Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet

Hoe klink ’n vallende boom as niemand dit hoor nie?


Angus - 2012-01-12

Daar doer in een van die multiversums is daar ’n planeet net soos ons aarde, met hominides nogal baie soos ons. Al verskil is, hulle gebruik hulle sintuie ’n bietjie anders as ons.

Hulle gebruik bv hulle gesigsintuig om mee te proe. Hulle het hope kunsgalerye wat hulle met smaak beskryf. Wat ons kan sien, dit ruik hulle. Groen ruik vir hulle soos suurlemoen, en wat ons hoor, dit sien hulle. Die 1812-overture van Tsjaikofski, daar waar die kanonne so bulder, lyk vir hulle soos klappers wat die Indiërs met Divali skiet. Hulle kan wel hoor, maar net die gedagtes van ander hominides, en wat óns dink as hulle ons ou aardetjie kom besoek. Hulle besit geen tassintuig nie en kan dus ook nie voel as jy aan hulle vat nie. Hulle kan egter van ver af die fynste beweging waarneem deur hulle velle.

Die berugte Elizabeth Klarer, het al van hulle ontmoet toe sy nog geleef het.

“As ’n boom val in ’n verlate woud daar op julle planeet, maak dit ’n geluid?” het sy vir hulle gevra.

“Hoe het die film ‘Gone with the wind’ vir jou geruik?” wou hulle weer by haar weet.

Dit laat ’n mens dink, nè! As niemand naby is om dit te hoor nie, maak ’n vallende boom dan nog ’n geluid?

Groete

Angus