Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Lyste | Lists

Top 11 2011: Suzette Kotzé-Myburgh kies haar topflieks


Suzette Kotzé-Myburgh - 2011-12-14

Hierdie lys is saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh, ’n gebore Namakwalander en het gematrikuleer aan die Hoërskool Nuwerus (anderkant Vanrhynsdorp neffens die N7). Sy het ’n BA-graad en ’n honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Naas lees is fliek haar groot liefde, want dis ’n storie net in ’n ander vorm. Die eerste fliek wat sy kan onthou, is Aanslag op Kariba in die middel-1970’s, gesien in Nuwerus se skoolsaaltjie op ’n rukkerige projektor wat dikwels gebreek het. Rod Alexander was die held.

Ek het hierdie jaar heelwat minder flieks gesien (34 teenoor verlede jaar se 60), wat moontlik dui op die kreeftegang – in 3D? – van die aanbod op ons kringloop. Desnieteenstaande het die jaar ’n klompie werklik besonderse films opgelewer.

My teleurstellendste fliek van die jaar was Tree of Life deur Terence Malik. Wat ’n pretensieuse uitstorting van persoonlike komplekse! Op daardie punt waar die Tyrannosaurus Rex (neem ek aan) die kleintjie vertrap om die tirannieke pa te simboliseer, het die regisseur my finaal verloor.

1.

Black swan
Puik, puik, puik! In alle opsigte. Ek het lanklaas so gebomskok uit ’n teater gestap. Nina is ’n jong ballerina wat deur haar ma gemolesteer is en wie se gebroke werklikheid in haar kuns tot ’n bitter triomf omvorm word. Niks minder as ’n Oscar sou reg laat geskied het aan Natalie Portman se vertolking nie.

2.

Biutiful
Soos ’n mens van regisseur Alejandro González Iñárritu kan verwag, is hierdie ’n paradoksale uitbeelding van menslikheid te midde van ’n genadelose samelewing. Javier Bardem lewer skitterspel.

3.

The Secret in their Eyes
Dié Argentynse film oor ’n kriminele ondersoeker wat ná 25 jaar weer begin krap aan ’n onopgeloste moord, het in 2010 die Oscar vir beste buitelandse rolprent ontvang – welverdiend. Dis ’n kunsfliek in die klassieke Europese tradisie soos ’n mens dit vandag min meer sien.

4.

In a Better World
Hierdie Deense film se ondersoek na die kringloop van geweld getuig van diepte en kompleksiteit. Die relevansie daarvan, veral ná die massamoord vroeër vanjaar in Noorweë, is ysingwekkend.

5.

Never let me go
’n Besonder slim futuristiese fliek oor die omstrede kwessie van orgaankweking. In die trotse Britse filmtradisie word alles nét reg gedoen, en Carey Mulligan se vertolking staan uit.

6.

Of Gods and Men
’n Herskepping van ’n ware gebeurtenis in Algerië in die 1990’s: die moord op agt Franse Trappis-monnike deur Moslem-ekstremiste. In ’n wêreld wat al brutaler word, wys hierdie film ’n spirituele werklikheid wat jou diep tref.

7.

Win Win
My goedvoel-fliek van die jaar – op ’n bittersoet manier. Paul Giamatti speel met oorgawe ’n sukkelende prokureur wat oorwinning ruik toe hy ’n potensiële stoeikampioen in sy skoolspannetjie ontdek. Die jong Alex Shaffer is ’n akteur om dop te hou.

8.

50/50
’n Fyngestemde film oor mense se vreesagtige verhouding met die dood. Joseph Gordon-Levitt is nommerpas in die rol van die 27-jarige Adam by wie ruggraatkanker gediagnoseer word, terwyl Anna Kendrick as die onbeholpe jong sielkundige voortbou op haar goeie spel in Up in the air.

9.

The Concert
Die fliekjaar het besonder min goeie komedies opgelewer, maar hierdie Frans-Russiese poging oor ’n voormalige dirigent van die Bolsjoi wat ’n orkesuitvoering in Parys “kaap”, was ’n groot vreugde.

10.

Another Earth
Dié wetenskapfiksieprent wat werk met die idee van parallelle wêrelde, verg ’n aansienlike “suspension of disbelief”, maar dis intrigerend van begin tot einde. Die klankbaan verdien spesiale vermelding.

11.

Skeem
Daar is deesdae nie ’n tekort aan Suid-Afrikaanse flieks nie, maar oor die meeste van hulle moet ’n mens maar liewer swyg. Skeem bevestig dat komedies oor die “reënboognasie” die genre is wat ons mense die beste doen. (Paradise Stop, ook met Rapulana Seiphemo en Kenneth Nkosi, was net ’n kortkop agter.)