Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Nederlands | Dutch > Rubriek: Refleksies

Mutilasie as verskrikking in 30 Nachten in Amsterdam en andere


Carina van der Walt - 2012-01-03

Die Nederlandse 30 Nachten in Amsterdam het middel November 2011 by Uitgewery Podium verskyn. Die vertalers was Karina van Santen en Martine Vosmaer. In 2010 het dit Etienne van Heerden se tweede Hertzog-pryswenner geword. Met hierdie toekenning word Van Heerden se eerste Hertzog-prys van 1989 met De betoverde berg weer uit die vergetelheid opgediep. Van Heerden kodeer mutilasie as deel van albei romans. Daar is ’n verskil van ongeveer twee-en-twintig jaar tussen die twee romans, maar Nederlanders is mal oor literêre pryse – en dus bekroonde romans!

Daarom gaan ek op ’n tipies Nederlandse manier die twee met mekaar vergelyk. Tydens ons gesprek in Amsterdam in Junie 2011 laat Van Heerden hom nie inperk deur net oor 30 Nachten in Amsterdam te praat nie. Eerstens val die snelheid en tweedens die volgorde van die vertaling op. Toorberg (1986) het vyf jaar later De betoverde berg (1991) in Nederlands geword. Daarteenoor is 30 nagte in Amsterdam (2008) drie jaar ná sy verskyning in Afrikaans eers in Engels en later in 2011 in Nederlands vertaal. 

Waarom is 30 Nachten in Amsterdam eers in Engels en daarna in Nederlands vertaal?

Engels is die brugtaal. Dit is die taal van Londen en Londen “is very much the hub of the international literary world”. As dit gaan om voorleggings van jou teks internasionaal, is dit baie goed as die teks reeds in Engels verskyn het. Al my vertalings was tot dusver eers in Nederlands. Met betrekking tot die Nederlandse vertaling was die reeds vertaalde Engelse teks ’n ekstra verwysingsraamwerk. Vertaling is interpretasie. Dit was nogal kreatief om so tussen Afrikaans en Engels te beweeg en om die Nederlandse vertaling daar iewers tussenin geposisioneer te sien.

Hoe het 30 Nachten in Amsterdam ontstaan?

In 2007 was ek drie maal in Amsterdam. Dit is ’n tyd wat my geweldig energie gegee het. Ek was op besoek by ’n vriend aan die Amstel. Zan se stem het letterlik na my toe gekom. Ek het haar gehóór as ’n soort sintaksis: hierdie verwronge, gemutileerde taal. Dit was vreemd – byna soos ’n Lucebert-agtige intrede. Ek het na my woonstel op die Spui teruggegaan en dit gaan neerskryf. Gewoonlik begin ’n roman by my deur ’n visuele beeld, iets wat ek sien.    

Daar is ’n ooreenkoms tussen die karakters in 30 Nachten in Amsterdam en De betoverde berg. Zan verwys vir my na KênsTillie en Druppeltjie, die seun Henkie verwys na die volwasse Waterwyser (albei met hulle botteltjies insekte of water om hulle lywe) en Ouma Olivier verwys na al die Abels Moolman. Is hier sprake van ’n persoonlike literêre werkswyse?

Ek dink so, ja. ’n Skrywer werk regtig nie aan ’n boek en dan weer aan ’n volgende boek nie. Hy werk aan ’n oeuvre. Binne-in die oeuvre skakel dinge (soos karakters dus) iewers aan mekaar. Ek herken ook kodes van mutilasie of verminking in my werk. Patrone ontstaan op so ’n manier. Ek glo baie sterk aan die organiserende vermoë van die onbewuste. Daarom moet mens oor jou storie gaan slaap! Die skrywer is besig om ’n persoonlike mitologie op te bou.

My vrou sê al die karakters in my boeke verwys op die een of ander manier na my. Hulle is almal ék. Maar in ’n ander roman, in Kikoejoe, is die seuntjie Fabian, wat baie nader is aan Henkie as Waterwyser. Tante Geert in Kikoejoe is geïnspireer deur ’n tante van my, Petronella van Heerden, die eerste vroulike dokter in Suid-Afrika. As voorsorg teen borskanker het sy albei haar borste laat afsit. Selfverminking. Tante Geert sluit aan by Zan, wat haarself en haar geliefde Wehmeyer mutileer. Self voel ek baie nader aan Zan as aan Henk.

Die afgelope Sondag gesels ek met my 87-jarige skoonmoeder in Amsterdam oor De betoverde berg. Sy het met Van Heerden kennis gemaak deur Het zwijgen van Mario Salviati, “maar ook als ik niet wist dat het dezelfde schrijver was, proefde ik snel dezelfde sfeer”. Dit is wat Van Heerden tydens ons onderhoud genoem het die tekstuur van die Karoo; die Karoo as “the landscape of the mind”.    

Stem die slot van 30 nachten in Amsterdam en De betoverde berg ooreen? Elkeen bevat tog ’n sekere toekomsvisie?

Nee, ek sien geen ooreenkoms nie. De betoverde berg is ’n roman oor kollektiewe skuld. 30 Nachten in Amsterdam is meer ’n roman oor plek en verplasing. Maar albei die romans postuleer seker ’n soort toekomsvisie.

Die plek waarna Henk terugkeer in 30 Nachten in Amsterdam is die askol waar Wehmeyer verbrand is; “the terrible site of history, of beauty”; die askol van die geskiedenis waar verskriklike dinge gebeur het, opgeofferdes, oorblyfsels. Daar dans hulle op die askol en hulle vier die riel, die foxtrot, die ou Khoisan-danse. Al daardie tale van die lyf word bymekaar gebring op die askol. Dis ’n bymekaarbring van tale en uitdrukkingswyses. Viering en verdriet op een plek. Dis ’n soort tuiskoms, ja, maar nie veilig nie. Dis eerder paradoksaal.

En ek onthou ’n Kaatjie Danster wat wegdraai van ’n verminkte Druppeltjie se boorgatgraf. Dis háár nageslag, die skaamfamilie, wat Toorberg in die toekoms sal bestuur. Dit bly haar tuiste en haar veilige hawe, maar sy is nie leedvermakerig nie, eerder bewoë. Sy kon ook nie sê wie skuldig was nie. Wat is skuld? Wat is onskuld? Sy het eerder empatie met die verskriklike beslissing wat Abel Moolman moes maak; empatie met die onvermydelike ondergang van ’n hartvogtige boerefamilie.

Vir wie hier twee Hertzog-wenners noukeurig lees en met mekaar vergelyk, word die ragfyn kodes van mutilasie in baie karakters sigbaar – as ’n soort verskrikking.