Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet

Wouter in die loopgrawe van kennis en van weet ...


Kobus de Klerk - 2012-01-13

Ja, Wouter

Mens kan alles bestudeer én dan daardie inligting aan ander kommunikeer – maar dit is maar slegs die begin. Die kruks van die vraag is of jy verstáán wat jy lees, wat jy hoor, wat jy leer. Is dit net inligting, of is die nodige dinamika van begrip en perspektief ook beskikbaar … dít is die vraag.

Nou, oor ’n saak soos spiritualiteit, wat meeste van julle nog nie baasgeraak het nie en selfs die bestaan daarvan betwyfel en indien nie, hoegenaamd nie eens weet wat dit selfs in eenvoud behels nie, kán julle eenvoudig nie verstaan waarvan ons, vir wie spiritualiteit ’n lewenswyse is, praat wanneer ons oor spirituele interaksie met mekaar praat nie. Dit is darem báie logies, of hoe.

Dus, waar dit by sake spiritualiteit aankom, het julle ’n inligting-kennis, maar wat vir julle niks verder (kan) beteken nie, omdat dit maar vir julle ’n woord is, maar sonder werklike inhoudsbevoegdheid, terwyl dié woord vir ons wie dit beleef ervaar, ’n hele lewenservaring daarstel. Soos ’n blinde oor die kleurspektrum – inligting het hy, maar dit beteken werklik niks, want hy kan dit nie sien en ervaar nie, en weet daarom eintlik dan niks werklik, daarvan af nie.

Weereens, want ek het dit mos al genoem – as jy nie begrip vir julle dilemma hieromtrent kan ontwikkel nie, sal jy maar bly kommentaar lewer wat nie relevant is nie.

En, uiteraard, dieselfde geld vir kennis omtrent dinge Gods, omdat God juis in die Spirituele dimensie bedrywig is. Al wat júlle as buitestaanders kan agterkom, is die dikwels fisiese manifestasie, maar gepaard met ’n onvermoë om dit in sy korrekte perspektief te verstaan en te interpreteer. Soos die blinde wat sonbrand opdoen, maar nie die sonlig kan eien nie. As iemand hom nie vertel hy is in die son nie, en hy dit natuurlik glo nie, sal hy meen dit is sy vel self wat so snaaks maak. Die sonlig verteenwoordig in die voorbeeld, die Spirituele energie.

Ongeag dus jou lang omhaal van woorde, is dit steeds vir julle agnostici ’n geslote onderwerp as die buitestaanders – by julle eie keuse, natuurlik.

As jy Comestor reg opsom Wouter, is Comestor lankal nie ernstig op te neem nie. Hy is met sy religieuse kommentare en disseksies op ’n eenman-soektog wat al meer desperaat voorkom en ál meer in die verkeerde rigting neig. Comestor se aanmatigende aanspraak van ontwikkelingsvlak gemeet aan afname in religieuse aktiwiteit, is só verregaande en oneerlik, nes sy fabelagtige konstruk van Godsdiens sonder God (wie dien jy dan met die Godsdiens as daar geen God is om te dien nie?) Hy wil daardeur voorgee dat die ganse mensdom, met uitsondering van die minuskule paar agnostici, almal onderontwikkeld is – hulle is mos religieus aktief en wíl so wees. Die werklik weerspreek hom natuurlik – daar is waarskynlik báie miljoene gelowiges en ander religieuses wat in alle belangrike opsigte véél meer ontwikkeld as hy, byvoorbeeld, is. Comestor vermaak net homself met sy snert en hy raak al erger – en ons weet hoekom. Sy tyd is min en spandeer al sy tyd aan sy soektog. Sy ateïstiese verskansing is besig om ernstig te verkrummel. Hy stry verbete om die gate wat inval, gou weer toegestop te kry … Daarom probeer hy báie hard om homself oortuig te hou van sy eie agnostisiteit. Ons weet waarom dit gebeur, of hoe? Dit is mos al baie verduidelik – daardie haas onverkwikbare ateïstiese selfdesepsie wat gedurig honger na voeding …

En nogeens, Wouter, as jy werklik wil weet wat aangaan, raak dan werklik betrokke. Anders sal jy maar altyd, wat dít aanbetref, die irrelevante buitestaander bly – by jóú keuse, nie omdat iemand jou wil uitsluit nie.

Groete,

Kobus de Klerk