Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet

Wouter: Debatte en loopgrawe


Gilgamesh - 2012-01-13

Hello Wouter

Die loopgrawe is inderdaad diep gegrawe en die moontlikheid vir ’n middeweg waar argumente kan ontmoet is verseker "’n idealistiese versugting en nie hoe die werklikheid daarna uitsien" nie. Ek sou heeltemal met jou saamgestem het as die debat was tussen, sê Panda of Angus en Kobus, maar dit is nie hul bedoeling, glo ek, om iemand soos Kobus te oortuig van die valsheid van sy posisie nie. Ons weet almal dat Kobus lieg, verdraai, misinterpreteer en skel vir sy God en homself al so vasgeverf het in ’n hoek dat hy nie sal weet hoe om uit te kom nie, al sou hy ook wil.

Oom OuKoos Voorkamer slaan die spyker op die kop as hy sê Kobus bied ’n klankbord vir teenargumente van die ander kant. Kobus se sotlike argumente karikatuur die geloof wat hom dryf. Sy onvermoë om homself oor te bring as iemand wat nie skuimbolle oor sy lippe laat dribbel wanneer hy uitvaar teen die wat nie saamstem met hom en sy "Skrynwerkerseun wat die wêreld tot stilstand geruk [het] en weer oor laat begin" het (brief aan Cornelius) dien nie sy saak nie. Geen ateïs kan meer skade doen aan die Christen geloof as hierdie RIDDER van God nie.

Daar is natuurlik die moontlikheid, selfs werklikheid, dat almal aan die ongelowige kant uitsluitlik behep is met hul eie opinie (myself ingesluit) maar dit hoef nie so te wees as ons onsself kan weerhou, ten minste meeste van die tyd, van Kobus-gedrag. Daar is baie gelowiges wat êrens in die middel sit en wonder oor die stories van Noag, Abram, Josef en Jona. Die probleem van kwaad in die wêreld en die probleme van godsdiens met evolusie en die oorsprong van ons heelal spook by baie gelowiges. Nie almal van hulle ly aan "Saturday Night Fever" (jammer Cornelius) nie. Die "debat" in die loopgrawe is bedoel vir hulle. Dit is dus nie noodwendig ’n middeweg tussen twee loopgrawe wat gevind moet word nie, maar eerder die middeweg self wat aangespreek word. In hierdie opsig "preek" elkeen uit sy eie loopgraaf nie vir die in die ander loopgraaf nie, maar vir die oorgrote meerderheid in "no man's land" (nie bedoel as belediging nie). Dit doen ek met die oortuiging, noem dit geloof as jy wil, dat die Kobusse van die wêreld onkunde, oneerlikheid en haat propageer op ’n tyd wat die mensdom voor uitdagings en probleme staan wat nie ’n tweede Middel Eeu sal oorleef nie.

Groete uit die loopgraaf en mooi bly

Gilgamesh