Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

"In a better world" sou dit ’n beter fliek wees


Jacques Liebenberg - 2011-12-14

In a Better World
Regisseur:
Susanne Bier
Kamerawerk: Morten Soborg
Rolverdeling: Mikael Persbrandt, William Johnk Juels Nielsen, Markus Rygaard en Trine Dyrholm
Looptyd: 119 minute

 

Mens kan so half verstaan waarom In a Better World vroeër vanjaar met die Oscar vir beste anderstalige fliek weggestap het.

Sy onderwerpmateriaal is besonder aktueel – tienergeweld; die verlies van ’n ouer; selfs Derdewêreld-dilemmas. Daarby is sy regisseur ’n bewese rolprentmaker en sy hoofspelers bekwaam én heel aantreklik; daar’s ’n bietjie humor en romanse; en die musiek lewer ’n bydrae.

Genade, dis soos ’n Deense weergawe van Babel.

Maar, ook nie.

Want die regisseur, Susanne Bier, van Brothers- (2004) en Things We Lost in the Fire- (2007) faam se In a Better World is soos ’n sameflansing van gedagtes, sonder veel struktuur en motivering. Dit laat mens verwyderd, onbetrokke en uiteindelik as ’n terloopse toeskouer. Dis of elkeen te hard probeer om die GROOT en BELANGRIKE knoppies te druk en vergeet van die sement ­ – ko’s sê maar daardie immer ontwykende subteks en nuanse – wat die stene staande hou. Dis nogal ’n ding van Bier. Dit lyk of sy weet wát sy wil doen, maar nie heeltemal hóé nie.

Ja, die emosie loop hoog en almal lyk gepas gepynig; daar’s treffende skote van dwarrelduiwels op die Afrika-vlakte en vlugtelinge wat in die stof sit en peinsende Dene wat van hul huis langs die meer oor die water uitstaar, maar dis al wat dit is. Die teenstelling word so lomp aangebied en die Derdewêreld-situasie is so min van toepassing op die gebeure in die Deense krisis, mens kan net sowel na ’n klompie losstaande nuus- en natuurfoto’s kyk.

In ’n beter wêreld sou daar seker nie ongeregtigheid gewees het nie. Armoede en oorlog; wreedheid en skoolboelies; ’n ma wie se kanker van haar ’n moeilike mens gemaak het. En as daar was, sou die skuldiges op ’n regverdige manier gestraf en die slagoffers dienooreenkomstig vergoed word. Of daar sou ’n wonderlike, koesterende verlossing wees.

Maar al wat Bier vir haar prentjiemooi maar kunsmatige opbou van spanning bied, is ’n soetsappige ontknoping waarin die gebaande weë gevolg word. Baie vrae in veral die tienerprotagonis Christian (William Johnk Juels Nielsen) se uitbeelding word onbeantwoord gelaat. Weinig motivering word vir sy skielike neiging tot geweld gegee en as ek ’n maker van eerstepersoonskiet-rekenaarspeletjies was, sou ek tereg vies gevoel het weens die terloopse verwysing daarna. Was hy voor sy ma se dood ’n internet-terroris en mesdraer? Is hy by sy vorige skool geboelie en het hy sy “verweerkuns” al daar aangeleer?

Teenoor hom staan die Médecins Sans Frontierès-agtige dokter Anton (Mikael Persbrandt), wat ’n bepaalde Bybelse benadering tot die hantering van geweld het. En minder so in die hantering van sy huwelik. Dis hy wat uiteindelik die nodige insig in Christian se kwelling openbaar en hom letterlik van die rand terughaal. En sommer sy huwelik red.

Dis ’n geweldig naïewe ontknoping en bevestig wat mens so halfpad deur In a Better World reeds begin vermoed: Dié fliek is meer ’n lang episode in ’n sepie as ’n boeiende dissektering van hedendaagse kwelpunte.

Dit beteken mens se DVD-versameling kan sonder hom klaarkom.