Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

Kersverhaal-kompetisie: Botoks vir Kersfees


Sonja Cilliers - 2011-12-14

Vyf dae voor Kersfees glip Direlma by dr Fuch se estetiese kliniek in. Styf gespuit stap sy ’n uur later uit. Vee haar kuif oor haar voorkop voor sy by Pick ’n Pay instap sodat niemand die V-vormige driehoekie bloedkolletjies op haar voorkop sal raaksien nie. Tog voel sy hoe ’n paar pare oë haar berekenend betrag. Sy stop vinnig ’n laaste paar lysgoed in die trollie (’n mandjie sou te swaar wees, want sy moet wéér die kussing-sjokoladetjies koop wat sy gisteraand lánk na tandeborsel in die bed lê en verorber het).

Vier dae voor Kersfees word Direlma op haar sy wakker. Spring vervaard op en gaan druk haar neus teen die spieël. Magtig, kan dit nou so moeilik wees om vir één aand heelnag op jou rug te lê, vroumens! skel sy haarself. Sy wonder of die Botoks nog op haar voorkop is en of dit dalk afgesak het na haar ooglid. Verbeel sy haar of hang daardie linkeroogbank gevaarlik laag? Deksels. Nou ja, koeël is deur die kerk, soos hulle sê – sy sal maar moet regtoor met grimering en hoop vir die beste. Vandag gaan besig wees met beddens oortrek en handdoeke uitsit.

Drie dae voor Kersfees kom Direlma se ma Fiel en pa Bert aan. Ook suster Karika en swaer Anton met hulle seuns, Chris en Soon. Pa vra: “Is jy nog happy met jou gewig?” en Ma sê: “Iets is anders – pluk jy jou wenkbroue?” Direlma maak vier keer koffie en pak die skottelgoedwasser. Dis die beste ding van styf gespuit wees, dink sy, jou gesig wys nie outomaties jou hart nie. Jy kan daardie glimlag wat nie die oë weggee nie, goed opplak.

Twee dae voor Kersfees is Direlma aan die boud insmeer met ansjovisbotter. Sy probeer nie vir Soon met haar oë vermorsel elke keer as hy sy skootrekenaar oor haar houttafel rondskuif nie. Wat is dit met mense wat vakansie hou in ander mense se huise! Karika en Anton sit heeldag op die bank en lees, met Karika wat nou en dan half opkyk en vra is daar nou niks wat sy kan doen nie en Ma wat paai, ag maar jy weet nie waar Sus haar goed hou nie, sit jy, Karieks, jy moet rus, jy werk mos heeljaar.

Oukersaand begin Direlma se bolip te spring. Snaakse onwillekeurige sametrekking wat (onmerkbaar vir die ander?) kom en gaan, en dan weer kom. Direlma wonder of jou lippe dan begin frons as die voorkop nie meer kan Botoks vir Kersfees nie. Papier die hele sitkamer vol. Sy gaan lê laataand op die bed en ruik aan haar Estee Lauder.

Kersfees. Direlma is vroeg op. Sy het êrens gelees ’n mens kry nou webblaaie waar jy jou ongewenste Kerspresente kan verruil vir ’n ander ou s’n. Miskien kan sy gou voor sy die ketel aanskakel…