Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Rubrieke | Columns > André Crous: Nabyskoot

The Adventures of Tintin is ’n avontuur vir oud en jonk


André Crous - 2011-12-14

The Adventures of Tintin
Regisseur:
Steven Spielberg
Kamerawerk: Janusz Kamiński
Rolverdeling: Jamie Bell, Andy Serkis, Daniel Craig
Looptyd: 105 minute

Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 23 Desember 2011

 

Spielberg is anders as die res van die regisseurs. Hy doen nooit heeltemal wat jy verwag nie, en selfs al stel hy dikwels teleur met voorspelbare temas of beligting, is hy ook een van die mees vernuftige filmmakers van ons tyd. Met Tintin, wat hy geskep het in samewerking met Peter Jackson (regisseur van die Lord of the Rings-rolprente) se ateljee en vaardigheid, het hy werklik weer behoorlike avontuur in films ingeblaas. Munich was waarskynlik sy beste film die afgelope dekade, maar met Tintin het hy dit reggekry om weer die wilde avontuur van sy Indiana Jones-prente te toets – en dit werk nog steeds.

Die “Unicorn” waarna daar in die titel verwys word, is die naam van ’n skip, of eerder ’n modelskip, wat die jong Kuifie (Tintin) (en die film beklemtoon sy prominente kuifie) in die eerste toneel vir ’n appel en ’n ei op ’n markie aanskaf. Kuifie en sy getroue steekhaarfoksterriër, Spokie (Snowy), vind egter gou uit dat hierdie model ’n artefak is wat gesoek word deur baie ander duister figure, insluitende Sakharine, wie se genealogie vervleg is met dié van Kuifie se vennoot en medereisiger, kaptein Haddock.

Die samewerking tussen Spielberg en Jackson sou altyd ’n tegnologiese wonderwerk verseker het, en hulle vermoë om die kyker se verbeelding aan te gryp sorg vir ’n avontuurrit soos min. Die film is veral braaf met die oorgange tussen tonele, wat besonder slim gedoen is en dikwels voorkom. Die beeld van een toneel word as’t ware binnegedring deur die aksie in die volgende toneel.

Die aanbieding van die karakters, wat heelwat put uit Jackson se ondervinding met die skepping van Gollum in Lord of the Rings in die gebruik van tegnologie, is uitsonderlik, en so ook die visuele daarstelling van elemente wat elders met groot moeite gedoen word – elemente soos water en vuur. Trouens, by tye is die animasie so goed dat ’n mens wonder of Spielberg foto’s gebruik het, maar dan sien ons die beweging raak en herken die ferm hand agter hierdie projek.

Maar benewens die animasie is die hele benadering tot die film eenvoudig asemrowend. Natuurlik is die kamera nie so beperk soos wat dit is met konvensionele films nie en kan dit enige rigting inslaan. Spielberg ontgin hierdie moontlikheid behoorlik tydens die film se volslae hoogtepunt – ’n toneel wat herinner aan Indiana Jones and the Temple of Doom, waarin al die hoofkarakters op ’n tipe roller coaster deur ’n myn beweeg. In Tintin is dit ’n jaagtog rondom en deur ’n dorp genaamd Bagghar wat alles in een enkele skoot verfilm is, terwyl karakters heen en weer geslinger word en die kamera by bly – iets wat tans byna onmoontlik is in ’n film met regte akteurs.

By ’n ander geleentheid gebruik Spielberg die kamera op ’n manier wat herinner aan David Fincher se werk in Panic Room: hy laat die kamera oënskynlik beweeg deur materiaal wat ondeurdringbaar is – in hierdie geval die koeëlvaste glas wat die modelskip bevat. Sulke visuele toertjies maak die kyker opgewonde, want dit laat ons voel ons is besig om deel te hê aan iets wat byna neig na ’n droomwêreld.

Ek was nie mal oor die karakter van Kuifie nie, wat soms darem net te stadig is en gewoonlik meer as een tree agter ons is. In hierdie film wat sy naam dra, is dit eerder sy hond wat die kalklig steel en sy baas help om dinge raak te sien wat ons al lankal weet. Spielberg en kie het egter ’n goeie besluit geneem met die aanbieding van die hoofkarakter, wat per definisie anders as die uitbeelding in die strokiesprent is, omdat dit beweeg. In die eerste toneel word hy deur ’n straatkunstenaar geteken soos hy aan die wêreld bekend is, voordat hy onthul word as die film se weergawe wat so anders lyk soos wat ’n tekenprent lyk teenoor ’n regte mens se gesig.

Die musiek was ook bietjie uit die oude doos. John Williams is natuurlik ’n groot musikant en komponis, maar sy werk pas te goed by die beelde en dit voel nooit of hulle behoorlik wegbreek nie. Hy hou terug wanneer hy ons moet verbaas en dryf nie sy musiek hoër nie.

Die film is ’n avontuur en sal eindelose vermaak aan jonk en oud verskaf. Die storie is nie vreeslik ingewikkeld nie, maar vir wat dit poog om te wees is dit heel suksesvol en voorwaar ’n kyk werd.