Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet

Jaco: Nog notas oor die doodstraf


Wouter - 2012-01-12

Hello Jaco

Baie dankie vir jou reaksie. Daar is nie veel waaroor ek wil verskil nie, behalwe om van my kant af puntenerig te wees oor die betekenis van “lynch mob”. Die betekenis daarvan moet nie letterlik gelees word as die historiese verskynsel daarvan in die VSA wat ’n werklike tragiese aspek van daardie land se geskiedenis was en so laat soos 1968 eers onwettig verklaar was. Die bedoeling wat ek eerder probeer oordra het is dat dit na die impuls verwys, soos gesien in die kommentaar in die media van die burgers wat sonder terughouding aandring op die doodstraf.

Die vraag is en bly nog steeds of dit die korrekte fondasie vir ’n regstelsel is, die impuls wat ek beskryf het as ’n dors na bloed.

Die kern van my reaksie wil eerder fokus op die vertelling in jou brief wat fokus op die jong man se arm wat deur ’n dwelmbaas brutaal met ’n byl vermink is. Dit is skokkend asook die skrikbewind wat gevoer is in daardie area. Sulke verhale laat die argument oorswaai na die wat ten gunste is vir die doodstraf en laat die wat dit teenstaan oorkom asof hulle sag op misdaad is.

Dit is daardie oorweldigende reaksie wat aansprake vir die doodstraf as gewild bewys en sal ’n referendum dit bevestig.

Tot en met ’n jaar terug het ek gebly in Arcadia, Pretoria en onthou ’n tydperk in 2005 waar die woonstel langs my bewoon was deur prostitute en die ander woonstel een af in die gang deur dwelmhandelaars. Dit was ’n donker tydperk. Die klimaks was egter een aand toe die inwoners van die woonstelle voor my woonstel stry begin kry en hardhandig met mekaar geraak het. Nog nooit het so ’n bang muis soos ek probeer om nie ’n geluid te maak nie.

Dit was nie aangenaam nie, geen twyfel nie, geringe ervaring daarvan en dit wat al gelees is daaroor bevestig sonder enige twyfel die ondraaglikheid daarvan.

’n Jaar later is hulle uit die blok na klopjagte en die toewyding van ’n trustee wat as ’n kaalkop jongman nie ’n enkele bang haar op sy kop gehad het.

Sag op misdaad is ek dus glad nie. Wat ek wel ondersteun is ’n beperking op die staat se mag op mense te dood op hierdie manier.

Die veronderstelling was van die begin af dat jy nie sal afstand doen van wat jy beskryf as jou sentiment oor die onderwerp en dit was ook nie doelwit van my aanvanklike briewe om jou as sodanig te probeer oortuig nie.

Hierdie is ’n belangrike onderwerp en een wat ek later sal wil herbesoek aan die hand van ’n opstel wat ek gelees het van John Paul Stevens, afgetrede regter van die Amerikaanse “Supreme Court”.

In sy opstel maak hy die volgende opmerking:

Two years ago, quoting from an earlier opinion written by Justice White, I wrote that the death penalty represents “the pointless and needless extinction of life with only marginal contributions to any discernible social or public purposes.”

Die volgende is nie genoegsame rede nie: “the primary public benefits of the death penalty are “political exchange and cultural consumption”.

Jou sentiment word dus verstaan, net soos die uitoefening van die doodstraf my verstand volkome te bowe gaan sonder dat ek sag op misdaad is.

Laat dit kan terugkom in Suid-Afrika is sekerlik moontlik, so onlangs soos 1966 was die oorgrote meerderheid van die VSA teen die doodstraf gekant volgens ’n meningsopname uit daardie tydperk. Jou voorbeelde en die algemene stand soos dit nou bekend is en daarna uitsien bevestig hoe daardie gety gedraai het.

Skuld jou oor die ANC.

Baie dankie

Wouter