Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Lyste | Lists

Top 11: Films


André Crous - 2011-12-14

Hierdie lys is saamgestel deur André Crous wat sedert 2002 as filmresensent by LitNet betrokke is; sy filmresensies en artikels verskyn tans as die filmrubriek Nabyskoot. Hy het Frans aan die Universiteit Stellenbosch studeer en sy nagraadse studie in Frankryk voortgesit. In 2007 verwerf hy ’n meestersgraad in filmteorie aan die Universiteit van die Sorbonne, waarna hy na Suid-Afrika teruggekeer om verder te studeer. Hy behaal in Maart 2011 sy PhD in drama- en teaterstudie, met ’n suiwer fokus op filmteorie. Hy woon in Praag.

2011 was nie ’n jaar om te onthou nie. Hoewel ons begin het met uitstekende films wat Oscars ingepalm het, was daar ’n groot leemte in die middel, tot relatief onlangs, toe ’n paar wonderlike Europese films uiteindelik uitgereik is. Ek erken dat ek soms ’n paar skatte mis, en hoewel ek byna al hierdie films op LitNet geresenseer het, het ek eers te laat bewus geword van beide Easy A (nommer 3) en Super 8 (nommer 5). Die eerste vyf films op die lys word kortliks hier bespreek.

1.

The King's Speech
Historiese films is nie altyd my gunstelinge nie, maar The King’s Speech het talle ryk lae wat die aandag vinnig gryp en jou nie los nie. Die herskepping van die era van Britse imperialisme in ’n taamlik onlangse tydvak (kort voor die Tweede Wêreldoorlog), en spesifiek die koningshuis waarin jong prins Albert, wat deur sy pa, koning George V, afgeskeep is en deur sy ouer broer (en aangewese troonopvolger) geboelie is, word aangebied met ’n uitstekende sin vir nabyheid. Geoffrey Rush as die spraakterapeut wat die prins moet help om van sy hakkel ontslae te raak, het ’n skerp humorsin wat uiters noodsaaklik is en nie net die prins se vriendskap wen nie, maar ook ons s’n.

2.

Black Swan
Swart en wit het nog nooit so goed saam gelyk in kleur nie. Natalie Portman is die ballerina wat die Wit Swaan tegnies perfek kan dans, maar sukkel om haarself toe te laat om selfbeheer prys te gee en haarself oor te gee aan haar meer primitiewe instinkte, wat reg kan laat geskied aan die beliggaming van die Black Swan. Die fyn balans tussen die twee veroorsaak psigiese spanning soos min, en ons word in haar wêreld van obsessie ingetrek, waar waarheid en versinsel moeilik van mekaar onderskei word.

3.

Easy A
Easy A het my heeltemal onkant gevang, omdat dit van die buitekant af lyk soos ’n gewone drama oor tieners en hul stories, maar eintlik baie interessante kwessies aanspreek op ’n wyse wat oorrompelend effektief is. Emma Stone speel ’n meisie wat haar voorgeskrewe boeke lees en dus nie die mees populêre student in die klas is nie. Wanneer ’n gay klasmaat wat geboelie word, haar vra om voor te gee dat sy met hom seks gehad het, en sy besluit dis ’n interessante liefdadigheidsmissie, begin almal skielik oor haar skinder, met goeie én slegte gevolge. Patricia Clarkson en Stanley Tucci vertolk haar ouers in ’n onvergeetlike rol.

4.

In a Better World
Die Deense film In a Better World is nog ’n film wat die kwessie van boelies aanspreek, maar op ’n baie meer opsigtelike en deurdagte manier wat uiteindelik natuurlik baie nader is aan die werklikheid, met al die onvoorsiene reaksies op die aksies van die karakters. Kinders en volwassenes kan die teikens van boelies wees, maar wat maak jy wanneer die boelie iemand is wat werklik mag oor jou het? Hoe ver mag jy gaan, eties gesproke, om die ander een “terug te kry”? En wat gemaak as dit wraak is, en jy die mag het om die balans te herstel, maar dit is nie regtig joune om te herstel nie? Dit is belangrike vrae hierdie wat almal deur ’n uitsonderlike film aangespreek word.

5.

Super 8
En ek het gedink die tyd van opwindende films oor wesens uit die buitenste ruimte het saam met ET verdwyn. Toe nie. Regisseur JJ Abrams skep met Super 8, ’n film waarvan die aksie in 1979 afspeel, ’n baie goeie hedendaagse opvolger tot Steven Spielberg se Close Encounters of the Third Kind (1977), en as jy Spielberg se film onlangs gesien het, sal jy talle raakpunte tussen die twee oplet. ’n Groep jong vriende wil ’n film skiet, maar wanneer ’n skouspelagtige treinongeluk hul planne in die wiele ry, besluit hulle om dinge van nader te bekyk, en dis wanneer hul avontuur werklik eers begin. Moenie hierdie film op sy buiteruimtelike baadjie takseer nie – kyk en word verras.

6.

Blue Valentine

7.

Outside the Law

8.

127 Hours

9.

The Adjustment Bureau

10.

Roepman

11.

Harry Potter and the Deathly Hallows: Part 2