Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Skrapnel as sleutelmetafoor


Brink Scholtz - 2011-12-14

Skrapnel
Willem Anker
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194093
Prys: R150.95

Klik hier en koop Skrapnel nou van Kalahari.net!




’n Jong, wit, Afrikaanse man is op een van die moltreine in Londen waarin daar op 7 Julie 2005 ’n bom ontplof. Die drama open met die ontploffing, oomblikke nadat “Chris”, onder puin begrawe, daarvan bewus word dat hy besig is om dood te gaan. Die daaropvolgende tonele blyk geheueterugflitse te wees voordat hy sterf. Aan die woord is Chris en ’n jong Suid-Afrikaanse vrou met wie hy ’n verhouding het terwyl hy in Londen is, en die terugflitse verwys na hierdie verhouding, na Chris se werk as veiligheidswag in ’n Londense kettingwinkel, en na enkele herinneringe aan sy verlede in Suid-Afrika. Hierdie terugflitse word gejukstaponeer met ’n verslag oor bomaanvalle en selfmoordbomaanvallers, gelewer deur ’n derde figuur, ’n ouer man. Die herhaalde weerklank van die ontploffing is die sneller vir hierdie fragmente van herinnering en verslag. By tye pittige dialoog, by tye lusiede beskrywing, by tye poëties, spat hierdie fragmente in verskillende rigtings uiteen. Die effek hiervan is ’n “fragmentasiepatroon” wat ’n spesifiek Suid-Afrikaanse ervaring van kulturele dislokasie en breër ervarings van vervreemding binne ’n geglobaliseerde wêreld bymekaar bring.

Kort na die ontploffing verduidelik die ouer man: “Alhoewel die term (skrapnel) oorspronklik net verwys het na die sferiese musketkoeëls wat losgeskiet het as ’n skrapnelpatroon gebars het, word die term deesdae gebruik om alle tipes hoë-snelheidsfragmente te beskryf wat deur ’n ontploffing uitgewerp of losgeskiet word.” Hierdie skrapnel-metafoor word besonder vernuftig volgehou en ontwikkel in die teks. Dit roep nie net Chris se ervaring op terwyl hy sowel fisiek as emosioneel wegvlug van sy plek van oorsprong nie, maar ook ’n gevoel van ’n menigvoud gefragmenteerde, ongebonde identiteite. Chris word tegelyk geteken as ongewone en onderskeibare karakter, en gelokaliseer binne herkenbare groepe. Die mees prominente hiervan is dié van die jong, wit Afrikanerman – belas met ’n skandelike geskiedenis, ongemaklik binne die komplekse Suid-Afrikaanse situasie – en dié van jong, globale burger, met teenstrydige ervarings van identiteit en van waar hy tuishoort. In ’n toneel wat begin met die bevele van ’n drilsersant by ’n opleidingskamp vir veiligheidswagte in Londen, val - binne ’n toenemend onsamehangende collage - patriargale en matriargale Afrikaanse stemme saam met ’n wyer register dwingende, flikflooiende stemme: dié van ’n nasionale sowel as globale kapitalisme en propaganda.

’n Belangrike kenmerk van dié toneel is dat binne hierdie kompeterende diskoerse geen stem belangriker as ’n ander is nie. Dit dra by tot Anker se konstruksie van ’n wêreld van “white noise”, waarin die oordaad van botsende kulturele klanke afgeplat word tot ’n homogene dreuning. Die verwysing na “elevator music” – ’n poging tot ’n niespesifieke agtergrondgeluid – resoneer hiermee, en lê terselfdertyd die banaliteit vas van die kulturele vorme wat hieruit voortvloei. As embleme van kulturele globalisering roep Anker die homogene steriliteit op van lughawens, stede en voorstede, wat oor die hele wêreld ononderskeibaar van mekaar is. Sy keuse van winkelpoppe as die belangrikste visuele metafoor versterk die gevoel van ’n homogene landskap waarin niks meer oorspronklik is nie, maar alles ’n kopie – hol en sinteties.

Deur die ontwykende figuur van “Martin”, van oorsprong Koreaans, grootgeword in Swede en woonagtig in Londen, sinspeel Anker op die manier waarop ervaring afgestomp word in so ’n ongevarieerde omgewing. Martin, wat nie gemotiveer is deur enige spesifieke vorm van lyding nie, maar eerder op soek is na ’n manier om sy ervaring te intensiveer, stel ’n datum vas waarop hy selfmoord sal pleeg. In verhouding tot hierdie gegewe, wat ook met Chris se selfvernietegende ennui resoneer, verkry die ervaring van die selfmoordbomaanvallers ’n spesifieke betekenis. Ons word daaraan herinner dat hierdie mans Britse burgers is, nie bewoners van fundamentalistiese Islamstate nie. Soos Martin en Chris, bevind hulle hulself in ’n geglobaliseerde konteks, met die gepaardgaande kulturele dissipasie en fragmentering. Dit laat die vraag ontstaan of hulle fundamentalisme nie gesien moet word as ’n verlange na ’n enkele stem te midde van die konstante geruis van ’n kulturele sinneloosheid nie. Voorts dwing die drama ons om ons af te vra of hulle verbintenis tot die ekstreme en dramatiese handeling van ’n selfmoordsending nie gesien moet word as ’n soeke na intensiteit en onmiddellikheid binne die prosaïese alledaagse ervaring nie.

Ten spyte van die ooglopende verskille tussen die mans open Anker ’n gedeelde terrein van ervaring deur middel van subtiele resonansies binne hul skynbaar uiteenlopende ervarings. Terwyl hierdie verskille beklemtoon word – dikwels met ironiese effek (soos wanneer die parodie van militêre opleiding - wat Chris voorberei op sy banale sekuriteitswerk - gejukstaponeer word met die dodelik ernstige voorbereiding op ’n selfmoordsending), is die implikasie van die onderliggende ooreenkomste besonder treffend en skrynend ironies.

Die sentrale figure onderskei hulle egter die meeste van die jong djihadiste deur hul relatiewe gebrek aan oortuiging of betrokkenheid van enige aard. Chris, in die besonder, blyk dikwels onverskillig teenoor sy ervaring te wees. Hoewel die teks ons attent maak op die begeertes en vrese verborge binne die landskappe van drome en stede (so ondeurdringbaar en afstandelik soos Chris se psige), wonder ons tog of daar enigiets is wat hom as karakter sterk aantrek of afstoot. By tye lyk dit asof ’n hunkering sy gebrek aan geworteldheid onderlê, en tog verraai sy handelinge ’n voortdurende aflegging van persoonlike en sosiale verbintenisse. Parallel aan die proses van “aflegging” wat ’n djihadis voor ’n aanval ondergaan, word Chris se “verblyf” in Londen ’n vrystelling van verknogthede. Hy arriveer sonder sy bagasie en ervaar dit as emosioneel gepas. Later vermy hy kontak met sy ouers, woon slegs in jeugherberge, en verset hom teen ’n verdieping van sy verhouding. Retrospektief kan die openingsbeeld van sy liggaam – wat letterlik leegloop soos hy doodbloei – as die kulminasie van hierdie proses gesien word. Hier is dit betekenisvol dat Anker verwys na dit wat die ontploffing “bevry” – ’n suggestie dat die impak nie net bepaalde herinneringe vrystel nie (’n vooruitspeling op ’n later verwysing na die manier waarop die binneste van toetspoppe slegs ná die impak geaktiveer word) – maar ook dat dit ’n vorm van bevryding is.

Wat die bagasie mag wees waarvan Chris probeer ontslae raak, word nooit simplisties uitgespel of gekoppel aan ’n enkele gebeurtenis of oorsaak nie. Dit sou ook nie pas by die sentrale beeld van fragmentasie en verstrooiing nie – een waarin vaste punte van oorsprong voortdurend uitmekaargeskiet word. Ons word egter daaraan herinner dat daar dinge is wat van geslag tot geslag van ouers op kinders oorgedra word. Eiename, gegee “in die naam van die vader”, is so ’n terugkerende simbool. In ’n onderbeklemtoonde, maar treffende verwysing na Chris se vader se stilswyende terugkeer van die grensoorlog, kry ons ’n idee dat Chris se onvermoë om emosionele pyn te artikuleer ’n oorgeërfde onvermoë is. Hierdie insident knoop die temas van militêre oorlogvoering, en van die weerlose posisie van mans binne patriargale, outoritêre en gewelddadige omstandighede, aan Chris se persoonlike geskiedenis.

In sy uitbeelding van die pyn wat voortvloei uit verhoudings, brei Anker die metafoor van skrapnel uit. “Organiese skrapnel”, word gesê, is deeltjies van menslike liggame wat uitmekaar geskiet is tydens ontploffings en dan wat onder die vel van ander slagoffers begrawe word en sodoende ontstekings veroorsaak by dié wat oorleef. Nie alleen resoneer dit met Chris se verhouding met sy ouers nie – veral met sy vader - maar dit word die sleutelmetafoor vir sy verhouding met die jong Suid-Afrikaanse vrou. Deur stadig die pynlike ervaring van konneksie te onthul, sinspeel Anker op die aard van Chris se vrees, sodat ons begin begryp dat sy oënskynlike onverskilligheid ’n toestand van diep ambivalensie is, waarin alles wat begeer word, terselfdertyd gevrees word. Van hieruit word dit onmoontlik om te kies om óf vrees, óf begeerte, na te streef, met as gevolg ’n verlamming wat lýk na onverskilligheid.

Die teks lei ons nie na ’n insig wat werk as ’n finale oplossing of katarsis nie. In ’n onthutsende kinkel word ons na afloop van Chris se dood gelaat met die jong vrou by wie dit lyk asof daar geen spoor – geen skrapnel – van hom in haar gelaat is nie. As ons gedink het ons arriveer êrens – op ’n plek hetsy van pyn of van bevryding – het ons dit mis. Dit lyk asof al wat oorbly, ’n voortdurende stroom indrukke is: vinnig, versprei, en banaal; nog ’n “fragmentasiepatroon”. In die wêreld wat bly, word hemel en hel deur dieselfde fluoresserende beligting verbleik, en hierin lê die uiteindelike, mees ysingwekkende, impak van die werk.