Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Die see, die Vrou


Sandra Troskie - 2011-12-14

Die see
Reza de Wet
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869195205
Prys: R150.95


Klik hier en koop Die see nou van Kalahari.net!




Was die keuse vir die titel van die drama, Die see, ’n slordige fout of net ondeurdag? Dít was die vraag wat my ná die eerste lees daarvan genoop het om dié jongste drama van Reza de Wet, wat pas in boekvorm by Protea Boekhuis verskyn het, ’n tweede keer te takel.

Op die oog af is dit ’n historiese drama wat in die tyd van die laaste jare van die Nederlandse bewind aan die Kaap afspeel. Drie slawevroue word saam in een van die kelderkamers van die Kasteel opgesluit. Al drie is opgeleide courtisanes van dieselfde man (die goewerneur van die Kaap?). Daar is die Ou Vrou wat sy eerste was, die Vrou wat in die proses is om vervang te word en die Meisie wat as sy jongste beoogde speelding die Vrou gaan vervang. Die Britse inval van die Kaap in 1795 veroorsaak egter dat ’n dag verloop tussen die eenkant smyt van wat afgeleef en uitgedien geraak het en die toe-eiening van wat nog jonk en maagdelik is.

Soos wat die drama in die skemerige kelder ontvou, is dit egter gou duidelik dat hierdie verhaal meer is as slegs ’n historiese verhaal oor die gedeelde lot van drie slawevroue aan die Kaap. Op ’n dieper vlak transendeer hulle gesamentlike ervarings hul individualiteit, sodat hulle uiteindelik drie verskillende fases van dieselfde wese, die slaaf-courtisane, verteenwoordig.

In hulle hoedanigheid as Ou Vrou, Vrou en Meisie herinner hulle sterk aan die konsep van die goddelike essensie van vrouwees in haar manifestasies as Meisie/Moeder/Wyse Ou Vrou (Maiden/Mother/Crone). Binne dié Neopaganistiese konsep verteenwoordig die Meisie die sluimerende maagd, simbolies van die betowering van dít wat nog onaangeraak is. Die Vrou, die volgende groeifase in ’n vrou se lewe, simboliseer groei, vrugbaarheid en vervulling. Ten laaste is daar die fase van Ou Vrou, simbolies van kennis, wysheid en, onafwendbaar, die dood.

In Die see gebruik De Wet egter die lot van dié drie slawevroue om op ironiese wyse te toon hoe die slaaf-courtisane in elk van hierdie drie rolle van haar goddelike vrouwees beroof word. Wanneer sy as jong meisie vertel word dat sy “so mooi en maagdelik” is dat “hy jou (sal) wil opvreet)”, weet ons dat dit inderdaad metafories haar uiteindelike lot gaan wees. Tydens die jare waarin sy veronderstel is om as vrou vervul te word, word sy soos Raponsie in ’n toring opgesluit, “opgepop en reg vir hom”, en van haar vrugbaarheid gestroop deur “krom ou vroumense ... met hulle skerp naalde ... wat ons ongebore kinders vermoor het!”. En uiteindelik, wanneer sy dié jare bereik waarin sy die jare se versamelde wysheid aan die volgende geslag moet oordra, word sy uit die samelewing gestoot. “’n Deur gaan oop en iemand stoot jou uit. Die deur slaan toe. Weggesmyt!”

Maar indien die doel van hierdie drama (alleen) ’n blik is op die verontmensliking en ontgoddeliking van veral die slaaf-courtisane, verklaar dit nie heeltemal waarom De Wet in haar titel so ’n sterk prominensie gee aan ’n fenomeen wat deur die loop van die hele drama slegs op die agtergrond funksioneer nie. Trouens, die invloed van die see op die drie vroue is deurgaans eerder indirek as direk te bemerk: wanneer die Ou Vrou droom van ’n skip wat oor sy waters vaar of van seesand wat deur haar kinderhuis waai; wanneer die Vrou met nostalgie dink aan die beperkte uitsig wat sy deur die venster van haar vorige kamer daarop gehad het; wanneer die Meisie na haar begeerte verwys om deur die tuin tot by die seemuur te loop, daarop te klim en dan af te spring (die see in). Benewens hierdie enkele verwysings weet ons van die nabyheid van die see slegs vanweë die aanhoudende slaan van sy branders teen die mure van die kelder.

Dit is dié onsigbare (en effens misterieuse) teenwoordigheid van die see wat ’n mens laat vermoed dat die betekenis wat De Wet met haar keuse van ’n titel aan die see toeken, dalk vanuit ’n ander perspektief verstaan moet word. Dat die see binne hierdie drama waarskynlik verteenwoordigend is van wat Jung die kollektiewe onderbewussyn genoem het; daardie plek waar ons ewig aan ons voorgeslagte verbind is. ’n Plek van waar die vroue letterlik weggeruk word wanneer hulle vir hulle meester se harem kom haal word. So afgesny is sy van hierdie goddelike oorsprong dat die Vrou verklaar dat sy niks onthou “van die armsalige plek waar ek eers was nie. My regte lewe het eers hier begin. Hier in die Kasteel.”

Interpreteer ’n mens die teks vanuit Jung se perspektief, is die drie vroue dus aspekte of argetipes wat saam die self vorm. Die self, so het Jung geglo, is daardie goddelike aspek wat ons met die kollektiewe onderbewussyn – die groter geheel – verbind. Die drie vroue se stryd in die kelder (‘n vertrek wat tradisioneel die argetipe is van die persoonlike onderbewuste) raak die worsteling van die self om al hierdie aspekte weer in haarself verenig te kry en so, deur middel van ’n wedergeboorte, uiteindelik te kan terugkeer tot die geheel, iets wat aan die einde wel gebeur wanneer die Ou Vrou oënskynlik sterf en dan weer in die arms van die Meisie (die argetipiese simbool van wedergeboorte) haar bewussyn herwin.

Die feit dat De Wet feitlik al haar karakters naamloos hou, versterk die gevoel dat hulle eerder argetipiese fasette van ’n enkele wese is as aparte karakters. Slegs die Meisie kry ’n naam. Trouens, De Wet laat die drama met dié naam begin en verleen só definitiewe betekenis daaraan: “Marie! Marie! Ek wag al lank vir jou. Waar bly jy?” Wanneer Marie die Ou Vrou letterlik uit die lappe bevry, skep dit ’n beeld van ’n gemummifiseerde kadawer wat bevry word.

Deur die naam Marie aan haar kollektiewe karakter te gee, het De Wet die essensie van hierdie “self” dalk ook gekoppel aan die karakter van Maria Magdalena. In Joan Norton en Margaret Starbird se boek The Mary Magdalene Within word daar onder meer betoog dat die verwondheid van ons moderne samelewing die gevolg is van ’n sisteem van patriargale denke en handeling en dat ons ons samelewing en onsself daarom sal kan genees slegs indien ons – vroue sowel as mans – weer met ons “heilige vroulikheid” (sacred feminine) in aanraking kom.

Wanneer die Ou Vrou dus aan die einde van die toneelstuk waarskynlik ’n hartaanval kry (dalk self ’n naby-dood-ervaring het) en uiteindelik weer haar oë in die arms van die Meisie oopmaak, vra dié haar betekenisvol: “Dit is ek, Marie. Ken jy my?”

Deur haar keuse van ’n titel vir hierdie drama het De Wet dus op vernuftige wyse ’n vraag geskep wat haar leser/gehoor dwing om na ’n antwoord te soek; ’n soektog wat ons uiteindelik die slaaf-courtisane in elkeen van ons laat ontdek: daardie geneigdheid om helde en gode te maak van mense en dinge; valse gode wie se asems, as ons na die kind in onsself luister, stink na vrot en dood.