeg, maar ek voel effe verneuk daardeur. Die Kafka-ding doen iemand soos José Saramago tans soveel beter.

’n Tweede strategie – iets waarvoor ek nie tyd of krag gehad het nie – sou wees om al Auster se boeke te herlees en elke karakter wat in die Scriptorium genoem word, noukeurig na te speur. Dit sou definitief iets wees wat ’n Auster-karakter (soos sy speurder-skrywer Quinn in City of Glass) sou doen, en mag dalk meer loon as wat mens verwag. Dit is net moontlik dat Auster hier ’n fyn metastorie wegsteek, en dat die kort gegewe van die Scriptorium eintlik ’n kaart is vir ’n roman wat die leser self kan konstrueer. Ek gaan nie my asem ophou nie, maar indien iemand so iets ontdek, sou ek baie graag daarvan wou hoor!
Ek dink nie dat Travels in the Scriptorium op die New York Times se volgende lys gaan verskyn nie, maar ek het geensins vir Auster afgeskryf nie. Hy is talentvol en beheer ’n wye spektrum genres – dink maar aan die wonderlike draaiboeke wat hy geskryf het vir Smoke en Blue in the Face. Ek sien uit na wat nog kom, maar hoop net dat hy ons effens meer gee as Mr Blank se leë kamer.

Hierdie resensie is deur Exclusive Books moontlik gemaak.