Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Briewe | Letters > SêNet

Oor Afrikaans en universiteite


Johannes Comestor - 2012-01-12

Richard van der Ross, die rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) van 1975 tot 1986, het in sy intreerede die wens uitgespreek dat hierdie inrigting by uitstek die werkersklas moet dien. Gedurende sy ampstermyn was die onderrigtaal van die UWK oorheersend Afrikaans. Hierna het die UWK ’n era betree waarin pro-ANC-politiek voorrang bo akademiese oorwegings geniet het. Die oogmerk was dat die universiteit nie uitsluitlik vir bruin studente mag bestaan nie, dus nie ’n apartheidsinrigting mag wees nie. Die toelatingsvereistes vir studente is verlaag. Eintlik is die reg van die "regime" om toelatingsvereistes te stel, ontken. Dit het veral twee gevolge gehad. Enersyds was daar ’n toestroming van swart studente, wat nie sonder weerstand van die bruin studente verloop het nie. Andersyds is die UWK getransformeer tot ’n eentalige Engelse inrigting.

Hierdie twee veranderings, tesame met die UWK se geskiedenis van politieke onrusstoking en geweld, het die ANC-kamerade dermate beïndruk dat hulle besluit het die UWK moet vergoed word vir die rol wat hy in die "bevrydingstryd" gespeel het. Toe die opset by hoër onderwys verander is deur universiteite en technikons te laat saamsmelt, het die betrokke minister, Kader Asmal, die UWK (soos die Universiteit Fort Hare) vrygestel van amalgamasie. Om nie-akademiese (naamlik politieke) redes kon hierdie twee universiteite ongeskonde bly voortbestaan.

In my bespreking van Van der Ross se outobiografie het ek daarop gewys dat hy net lof vir die eentalige Engelse UWK het en dat dit strydig is met sy ideaal van ’n universiteit vir die (bruin) werkersklas, wat oorheersend Afrikaanssprekend is (SêNet, 1.04.2010). Van der Ross het dit daarna in ’n onderhoud toegegee. Die onverkwiklikste gevolg van die UWK se verengelsing is sekerlik dat sedertdien van die Universiteit Stellenbosch (US) verwag word om vir hierdie taalleemte te vergoed. Die US word nou voorgehou as die akademiese tuiste waar voorkeur aan bruin studente en dosente gegee moet word. Weereens is dit ’n verpolitisering van die akademie. Suiwer akademies is daar geen rede waarom bruines bo veral wittes (wat die US uitgebou het) bevoordeel moet word nie. Die ergste is dat hierdie bevoordeling onder die voorwendsel van die bevordering van Afrikaans geskied, terwyl dit algemeen bekend is dat baie ontwikkelde bruines verkies om as Engelssprekendes beskou te word.

Vir my standpunt het ek onlangs ’n mate van steun van die politikus Peter Marais ontvang. Hy skryf die UWK "kon vandag die vaandeldraer van Afrikaans gewees het. Maar die alma mater van duisende bruin Afrikaanses ... was verswelg deur swart studente wat op Engels aangedring het. Dieselfde noodlot wag vir enige uitsluitlik Afrikaanse universiteit. Sodra iets van goeie gehalte of waarde is, word dit deur dié wat nie daarvoor gewerk het nie, opgeëis en verengels" (Die Burger, 4 deser, p 8).

Ek het meer eerstehandse kennis van die tradisioneel Afrikaanse universiteite as van die vier Engelse universiteite (Kaapstad, Natal, Rhodes, Wits) wat voorheen hoofsaaklik wit studente gehad het. Maar my persepsie van ons universiteite is onlangs, soos voorheen (SêNet, 27.06.2011), deur die gesaghebbende historikus RW Johnson gestaaf (Die Burger, 5 deser, p 11). (Terloops, hierdie skrywe was gereed vir versending voordat ek gister kankeraar Wouter se "wenk" gelees het.) Johnson: "Die eertydse Engelse universiteite ... het in die praktyk semi-staatsinstellings geword waarvan die visekanseliers [rektore] nie sonder ANC-instemming aangestel kon word nie." Hy noem dat ons universiteite "opgehou het om ruimtes vir kritiese denke te wees." Pleks daarvan word "politieke korrektheid jeens die ANC omarm." Transformasie word begeer, wat "verandering ooreenkomstig die ANC se riglyne" beteken.

Die kriteria vir universiteitstoelating word verslap, "terwyl voorgegee is dat die standaarde gehandhaaf is." Omdat skoolonderrig nie op standaard is nie, word dit nou van die universiteite verwag om dit te verskaf. Universitêre standaarde is verlaag, maar die universiteite beweer dat hulle tot "uitnemendheid" verbind is. Die waarde van ’n graad in die arbeidsmark het "afgryslik ... verminder." Swart akademici word "aangestel bo hul meer verdienstelike wit eweknieë ... die navorsingsbydraes van hierdie nuwe aangesteldes [was] dikwels bespotlik." Johnson noem dat die magte van visekanseliers en universiteitsrade toegeneem het. Daar is nou "nuwe ideologiese hekwagters regdeur die akademiese strukture in gesagsposisies." Volgens hom is die resultaat dat ons universiteite die land in die steek gelaat het.

’n Mens kan fatalisties wees en redeneer dat die universiteite maar net die agteruitgang van die land oor die afgelope twee dekades weerspieël. Geen verbetering is tans in sig nie. Die ANC is besig om selfvoldaan sy gewaande suksesse te vier en sy onvermoëns en mislukkings te ignoreer. Maar daar moet liewer êrens ’n begin gemaak word om ’n ommekeer te bewerkstellig. ’n Moontlik verdienstelike beginplek is ons universiteite. In die apartheidsera was daar talle akademici wat op akademiese vryheid en universitêre outonomie aangedring het; dít terwyl dit toe (anders as nou) standaardpraktyk was dat die akademici die rektore, vise-rektore en dekane op akademiese gronde kon benoem. Die universiteitsenaat (professore) was die hoogste akademiese gesag; nie die universiteitsraad en sekerlik nie die onderwysminister nie.

In hierdie stryd behoort ware akademici (diegene wat om akademiese redes aangestel is) die voortou te neem. Oor die hele politieke spektrum heen behoort dosente en volwaardige studente (diegene wat gehaltegewys op die kampus hoort) aan hulleself ’n akademiese ideaal te stel en hulle aktief daarvoor te beywer. Daardie ideaal is: Die akademies beste dosente moet die akademies beste onderrig aan die akademies beste studente verskaf. Of soos Allan Bloom dit stel: "Better education for the best people" (SêNet, 6 deser).

Hiervoor is die ideologiese neutraliteit van ons universiteite ’n voorvereiste. Dit beteken dat ’n universiteit nie op die bevoordeling van ’n bepaalde etniese groep (soos nie-wittes, bv bruines) of ’n enkele geslag (bv vroue) ingestel moet wees nie. ’n Universiteit moet nie politieke ideale soos die propagering van ’n spesifieke staatsvorm (bv demokrasie) en etniese diversiteit op die kampus nastreef nie. Staatsvorme en etnisiteit is verskynsels wat objektief en wetenskaplik aan universiteite bestudeer, nagevors en onderrig (pleks van gepropageer) moet word. Die studente moet aan ’n verskeidenheid standpunte blootgestel word. Dit is noodsaaklik dat die rektor hierin die akademiese leier moet wees. Hy moet in murg en niere ’n deurwinterde akademikus wees en nie ’n aktivis ten behoewe van die heersende ideologie nie.

’n Uitmuntende universiteit kan in ’n nie-demokratiese land bestaan. Ongelykheid is ’n wesenskenmerk van die universiteit. Die eerstejaarstudent is akademies nie die gelyke van die derdejaarstudent nie. Die voorgraadse student is akademies die mindere van die nagraadse student. Die junior lektor het nie die akademiese statuur van die lektor, senior lektor, mede-professor of professor nie. Die klerk in die universiteitsadministrasie het nie die akademiese gewig van die dosent of navorser nie. ’n Student behoort nie toegelaat te word om aan ’n universiteit voor ter skryf of eise te stel nie; des te meer as die student uit ’n skool kom wat kwalik ’n skool genoem kan word. Die universiteitsadministrasie is daar om diensbaar aan die dosente en studente te wees; nie om bevele aan die akademiese personeel uit te reik nie.

’n Monokulturele universiteit kan ’n uitstekende akademiese inrigting wees. Om praktiese redes is ’n enkele onderrig- en administratiewe taal wenslik. Maar daardie taal hoef nie Engels te wees nie. Ons geskiedenis toon dat uitnemende en eksklusief Afrikaanse universiteite moontlik is. Al wat nodig is, is om akademies georiënteer (en nie ideologie-gesentreer nie) te wees. In die vorige politieke bedeling was die universiteite se akademiese standaarde heelwat hoër as tans. In die jare sestig en sewentig was die oorgrote meerderheid universiteitsdosente wit en Afrikaanssprekend. Deesdae word daar teen hulle gediskrimineer. Die akademiese agteruitgang is dus verklaarbaar.

Johannes Comestor