Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Boereoorlogstories in ’n gesoute samesteller se hande


Heini Heydenrych - 2011-12-14

Boereoorlogstories: 34 verhale oor die oorlog van 1899-1902
Jeanette Ferreira (samesteller)
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624051398
Prys: R175.95


Klik hier en koop Boereoorlogstories nou van Kalahari.net!




Die twee sentrale gebeurtenisse in die Afrikaners se geskiedenisbewussyn, die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog, het al tot heelwat geskrifte – wetenskaplike geskiedskrywing sowel as fiksie – aanleiding gegee. Dis egter opmerklik dat oor nóg die Groot Trek nóg die oorlog al ’n deeglike, omvattende monografie in Afrikaans, soos dié van Eric Walker (The Great Trek) of Thomas Pakenham (The Boer War) uit die pen van ’n Afrikaanse historikus verskyn het. Dit laat die veld oop vir fiksie om die leemte te vul. Daarom is dit te verwelkom dat hierdie bundel kortverhale, wat oorspronklik in 1998 in die aanloop tot die 100-jarige herdenking van Anglo-Boereoorlog verskyn het, nou afgestof en heruitgegee is, nadat die eerste uitgawe spoedig uitverkoop is.

Soos te verwagte is daar in al die verhale ’n verbeelde werklikheid gesentreer rondom ’n feitelike kern. Die feitelike kern is soms persoonlikhede, soos die prediker en veggeneraal Paul Roux, generaals Ben Viljoen, CC Froneman en Christiaan de Wet, werklike gebeure soos die slag by Dalmanutha, en werklike plekke, soos Dullstroom, Slabbertsnek, die Brandwaterkom en die plaas Moedwil, maar dit word telkens met verbeelde karakters soos die verteller en heelwat ander besonderhede in die verhaal aangevul. 

Daar is vele fasette van die oorlog wat in die stories na vore kom: heldemoed; opstandigheid en haat; ontbering in die konsentrasiekampe en in die veld; humor in uiters moeilike omstandighede; verwydering en vervreemding van gesinslede en geliefdes as gevolg van krygsgevangenskap en dood op die slagveld en in die kampe (soos PG du Plessis dit in sy bydrae “Ons mond” stel: “Oorlog: mense wat mense verloor, vroue, mans, kinders, ouers, geliefdes mekaar – en so bloedig voort, soos oorlog nou maar is”); honger en ontbering weens die beleid van verskroeide aarde; verraad en skynoorloping na die vyand; eerbied vir die voorsate; geloof in “die God wat Israel verlos het [en] ook die Afrikanervolk gaan verlos” asook “Oorlog met God” oor lyding en teleurstelling; die wreedheid van oorlog in die algemeen; die ongenaakbaarheid en menslike broosheid van Engelse offisiere wat hul onverbiddelike en makabere pligte van plundering op die verlate boereplase moet uitvoer; en lyding en menslikheid en liefdesverhoudings in die veldhospitale.

En ja, daar is ook sinisme oor oorlog. Die sin van oorlogvoering word bevraagteken as die verteller daarop wys dat ons God speel, want “om lewe te maak of om dood te maak, is daar ’n verskil?”. En soms word die lyn na die onlangse verlede of die hede toe deurgetrek as daar gevra word oor die keuse wat noodwendig by jong manne tydens die grensoorlog ook moes opgekom het, “of dit beter is om op te hou veg voordat daar niks oor is vir ’n nuwe begin nie, of om aan te hou veg tot die bitter einde”; en wanneer die vraag oor die verteller se skisofrenie in “die Nuwe Suid-Afrika” hom voordoen: “Wat doen mens tog met vryheid?”

Die verhale is nie net wat tematiek omtrent aspekte van die oorlog betref, uiteenlopend nie, maar ook wat lengte en verwikkeldheid betref. Waar die langer bydraes van Melanie Grobler en Marlene van Niekerk meer verwikkeld is, het die res ’n eenvoudiger storielyn en is hulle daarom dalk meer toeganklik vir die gemiddelde Afrikaanse leser. Al die stories is egter verdienstelik, soos ’n mens onder die hande van ’n gesoute samesteller en redakteur soos Jeanette Ferreira sou verwag. Die ontknoping van die stories, en veral die slotsin(ne), is dikwels treffend eenvoudig en voldoen in dié opsig aan die siening dat eenvoud die kern van goeie kuns is. ’n Goeie voorbeeld is die laaste twee sinne in die eerste verhaal met sy tragiek deur Eleanor Baker, “Bertie kom verby”: “Klara hoor die groot staanhorlosie tik. ‘So is Gods kind huis toe’ voltooi Lina.” Dit voel soos ’n akteur wat weet dat dit beter is om te onderspeel as oorspeel.

Daar is talle voorbeelde van pragtig beeldende taal in die verskillende stories. Enkele van hierdie juweeltjies: “Hy’s half babbelrig soos ’n hokvoël” (40); “Agter haar het die swart verbrande murasie wat eens ons woning was, gegryns” (121); “Want oor haar gesig lê daar geteken, fyn soos perskedons, haar hele liefdesverwagting” (134); “Hulle samesyn is soos die maan in water” (158); “Dit word ’n spesiale landskap wat droog en dreigend teen haar kom staan” (219); “Want soos alle sterflinge word sy gebreek, om die beurt, op die rad van drome en op die rad van die werklikheid” (306).

’n Mens wonder of die tyd nie aangebreek het om ’n slag die ervarings van swart mense tydens die oorlog te belig nie, want die enigste storie in hierdie bundel waar dit in ’n mate tot sy reg kom, is Konstant van Huyssteen se “A native named Dollie”. Daar verneem ons van die swart plaaswerker Dollie wat hom nie betrokke by die oorlog voel nie: dit is nie sy oorlog nie, ook nie sy plaas nie. Tog word Dollie teen die einde van die verhaal as gevolg van ’n misverstand doodgeskiet deur een van die Engelse soldate wat na ’n toom op die plaas kom soek. Origens is daar soms net terloopse verwysings na swart mense as agterryers. Tog dink ’n mens in hierdie verband aan die “skimruiters” (agterryers) oor wie Danie Marais in By (Beeld, 12 November 2011) geskryf het, van wie een se ervarings al neerslag gevind het in die onlangs verskene Sirkusboere van Sonja Loots. Daar is immers al oor hierdie mense historiese navorsing gedoen en geskryf, soos Marais in sy artikel uitwys. Daar is wel diegene, veral uit ’n imperiale perspektief (en deesdae ook uit ’n swart perspektief), wat wil hê die oorlog moet as “Die Suid-Afrikaanse oorlog” (The South African war) beskou en beskryf word, omdat baie swart mense daarby betrek is en swaargekry het, nie net Boere en Engelse nie. Ek stem nie met hierdie uitgangspunt saam nie, want so ’n benaming wil eintlik te kenne gee dit is “Brittanje se oorlog in Suid-Afrika”, naas al sy oorloë elders. Dit beteken egter nie die lyding in die oorlog moet net vanuit Boere-oogpunt belig word nie, al was die Boeregesinne se ervarings hóé hartverskeurend. 

Boereoorlogstories is ’n boek wat paslik hulde bring aan sewe skrywers en medeskrywers wat sedert die eerste uitgawe oorlede is.