Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Lyste | Lists

Top 11 2011: Nuusgebeure


Micheal le Cordeur - 2011-12-14

Hierdie lys is saamgestel deur Michael le Cordeur, ’n dosent in Afrikaansonderwys en voorsitter van die BEd-programkomitee aan die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch. Hy dien vir ’n tweede termyn as voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee en is pas verkies as die nuwe voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Hy is die skrywer van etlike handboeke en akademiese artikels. Hy neem aktief deel aan die openbare debat oor taal en die onderwys by wyse van gereelde rubrieke in die plaaslike media en lewer referate plaaslik en internasionaal. Hy is in 2008 deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon met die Elisabeth Steijn-medalje vir sy bydrae tot onderwys.


  1. 11 Maart: Die Japannese aardbewing (Tohoku ), wat 8,9 op die Richterskaal gemeet het, sorg vir ontsaglike menseverlies.

  2. 29 April: Die koninklike troue van William en Catherine. Uiteindelik weet die Britse volk aan wie hulle in die toekoms God save the Queen gaan opdra.

  3. 18 Mei: Die plaaslike verkiesing in SA wys die gety het gedraai, die DA maak opgang en die ANC begin twyfel.

  4. 24 Augustus: Die busongeluk in Knysna waarin 14 skoolkinders en die bestuurder dood is, wys opnuut op die patetiese onderwysstelsel in SA.

  5. 4 Oktober: Die Dalai Lama kanselleer sy besoek aan SA nadat ’n visum hom geweier is; dit wys dat die SA regering ’n lakei van China geword het.

  6. 5 Oktober: Die medestigter van Apple, Steve Jobs, wat die tegnologie binne die bereik van die gewone mens gebring en die meesterbrein agter Apple se iPhone, iPad, iPod, iMac en iTunes, sterf – ’n ramp vir die mensdom en onderwys.

  7. 20 Oktober: Dood van Muammar Khadafi. Al neem dit baie lank, alle diktators kom tot ’n val.

  8. 23 Oktober: Nieu-Seeland wen die Rugbywêreldbeker ten spyte van ’n reuse-aardbewing en die verlies van hul sterspeler, Dan Carter, ná 24 lang jare.

  9. 25 November: Skorsing van Julius Malema – die SA volk slaak ’n sug van verligting. Is daar dalk tog hoop vir SA?

  10. 2 Desember: Jackie Selebi word tronk toe gestuur vir 15 jaar. Dit, tesame met nog ’n voormalige polisiehoof, Beki Cele, se skorsing, toon dat SA besig is om die stryd teen korrupsie te wen.

  11. 9 Desember: COP 17-beraad eindig in chaos – ’n teken van waarheen ons aarde op pad is?

Mees oorskatte nuusgebeure:

  1. Tafelberg se aanwysing as een van die sewe natuurwonders! Alles in die natuur is godsgeskape en dus ’n wonderwerk van God. Jammer om Kapenaars se dag te bederf, maar dit was slegs ’n reklamefoefie.

  2. 1 Julie: Prins Abert van Monaco trou met Charlene, ’n voormalige Olimpiese swemmer van SA: dis die naaste wat SA aan royalty sal kom.

Grootste teleurstellings:

  1. SA se patetiese vertonings in die Krieket- en Rugbywêreldbeker, terwyl sokker ook faal om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer.

  2. As ’n taalmens is die Wetsontwerp vir ’n Nasionale Talewet wat die Regering bekendgestel het – nadat Cerneels Lourens hulle hof toe gesleep het en die Regering gedwing is om die Grondwet te gehoorsaam – niks anders as ’n rookskerm om Engels se hegemoniese posisie te bevoordeel en ons inheemse tale verder te benadeel nie.