Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Moneyball weet wie die tjeks uitskryf


Jacques Liebenberg - 2011-12-22

Moneyball
Regisseur: Bennett Miller
Kamerawerk: Wally Pfister
Hoofspelers: Brad Pitt, Jonah Hill en Philip Seymour Hoffman
Tydsduur: 133 minute

Moneyball is ’n langerige, groot en belangrike fliek – boonop met groot name (behalwe nou Steven Soderbergh, wat glo die pad gevat het ’n paar dae voordat met verfilming begin sou word) – waarin eintlik maar ’n baie eenvoudige punt gemaak word (lyk dit baie na).

Lewe in die oomblik. Geniet elke deel daarvan – sonder om dit noodwendig te wil ontleed of in konteks te wil plaas. Moenie wag vir wat jy dalk dink die “groot oomblik” gaan wees nie. In The Handmaid’s Tale merk Margaret Atwood se hoofkarakter in ’n stadium tereg op: “(Ondanks hul omstandighede en probleme) … was ons gelukkig en ons het dit nie eens besef nie.”

Moneyball, gegrond op Michael Lewis se gelyknamige 2003-roman en met Capote-regisseur Bennett Miller aan die stuur, is eintlik maar ’n halfbiografiese fliek oor die oudbofbalspeler en nou hoofbestuurder Billy Beane (Brad Pitt), wat steeds probeer om sy Oakland A’s na ’n World Series-titel te stuur. Dis ironies. Veral wanneer mens na talle flieks kyk wat kwansuis op die werklikheid gegrond is: in baie gevalle is dit eerder op ’n klein deel van die werklikheid gegrond. Soos in dié geval: een, merkwaardige seisoen.

En hoewel dit seker maar oor bofbal gaan, gaan dit veel eerder oor Beane en die opdraandestryd wat hy op allerlei vlakke voer. Dié is ’n fliek wat om Pitt gebou is soos Invictus om Morgan Freeman se behoefte aan ’n Oscar vir ’n Mandela-vertolking gebou is. Daar’s talle skote van Beane wat rigtingloos in sy SUV ry; van Beane wat sy kantoormeubels verinneweer; van Beane wat sy jong dogter verseker sy werk is nie in die gedrang nie. Baie daarvan lewer nie veel van ’n bydrae tot die storie nie. Hoeveel van Beane se gedagtes kan die kyker nou peil deur in die skemerte na die blink van sy een oog te kyk?

Maar dis nog altyd moeilik om nie van Pitt te hou nie, en hier kry hy ’n mens gou weer in sy hoek. Sy Beane beweeg van ’n enigmatiese teenwoordigheid in die kantoor en ’n bestuurder verwyderd van sy spelers na iemand wat die manne in die kleedkamer moed inpraat en jou waarlik ’n bietjie emosie wys – hier ’n klop op die skouer; daar ’n stukkie raad. Dis in dié dele, en ook wanneer Beane in die bemagtigende lig van sy nuwe visie aan’t spelers verkwansel is, of wanneer hy skaars sy ongeduld en frustrasie kan beteuel in sy onderonsies met sy afrigter, Art Howe (’n besonder nors en bot Philip Seymour Hoffman; die antitese van sy titelkarakter in Capote), dat Pitt werklik skitter.

Die motivering vir sy houding word in ’n mate in deurlopende terugflitse verskaf ná sy werwing vir die topliga terwyl hy nog op skool was. Dit verleen aan die uitbeelding van sy karakter besondere diepte, veral omdat die jonger Beane haas g’n woord spraak nie. Die middeljarige Beane is ’n man wat een ding baie goed ken: teleurstelling.

Daarby, en hoewel die hele uitgangspunt gegrond is op die objektiwiteit wat in ’n wetenskaplike benadering bewerkstellig word, lê Moneyball se bekoring paradoksaal in daardie “iets” wat van die goeie sportfliek ’n half magiese ervaring maak. Want maak nie saak hoe goed jou spelers, spankeuse en strategie is nie; as die sportgode daardie dag nie vir jou glimlag nie, kan jy maar vergeet. Een van Moneyball se beste tonele is die een waarin Beane se groep ervare talentsoekers kandidate bespreek. Die een word summier buite rekening gelaat omdat hy ’n lelike meisie het. Dit dui op ’n gebrek aan selfvertroue, sien?

Die man wat Beane die lig laat sien, is die bleeksiel-syferman en rekenaarfoendi Peter Brand (Jonah Hill). Dis ’n fiktiewe karakter wat glo gegrond is op Beane se voormalige assistent, Paul DePodesta, ’n man wat aan Harvard studeer het en deesdae talent vir die New York Mets opspoor en ontgin. Die normaalweg maniese Hill lewer stewige spel as Beane se onwaarskynlike bondgenoot en bied as waarnemer eintlik maar die kykerperspektief. Dis ’n slim manier om die kyker nog verder te betrek.

Miller is ’n man wat weet om ’n storie te skik, soos hy in Capote gewys het. In Moneyball slaag hy weer daarin om ’n flink pas te handhaaf, en ondanks die fliek se looptyd van langer as twee uur, voel dit nooit na ’n uitgerekte affêre nie. Mens kan kritiek uitspreek wanneer daar nogmaals syfers en statistieke op die skerm geflits word om die boodskap tuis te bring, maar dis ’n klein irritasie.

Maak seker ook nie eintlik saak nie, want dié is Pitt se fliek.

En bofbal s’n.