Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Die dokter as vennoot: ’n Juweel vir die gestoomrollerde publiek


Douwlina du Plessis - 2011-12-15


Die dokter as vennoot
Dr Dawie van Velden
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194666
Prys: R180.95

Klik hier en koop Die dokter as vennoot nou van Kalahari.net!

 

Dié lekkerlees 260-bladsy-boek is deur Protea Boekhuis uitgegee en vul beslis ’n ruimte en behoefte in die mark. Mense met vrae oor die mediese toestande wat hulle, om verskeie redes, nie met hulle mediese praktisyns wil bespreek nie, het hier goeie toegang tot mediese inligting wat op die man af is en betroubaar en goed nagevors deurgegee word in verstaanbare Afrikaans. Dit is saamgestel uit rubrieke wat van 2006 tot in 2011 in Huisgenoot verskyn het en verteenwoordig waarskynlik juis die Afrikanergemeenskap se vrae.

Die hantering van die vrae van die lesers word volgens ’n vaste patroon behandel. Daar is ’n kort definisie van die siekte, gevolg deur ’n moontlike oorsaak en laastens moontlike behandeling daarvan. Dit het vir seker vir dr Dawie ’n etiese probleem geskep. Pasiënte soek dikwels net ’n “tweede opinie” en vir seker moes hy fyntrap om nie ’n ander dokter wat meer feite oor ’n spesifieke persoon het, in onguns te bring nie. Hy slaag egter baie doeltreffend daarin om die leser gerus te stel dat die dokter na die beste van sy of haar vermoë optree, maar sal ook ’n leser terug na sy of haar huisdokter verwys om te vra dat ’n spesialis se mening ingewin moet word.

Die boek is, soos telkens deur die skrywer self beklemtoon, nie ’n plaasvervanger vir die pasiënt se dokter nie en ook nie bedoel vir selfmedikasie nie. Die belang van goeie dieet, oefening, verantwoordelike gebruik van aanvullers en gesonde boererate word uitgelig en is, anders as wat die leser op verwarrende internet- en in populêre-media-artikels kan kry, is sy aanbevelings getoets aan die tyd en die doeltreffendheid soos deur verskeie mense ondervind. Hy beklemtoon egter die belang daarvan dat pasiënte die gebruik van aanvullende middels (soos die omega-vetsure) en kruie aan hulle huisdokters bekendmaak. Selfs die inname van groente en vrugte, knoffel en avokado, groen groente saam met antistolmedikasie word aangespreek. Seldery as middel profilakties teen nierstene word beklemtoon as veilig.

Soms is dit vir ’n persoon makliker om anoniem en gesigloos ’n kwessie aan te raak, of die persoon voel dat hulle nie die gewone geneesheer se tyd in beslag wil neem nie en reik dan uit na die tydskrifdokter. Soms wil die pasiënt net nie lyk asof hy of sy ’n dom vraag vra nie, soos: “Hoekom moet ek ’n antibiotiese salf in my neus gebruik as ek sere of absesse elders op my liggaam kry?” Daar word in verskillende afdelings in die boek verduidelik presies hoekom dit so voorgeskryf word en dat dit dikwels die stafilokokkus-kiem is wat graag in die neus skuil.

Dit is ook van waarde wanneer ’n familie wat beswaarlik in ’n spreekkamer sal pas, raad of inligting op skrif kan kry wat dan vooraf as familie bespreek kan word voordat hulle terugkeer na die behandelende geneesheer. Die familie is dan reeds gepantser met goeie inligting wat steeds professioneel deurgegee is, maar in maklik verstaanbare leketaal. Hulle vrae is dan doelgerig uit ’n verwysingsraamwerk wat dr Dawie vir hulle geskep het.

Die hoofstukke is alfabeties gerangskik onder wyddekkende opskrifte waaronder dan kleiner en meer spesifieke toestande hanteer word. Dit dek van die eenvoudigste vrae oor die mees algemene toestande soos vlooibyte tot ingewikkelde, skaars toestande waaroor daar min inligting bekend is, selfs by gesoute huisartse en spesialiste. Nie omdat die huisartse nie die toestand ken nie, maar juis omdat daar so min oor die toestand bekend is. Dr Van Velden skroom dan ook nie om die huisarts geluk te wens met die korrekte diagnose van so ’n skaars toestand nie.

Hy bespreek toestande soos Arnold-Chiari-afwyking, Ciguatera-vergiftiging, Da Costa-sindroom, Faktor V Leiden-mutasie met dieselfde empatie en omsigtigheid as waarmee hy vrae oor ’n bles en hooikoors behandel.

Onnodige toetse en onkoste, sowel as onnodige aanvullings, keur hy op ’n sagte manier af. “Jou huisdokter het heeltemal korrek opgetree deur halt te roep vir verdere duur en onnodige ondersoeke wat niks verder sal oplewer nie ...”

Diëte, soos die bekende Atkins-dieet, word beskryf na ’n navraag en daar word verduidelik presies hoekom dit as onfisiologies beskou word. Die tekorte wat die dieet kan veroorsaak en die moontlikheid om weer die gewig op te tel as jy die dieet staak, maak skielik sin.

Hy raak gevaarlike gebruike aan, soos strope wat ’n kalmerende invloed het op babas, en verduidelik hoekom dit nie sonder meer gebruik moet word nie. Dit is algemene gebruik en word dikwels aanbeveel deur familie of vriende.

Dr Dawie glo dat ’n dokter daar is om die publiek te help. Dit kom duidelik uit in sy antwoorde aan sy lesers. Hy behandel elke vraag met respek en skroom nie om vorige raad en inligting te herhaal nie. Eerder as wat dit negatiewe kritiek op die boek is, vind ek dit ’n weerspieëling van hoeveel keer hy bereid is om ’n gevaar te beklemtoon of om ’n waarskuwing te herhaal en sy lesers te motiveer om gebalanseerd te lewe ten opsigte van oefening, dieet en mediese ingryping.

Die boek is ’n juweeltjie vir die gestoomrollerde publiek wat uit alle oorde aan advertensies en artikels blootgestel word en werklik na ’n gesonder lewe strewe. Hy sif die koring van die kaf en bied dit in maklik-verstaanbare taal aan. Dat dr Dawie van Velden soveel navrae en briewe ontvang het, is dalk ’n aanklag teen ons algemene praktisyns. Ek vra my af of ek werklik genoeg tyd spandeer om my pasiënte gerus te stel en of ek fyn genoeg luister na hulle onverwoorde vrae en vrese.

Ek sal met vertroue die boek in my eie spreekkamer aanbeveel.