Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > Artikels | Features

Kom eet!: Hen en kuiken in dubbeldoorformaat


Peter Veldsman - 2011-12-14

Kom eet!
Anita en Deon Meyer
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151641
Prys: R189.00

Klik hier en koop Kom eet! nou van Kalahari.net!




 ’n Sterk, gesonde kuikentjie kan ’n mooi  hennetjie of ’n  rusverstorende Year-in-Provençe-rammetjie-uit-nek-haan word. Daarom enkele opmerkings oor plagiaat in kookboeke en tussenin ’n paar goue eierwaarhede komende van ’n goeie werfhen sonder dat ’n dommerige, snellertrekkende haantjie probeer om  haar van die goue mieliepitte weg te hou.
 
Kuikenkos


Wat ’n gedoente oor Deon en Anita se boek en wat ’n heerlike hupstoot! Die plagiaatstoffies het, teen die verwagting in dat dit in ’n donderstorm sou ontaard, met ’n vinnige warrel  gaan lê.  Die skrywers was bietjie stout, bietjie slorsig, bietjie amateuragtig, maar nou ja, hulle is nie professionele kosskrywers nie. Die aanslag is trouens met minder venyn as dié op DPM Botes destyds gedryf. En beslis het dit ’n minder dramatiese uitwerking. En daarmee basta!

Die kookboekmark


Daar is kookboeke en  kookboeke!  Dit word in twee hoofgroepe verdeel.  Die oorgrote meerderheid kookboekskrywers skryf nutsboeke soos Huisgenoot se treffers. Boeke wat basiese resepte vir geregte (ek haat die woord dis/se, en husse met lang ore) wat by die grootste deel van die kopersmark gewild sal wees, in ’n handige, verbruikersvriendelike formaat lewer. Ook in dié kategorie is daar gespesialiseerde boeke wat oor ’n enkele onderwerp handel. Verwys Peter Veldsman se boeke Seekosbanket, Happies, Teetydtreffers en die jongste, ’n Mond vol lekker. Direk hierteenoor is daar die passieboeke, waar dit om iets meer verhewends gaan, soos Leipoldt se Kos vir die kenner, waar dit ’n hartsbehoefte is om iets omvangsryks aan te bied wat die volk sal inspireer en opvoed. So ook Hester van der Walt se Broodpassie, Dine van Zyl se Afval en afvalligheid, wat daarin geslaag het om verby nutsboek-enkel-onderwerp na kultuurboek te beweeg, en die nimmer volprese Waar vye nog soet is. Kookboeke wat met passievolle, filosofiese gedagtes deurdrenk is. Onthou jy nog vir Versveld?

Nutsboeke sal uit die aard van die saak bestaande sowel as nuwe resepte insluit. ’n Skon is ’n skon, al kom die skrywer met watter slim variasie vorendag. En wie besit die kopiereg op ’n skon?  Soos ek dit sien, is die Westerse wêreld se kopieregwette dit eens dat geen lys bestanddele in ’n resep ooit onderhewig is aan kopiereg nie. Daarteenoor is die metode in sommige gevalle die intellektuele eiendom van die skepper/skrywer. Laat ek dit toelig aan die hand van eiervla. Jy verhit melk, voeg suiker, geklitste eier en eiergele by en roer oor stoom vir ongeveer 20 minute totdat die mengsel tot ’n sous verdik. Dan geur jy dit met vanielje en siedaar, perfekte eiervla. Toe kry Johan Odendaal die blink ingewing om die eiers en eiergele op hul eie oor stoom te klits todat dit net so warm is as die melk. Dit word dan in een skoot by die melk gevoeg en geroer totdat die sous verdik. ’n Besparing van 15 minute se werktyd. Hierdie is sy breinkind; tog sal tyd sy eiendomsreg op dié idee laat vervaag, want ander kosskrywers wat dié metode gaan gebruik, sal nie in die resep vermeld dat dit Odendaal se werkmetode is wat gevolg word nie.

Wanneer kom kopiereg dan by resepskrywing tot sy reg? Dit gaan oor die skryfstyl. Dink aan Pieter Pieterse. Dit gaan oor die inkleding, die taalgebruik in die beskrywings, die unieke woordvorming. Wie steel nie hier en daar nie? Ek was so getref deur  Opperman se “pontak-rooi” dat ek dit daar en dan gebruik het in ’n inleiding tot ’n bespreking van bredie en die pad wat dit loop. Toe sekere skrywers 17 resepte uit Rina Pont se unieke wildsvleisboek woord vir woord en op die koop toe nog in dieselfde volgorde gesteel het sonder om erkenning te gee, het hulle nie net plagiaat gepleeg nie, maar hulle sommer uit en uit aan diefstal skuldig gemaak omdat hulle voorgegee het dat húlle die kuikens uitgebroei het. Die saak behoort in die hof te geëindig het.  Hof toe? Natuurlik, want geen mens het die reg om geld te maak met iemand anders se eiendom nie. In hierdie geval behoort die skrywers mevrou Pont vooraf om toestemming te gevra het. Hulle kon ’n gedeelte van die tantieme as vergoeding aangebied het. Dit kos kosskrywers baie geld om ’n resep te ontwikkel tot die stadium waar dit uniek en onverbeterlik is. Daar is dus ’n duidelike verskil tussen bestaande standaardresepte en nuutvindsels. Kuikenkos is verniet, maar vir die goue eiers moet jy opdok.

Kom eet! Die hoender


Ek gaan dié Kersfees vir Daleen van der Merwe, Human en Rousseau se opdraggewende kookboekredakteur,  ’n vetgevoerde hoenderhaan gee om in ’n gietysterpot te stoof vir haar blink gedagte om ’n gewilde skrywer en sy vrou te oortuig om hul kosvoorliefdes met ander, veral sy baie aanhangers, te deel. Hoe groter die aanhang, hoe groter die nuuskierigheid.

Deon Meyer se boeke sorg dat hy oral en orals kom. So val hy dan sommer reg aan die begin van die boek met die deur in die huis. Hy is boer se kind, Afrikaans, soms beperkend in  kossmaak, identifiseer baie sterk met landelike Suid-Afrika en met die wese van eenvoudige, eie goed. Maar sy boeketogte het, soos by Anton Rupert in Europese kunssale, die verbreding van sy repertoire veroorsaak, wat weer tot nuwe ervarings en liefdes gelei het. ’n Tikkie sofistikasie by Ramsay net om te skaapboud in Loxton. Immer terug aarde toe. En dis waaroor die boek gaan. Die Meyers, veral Anita, het resepte uit kookboeke en by vriende versamel en hulle het ’n eie kosstyl opgebou met voorliefdes, maar ook afkeure. Die afkeure gaan veral oor omslagtigheid. Wat in die winkel beskikbaar is, word ingespan. Geen puriteinse werkeseloomblikke in hul kuierkombuis nie.  Hierdie kuierkook hou heerlikhede in wat deur Deon Meyer se aanhangers  hokgeslaan gaan word. En tereg so, want die boek kon dalk hier en daar, selfs moontlik oraloor, geleen het, sodat die leser in malse lusern kan wei, en anders as beeste gaan hulle nie opblaas nie.

Die boek is ’n insig-geskenk, deurdagtig saamgestel, geil van bewonderenswaardige subjektiwiteite, maklik om te lees en aan te beveel  vir  bondige lekkerkry-klaarkry.

  • Peter Veldsman is ’n restaurateur in die Kaapse Waterfront en het 12 kookboeke gepubliseer.