Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet

Die reg op lewe – Wouter


Jaco Fourie - 2012-01-13

Beste Wouter

Dankie vir die mooi en interessante brief “Nog notas oor die doodstraf”.

Die reg op lewe (the right to life) is een van die basiese menslike regte (basic human rights). En dit is juis as gevolg van die aanvaarding van hierdie beginsel, dat die doodstraf in die meerderheid lande nou afgeskaf is of gaan word.

Jou aanhaling van John Paul Stevens, afgetrede regter van die Amerikaanse “Supreme Court”, nl: “the death penalty represents the pointless and needless extinction of life with only marginal contributions to any discernible social or public purposes” behoort ook van toepassing te wees op ongebore babas (fetusse) wat se lewens sonder boe of ba, kortgeknip word in die vorm van aborsies, uitsluitlik ten doel om ontslae van ongewenste kinders te raak.

My persoonlike ondervinding is dat persone wat die afskaffing van die doodstraf voorskryf, ook kranige ondersteuners van aborsie is, wat vir my in die lig van die regter se stelling onsin maak. A real contradiction in terms. Ek ondervind ook dat persone wat ten gunste vir die doodstraf is, merendeels ook teen aborsie van ongewenste babas gekant is.

Dit was dr Chris Barnard ten tye van die afskaffing van die doodstraf hier in SA in ’n TV-onderhoud met hom, dit bevraagteken het dat halsmisdadigers die reg tot lewe het, maar dat hierdie reg vir ’n onskuldige ongebore fetus ontsê word. Statistieke word noukeurig van teregstellings gehou, maar om statistieke van aborsies noukeurig te hou bly ’n oorbodige oefening.

Sjina met die hoogste teregstellings ter wêreld van gemiddeld 4 000 per jaar se syfers is in der werklikheid ’n druppel in vergeleke met die aantal aborsies wat gepleeg word uitsluitlik om van ongewenste babas ontslae te raak.

Dat die wêreldmening ivm aborsies ooit gaan verander is verseker onwaarskynlik.

 

Jaco Fourie