Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews

Die twee stories van Jan Mouton: Pieter Schoombee gaan drink tee by PSG se hoofkantoor


Pieter Schoombee, Jannie Mouton - 2011-12-23

Eerste indruk: Die voorsitter van PSG Group kom haal my self by Ontvangs; hy stuur nie sy sekretaresse nie.

Tweede indruk: Goeie handdruk, geen glimlag nie. Hy groet met net: “Jan Mouton.”

O, en ek het gedink dis “Jannie”. Dis wat daar staan, op die buiteblad van die boek oor hom wat Carié Maas geskryf het. (Jannie Mouton “en toe fire hulle my”, uitgegee deur Tafelberg en te koop teen R195.) Maar nouja, miskien is “Jannie” net vir sy vriende.

Derde indruk: Netjiese kantoor aan die einde van ’n kort gang op die eerste verdieping van ’n historiese gebou. Groot, maar nie grootdoenerig nie, met ’n venster wat uitkyk oor Kerkstraat in die middel van Stellenbosch. Boeke teen die mure, ’n netjiese mens se lessenaar. Om die hoek ’n rusbank, twee gemakstoele en ’n koffietafel. Hier sit ons.

Ek het kom gesels oor die boek, want dis ’n feit dat die storie van Jan Mouton se lewe maar vertel kan word. Vir diegene met ’n finansiële en sakebelangstelling sekerlik, maar ook die menslike verhaal maak ’n storie wat die meeste van ons sal wil lees.

Carié Maas gaan haal dit by sy kinderdae in ’n plattelandse skool – waar hy hoofseun was en toe duidelik reeds baie mededingend – en trek dit deur sy suksesse en teleurstellings tot by vandag, waar hy op 65 die tradisionele aftree-ouderdom bereik het. Nie dat hy sulke planne het nie. Die enigste toegewing wat hy maak, is om bietjie later kantoor toe te kom: “so 9-uur”.

Na skool is hy Stellenbosch toe om ’n graad in ekonomie te kry, maar in sy honneursjaar neem hy ekstra rekeningkundevakke, wat hom in staat stel om ’n klerkskap te kry en as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer. Toe gaan werk hy vir Federale Volksbeleggings, eers in die Kaap en daarna in Johannesburg.

Hy het “soos enige Calvinistiese boerseun” hard gewerk en sy plig gedoen, maar heeltyd ’n ongedurigheid gehad om sy eie salaristjek te skryf. Daardie tyd het GT Ferreira, Laurie Dippenaar en Paul Harris – vandag nog goeie vriende en sakegenote – begin met Rand Consolidated Investments (RCI). Dit was die voorloper van Rand Aksepbank en, soos hy self sy gevoel bewoord: “Man, ek het hulle beny.”

Jannie Mouton – "en toe fire hulle my"
Carie Maas
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624049319
Prys: R114.95

Klik hier en koop Jannie Mouton – "en toe fire hulle my" nou van Kalahari.net!

Dit het nog ’n jaar of wat van wik en weeg gevat, want ’n man moes mos dink aan die vrou en drie kinders, die huispaaiement, die maatskappymotor ... maar in Oktober 1982, toe hy 36 jaar oud geword het, het Jannie Mouton vir homself begin werk. Hy was bevriend met Johan Senekal, ’n aandelemakelaar by George Huysamer, en dié was weer goed bevriend met Jannie Kitshoff, wat besig was om ’n kapitaalmark-afdeling op die been te kry vir die einste RCI wat Mouton so beny het. Gesamentlik het hulle begin sake doen as die makelaarsfirma Senekal Mouton & Kitshoff, later verkort tot SMK.

Maklik was dit nie, maar jy kan die storie in die boek lees. Ons beweeg aan na 1995, toe SMK gegroei het van 42ste tot 6de of 5de grootste firma op die beurs, met groot trofeë teen sy muur – soos die noterings van Rand Aksepbank, Richemont en Naspers. Jannie Mouton was die besturende direkteur.

En dit bring ons by daardie aandagtrekker in die titel: “en toe fire hulle my”. Teen die middel van daardie jaar het sewe van sy mededirekteure, genoeg om die meerderheid te vorm, ’n staatsgreep uitgevoer en hom gevra om te bedank. Vir hom was dit heeltemal onverwags en natuurlik traumaties. Hier was hy, minder as twee maande voor sy 49ste verjaarsdag, die tyd van ’n suksesvolle sakeman se lewe waar hy kan verwag om die vrugte van sy sukses te pluk – soos sekuriteit – maar nou was die M van SMK sonder sy besigheid en sonder werk.

Die verhaal word boeiend vertel deur Carié Maas, maar ons spring weer tot by hierdie episode se slotreël: Uit hierdie vernedering het Jannie Mouton ’n groter sukses gebou as wat SMK was. Wat gevolg het, was die geboorte en groei van PSG. Die boek vertel ook daardie verhaal met vele staaltjies en interessanthede, maar die uiteinde is dat PSG deurgaans buitengewone opbrengste gelewer het vir die beleggers wat sy aandele die afgelope 15 jaar gekoop het.

’n Hoofstuk word aan elk van die groot suksesverhale in die groep gewy, soos PSG Konsult, Capitec, PSG Investment Bank en, kom ons hou duim vas, die Curro-skole. Ook aan die sooibrand by KWV en die teleurstellings by mCubed. As jy wil weet hoe Jannie Mouton sake doen, daar is twee dele daaroor. En nog een oor beleggings, vir die leser wat wens hy kan ’n hoogs suksesvolle belegger (die Boere-Buffett, het Moneyweb hom genoem) vra wat die geheim is.

Ek vra hom wat sy planne vir 2012 is. Hy sal bly fokus op geleenthede binne die PSG-groep. (Terloops, hy beskou “fokus” as deurslaggewend vir dissipline en sukses.) Dit sluit Capitec in, wat in ’n kort tyd reeds ’n reuse-spoor trap in die bankwese, Zeder, wat met sy landboubelange die groeiende geleenthede in Afrika kan benut, en ook Curro, wat ’n antwoord bied op die groeiende vraag na gehalte-onderwys.

Ek het self gaan kyk na die nuwe Curro-kampus op Hermanus, waar Muriel Viljoen my rondgewys het. Wat opgeval het, was die klem op tegnologie en die gehalte van die fasiliteite. Terwyl staatskole in die meeste provinsies agteruit boer, wil Curro ’n bekostigbare alternatief bied. Dit gaan oor gehalte-onderwys, dissipline en Christelike waardes, met ’n rekening van sowat R2 500 tot R3 000 per maand. Tradisionele privaat skole kan tot vier keer soveel kos.

Gaan dit werk? Jannie Mouton gee toe dis ’n risiko, maar vertel dat toe ’n Curro-kampus in Pretoria ’n rektor gesoek het, die hoofde van vier top-skole in die stad almal aansoek gedoen het. Laat jou dink.

Laaste vraag: Waar kom sy liefde vir boeke vandaan? Kleintyd al ’n leesgewoonte aangeleer toe Ma hulle gedwing het om elke week ’n Afrikaanse en ’n Engelse boek by die dorp se biblioteek uit te neem en haar te kom vertel wat hulle gelees het. Dis ’n gewoonte waaraan sy self ook tot op 90 getrou gebly het. Steeds lid van die biblioteek, as sy die kinders sien, wou sy hulle vertel wat sy gelees het.

Jannie Mouton vertel ook van sy passie vir Afrikaans. Die sterk standpunt wat hy oor die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch ingeneem het, is bekend. En sy merkwaardige private boekery sluit seker elke Afrikaanse roman in wat nog ooit geskryf is.

Dit het begin met die private biblioteek van Gert Kruger, ’n Stellenbosse teoloog. Dié was ’n unieke mens, vertel Mouton, wat nooit ’n motor of ander luuksheid gekoop het nie – al sy geld is aan boeke bestee. Die versameling is vir Mouton aangebied en hy het dit laat katalogiseer. As daar boeke gedupliseer is, is een aan Stellenbosch geskenk en die res het hy by Kruger gekoop. En daarvandaan het dit uitgebrei.