Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Kennisgewings | Notices > Afrikaans

Tydskrif vir Geesteswetenskappe is vyftig jaar oud


Ina Grabe-Wolfaardt - 2011-12-15

Die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, gepubliseer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is vanjaar ’n volle vyftig jaar oud. Die Redaksie het dit goedgevind om ’n feesuitgawe saam te stel ter viering van hierdie besondere mylpaal en om die Desembernommer van 2011 hiervoor opsy te sit. Ons dank aan die agtien medewerkers wat bereid was om in die bydraes in hierdie uitgawe terug te dink oor die afgelope vyftig jaar en, in die konteks van hulle eie belangstellingsveld of akademiese dissipline, te besin oor die (voort)bestaansreg van die geesteswetenskappe; of anders aan te dui wat geesteswetenskaplike navorsing op spesifieke terreine behels.    

In Pieter Kapp se historiese oorsig van die bydrae van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (voortaan TGW) die afgelope vyftig jaar, word dit gou duidelik dat die tydskrif sy totstandkoming en voortbestaan te danke het aan die visie en toewyding van enkele individue – die stigters van die Suid-Afrikaanse Akademie in 1909 het vanaf die beginjare, ten spyte van finansiële druk, óók boeke en tydskrifte die lig laat sien; opeenvolgende redaksies het gesorg vir die werwing en keuring van geskikte bydraes en só die akademiese kwaliteit van die tydskrif jaloers bewaar; ’n ruim subsidie van die  L W Hiemstra Trust verseker tans die publikasie van die tydskrif.

Die leiding van die redakteurs, oftewel voorsitters van die redaksie, in die uitbouing van die TGW tot ’n gerekende publikasie op nasionale sowel as internasionale vlak blyk duidelik uit Kapp se analise van die TGW se “vyftig jaar diens aan die geesteswetenskappe”. Die redaksie bring met hierdie feesuitgawe graag hulde aan die vorige redakteurs van die tydskrif – professors P J Nienaber en Elize Botha het ons reeds ontval; professor Edith Raidt is ongelukkig weens swak gesondheid verhinder om ’n bydrae tot die feesuitgawe te lewer.

Dit is belangrik dat die TGW sy bydrae aan die geesteswetenskappe in Afrikaans    lewer. Kapp wys in hierdie verband daarop dat Afrikaanse intellektuele uitsette teen 1995 onder druk begin kom het. Nie net het tradisionele bronne van geldelike steun vir die Akademie minder begin word nie, maar Afrikaanse akademici en navorsers het toenemend traer geword om werk in Afrikaans te lewer omdat die klem aan die universiteite gelê is op internasionale tydskrifte en mededinging en op werk in Engels. Trouens, Afrikaans as wetenskapstaal word “beskerm” deur ’n handjievol tydskrifte met ’n voorkeurbeleid vir Afrikaans. Kapp merk tereg op: “Die historiese perspektief hierop is ’n bevestiging dat die Akademie se beleid as pleitbesorger vir spesiale versorging van en aandag aan Afrikaans se hoër funksies as wetenskaptaal ten volle geregverdig was en is.”  Gegee die beleid om uitsluitlik  Afrikaanse of Nederlandse artikels te plaas, met weliswaar ’n stewige opsomming in Engels, bly dit dan ’n besondere prestasie dat die Tydskrif vir Geesteswetenskappe tans op talle vlakke erkenning geniet: dit is nasionaal geakkrediteer; vanaf Maart 2009 is dit internasionaal geïndekseer in sowel Scopus (Elzevier) as die Social Sciences Citation Index (Thompson); dit is deur ASSAf op die Scièlo-webbladsy geplaas en Sabinet verskaf reeds ’n aantal jare ’n diens aan lesers wat artikels elektronies wil aflaai.

In sy ondersoek na “die idee van die gees” beklemtoon C S (Fanie) de Beer die noodsaak van geestesaktiwiteite in ’n tydsgewrig waar denke die gevaar staan om deur tegnologie en die “eeu van geestelike masjiene” verarm en verdring te word.

In aansluiting by ’n dergelike pleitrede vir ’n “meervoudigheid van denke” vra Danie Goosen in sy analise van die universiteitswese waarom die moderne en postmoderne wêreld gekenmerk word deur ’n voorkeur vir sogenaamde praktiese vrae ten koste van wat die tradisie nog as “die teoretiese lewe” beskou het.

Johan Beckmann karakteriseer die twee paradigmas wat onderwysvoorsiening in die tydperk 1961–2011 gekenmerk het deur te verwys na die tydperk vóór en na 1994: aan die een kant die paradigma van “afsonderlike maar gelyke onderwys” en aan die ander kant “die menseregte- of transformasie-paradigma” (laasgenoemde het veral gelykheid, regstelling en toegang tot onderwysgeleenthede beklemtoon).

Die volgende twee bydraes kontekstualiseer die twee onderwysparadigmas wat hierbo onderskei is, deurdat twee verskillende politieke scenario’s, van onderskeidelik die vorige en die huidige regering, geskets word – Albert Venter bevraagteken die “politieke teologie” onderliggend aan die utopie van ’n eie Afrikaner republiek van 1961, terwyl Leopold en Ingrid Scholtz die ANC se  onderneming tot niegewelddadigheid, veral teenoor burgerlikes, na aanleiding van die Konferensie van Kabwe krities bekyk. Volgens Venter het die politieke teologie van apartheid “...die teoretiese vertrekpunte van die Christelik-Westerse intellektuele erfenis waarop dit gebaseer was, negeer”.

Grietjie Verhoef ondersoek die “worstelstryd” wat die rekenmeestersprofessie gevoer het om op grond van etiese waardes en professionele standaarde “domeinbeskerming” te bewerkstellig.

Ook Lambert Engelbrecht, in sy ondersoek na die rol en betekenis van die ACVV, bevind dat selfstandige inisiatief, in hierdie geval gegrond op die strewe om op ’n holistiese wyse maatskaplike dienste aan die kwesbares in die samelewing te lewer, ’n organisasie kan help om politieke druk te verwerk.

Arnold S de Beer skryf krities oor die gebrek aan teoretiese diepgang in die opleiding van joernaliste en betwyfel die lank gekoesterde aanname in die joernalistieke praktyk dat nuus “objektief” weergegee kan word na aanleiding van die werk van Niklas Luhmann oor die “realiteit van die massamedia”.

Die volgende groep artikels het almal te make met talige kommunikasie as part en deel van kultuur in die wydste moontlike sin van die woord. In haar ondersoek na die funksie van die metaforiese en die letterlike in geloofstaal wys M Elaine Botha op die “potensieel gedifferensieerde kwalifikasie van verskillende soorte taalgebruik, waarvan geloofstaal een tipe taal is. Regstaal en kerklike regstaal verskil, so ook liefdestaal in die huwelik en gesin en die taal van onderrig en so ook die taal van die politiek en van die joernalistiek”.

Danie Strauss, in sy ondersoek na “skakeringe van die begrip kultuur” wys eweneens  daarop dat  die woord “kultuur” ’n ryk-geskakeerde betekenis besit en dat taal gedifferensieer kan word ten opsigte van “... ’n verskeidenheid sfere, met name sosiale kontekste (omgangstaal), ekonomiese taal, kunstaal, regstaal, liefdestaal, geloofstaal en wetenskapstaal”. 

Die ineengestrengeldheid van kultuur- en taalaktiwiteite word ook duidelik uit Izak Grové se ondersoek na die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaanse kunslied die afgelope honderd jaar – iets wat volgens hom ondenkbaar sou wees “...sonder ’n simbiose met die digkuns”.

Hennie van Coller ondersoek die uitbeelding van die verlede in verteenwoordigende Afrikaanse prosawerke aan die hand van begrippe uit die vertaalteorie, soos vervreemding, “...’n doelbewuste vreemdmaking van die bronteks en -kultuur” (dus: vreemdmaking van die verlede) en domestikering, “...’n strategie om die onbekende meer bekend te maak” (dus: ’n poging om die vreemdheid van die verlede te minimaliseer).

Die laaste groep artikels het steeds met taal te make, maar nou meer spesifiek afgestem op die (Afrikaanse) taalwetenskap. Piet Swanepoel bestudeer vanuit die kognitiewe semantiek die inhoud, struktuur en funksie van die kategorieë van die (on)natuurlike, bo- en buitenatuurlike, die (ab)normale en die wonderlike en die onvermydelike ontologiese en epistemologiese kwessies wat daarmee saamgaan aan die hand van twee Nederlandse natuurhistoriese tekste. 

Jac Conradie  het dit ook oor woorde – in hierdie geval die moontlike herkoms van die woord “regtig” in Afrikaans. Sy uiteensetting van die “geskiedenis” van die woord illustreer die multitalige en multikulturele aard van Afrikaans. Hy verduidelik dat die Afrikaanse modale partikels rêrig en regtig in die betekenis “waar(-lik), eg, werklik”  wisselvorme is.

Afrikaans se Europese verlede blyk natuurlik ook uit die ooreenkomste op byvoorbeeld fonologiese vlak met Nederlands. Wim Zonneveld merk op dat bepaalde benaderings vanuit die generatiewe grammatika geïllustreer kan word met behulp van ’n aantal fonologiese prosesse wat Afrikaans met Nederlands deel.

In teenstelling tot die vorige twee bydraes, waar Afrikaans se Europese herkoms ten opsigte van woordontleding uit Duits en fonologiese ooreenkomste met Nederlands bespreek is, kyk Ernst Kotzé in sy bydrae na die oënskynlik teenstrydige doelwitte van demokratisering en standaardisering vir inheemse tale.

Die laaste bydrae deur Michael le Cordeur sou op een vlak gelees kon word as ’n illustrasie van die gevolgtrekking in die vorige artikel: die skrywer ondersoek naamlik uit ’n sosiokulturele perspektief verskeie variëteite van Afrikaans as draers van identiteit. Die outeur meen “dat persone se huistaal, in welke variëteit ook al, meer is as net ’n kommunikasiemiddel in post-apartheid Suid-Afrika”.

My dank aan die redaksiekomitee wat behulpsaam was met die werwing, asook die aanwys van geskikte lesers met die oog op eweknie-evaluering, van artikels  – professore Danie Goosen (Godsdienswetenskap, Unisa) en Pieter Fourie (Kommunikasiekunde, Unisa).  My dank ook aan die Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, professor Jacques van der Elst, deur wie se bemiddeling hierdie feesuitgawe gestalte kon kry.

Ina Wolfaardt-Gräbe 
Redakteur: Tydskrif vir Geesteswetenskappe
November 2011