Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Drive ’n sprokie met ’n hart van bloed


Jacques Liebenberg - 2011-12-23

Drive

Regisseur: Nicolas Winding Refn
Kamerawerk: Newton Thomas Sigel
Hoofspelers: Ryan Gosling, Carey Mulligan en Albert Brooks.
Tydsduur: 100 minute

Drive is ’n sprokie.

Maar ’n sprokie soos A Fistful of Dollars en Wild at Heart sprokies is.

Dis ’n sprokie wat met liefde geskep is en uitgebeeld word – van die amper anderwêreldse klankbaan en die vloeiende, pienk letters van die titel en akteurs se naam tot die nabyskote van sy hoofspeler en die kleurspel van toneel tot toneel.

Waarin die Deense regisseur Nicolas Winding Refn in maar sy tweede Engelstalige fliek so uitmuntend slaag, is om ’n parallelle heelal te skep waarin daar geen afdraaipad of maklike uitweg is nie. Dis ’n wêreld waarin die kyker hom nie kan begeef nie, soos blyk uit die histeriese gelag van EI-lose fliekgangers wanneer die bloed eers begin spat. Dis ’n wêreld waarin ander dalk die septer swaai, maar waarin Ryan Gosling se waaghals-en-wegkom-bestuurder die laaste sê het.

Gosling het eintlik maar twee of drie stukkies insiggewende dialoog in die fliek: wanneer hy sy werksetiek aan voornemende kliënte verduidelik en wanneer hy sy oulike buurvrou, Irene (Mulligan), ’n vlietende blik in sy hart gee. Andersins sê hy min en laat sy hande en voete die werk doen. Dis ’n dans waarvan mens nie kan wegkyk nie; so mooi soos dit is, so vreesaanjaend is dit ook. Die waarskuwing van dit wat kom, is allermins subtiel: ’n voormalige “kliënt” knoop ’n geselsie aan en Gosling se reaksie gryp die lug uit mens se longe.

Dis ’n voorbode.

Nog ’n voorbode is die heelwat rooi wat in talle skote gebruik word. Refn skep met sy gebruik van kleur – nogmaals rooi; ’n bietjie blou – die soort atmosfeer wat Wong Kar Wai in In the Mood for Love oor die groot skerm laat spoel het. Dit word afgewissel deur “droomtonele” soos die een waarin die bestuurder Irene en haar seun op ’n uitstappie in die vloedwaterkanale neem.

Maar dan slaan die harde en onvermydelike werklikheid met die komplimente van ’n skynbaar wenkbroulose Albert Brooks en stiksienige Ron Perlman toe en dit tref mens soos ’n hamerslag teen die voorkop. Refn wys nogmaals daarop, soos Michael Haneke dikwels regkry, dat woorde onnodig is wanneer jou beelde en akteurs sterk genoeg is. Dit word die beste geïllustreer in die ysingwekkende hysbaktoneel; ’n sekwens wat Irene verwese en alleen laat.

Ja, daar’s raakpunte met Walter Hill se ’70’s-riller The Driver met Ryan O’Neal en Isabelle Adjani, maar Drive is veel wanhopiger, bloot omdat Gosling se karakter, anders as O’Neal s’n, vir ’n oomblik gehoop het op méér as die adrenalien wat die wegkom-jaagtog bied. Soos alle goeie sprokies is dit ’n tragiese een.

Hierdie fliek, geskryf deur Hossein Amini (Jude en The Wings of the Dove, maar ongelukkig ook Killshot; gegrond op James Sallis se roman),  behoort in gelyke mate aan Gosling en Refn. Hulle vertel hulle het die idee daarvoor gekry terwyl hulle in Los Angeles rondgery en na musiek geluister het. Hoewel dit ’n gestroopte prent is wat dialoog en intrige betref, is die impak daarvan nie daarom minder nie. Die ontknoping is bietjie uitgerek, maar dis eerder ’n waarneming as kritiek.

Dis ’n versugting, maar mens hoop tog meer flieks soos Drive sien die lig. Dis ’n prent wat die kyker uitdaag om sy grense te verskuif en mense met AAS uit sulke teaters behoort te hou.