Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Weerlig van die ongeloof spreek van tematiese verskeidenheid en geslaagde natuurbeelding


Marius Crous - 2011-12-13

Weerlig van die ongeloof
Johann de Lange
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194512
Prys: R150.95


Klik hier en koop Weerlig van die ongeloof nou van Kalahari.net!




In ’n onderhoud wat Bibi Slippers op 10 November met Johann de Lange gevoer het oor sy jongste bundel, verwys Johann na die skildery van Judith Mason op die voorblad en merk op:

Vir my begin ’n boek by die omslag – dit is waar jy die eerste kodes aan die leser deurgee. Die oog op Weerlig is belangrik omdat die visuele belangrik is by die kwatrynvorm – dit onderstreep die fokus, die konsentrasie op besonderhede en die verheldering, die insig wat volg.

Dit is veelseggend, want wanneer die leser die kwatryne in hierdie bundel deur die bekroonde digter lees, dan val die fyn waarneming en die juiste beskrywing van daardie waarneming op. Veral die metaforiek oor die natuurbeelding, wat dikwels in geykte beskrywings kan verval, word op verbluffende wyse deur De Lange hanteer.

Die ses afdelings in die bundel dra elk die titel van een van die kwatryne in die onderskeie afdelings: Lyfband, La fête sauvage, Die sonboog het gebreek, Skietgebedjie, Vreemde kamer, Die jaar verakker. Getrou aan sy aard gee De Lange nuwe impetus aan die kwatryn, en selfs al suggereer die onderskeie afdelingtitels ’n sussende, berustende aanslag, moet die leser hierdie belese en berekende digter nie onderskat nie. Die kwatryn “Abracadabra” (57) gee ook vir die leser ’n aanduiding dat feitlik alles wat die digter waarneem, kan dien as stof vir ’n kwatryn:

deesdae is die fyn estetiese
afstand tussen ’n objet trouvé
& ’n objet d’art inderdaad klein –
die frisson wat ’n kortsluiting gee [.]

Daar is die kenmerkende De Lange-temas aanwesig: die queer-perspektief op seksualiteit, die gesprekvoering met ander digters, dekadente verval en melankolie – maar veral verrassend is die metafisiese gedigte wat ook ingesluit word. Laasgenoemde sou mens kon saamlees met Daniel Hugo se Verse van die ongeloof.

’n Ander aspek is die digterskap en die nadink oor die skrywerskap. Sommige verse handel oor die liggaam en die onvermydelike veroudering van die lyf, terwyl ander verse binne oeuvre-verband skakel met sy prosatekste oor dwelmgebruik, soos byvoorbeeld in “Petidien-blues” (20), waarin verwys word na die leë spuit wat nie vertroosting kan bied teen die insomnia nie.

Nadigting en voortgesette gesprekvoering met ouer digters se werk is ook aan die orde van die dag. So word Sappho (16), Anaekreon (17), Theognis (24), Catullus (26), Kavafis (32), Rilke (40), Lorca (60) en Vergilius (61) genoem. Kwatryne word ook opgedra aan Henning Snyman, DJ Opperman, Joan Hambidge, Wilma Stockenström en Lina Spies. Vergelyk ook die kwatryn oor Emily Dickinson met sy ryk beelding:

Ek besit nóū geen portret, maar is soos die bruin
langstertjie klein, & my hare soos ’n kastaiingkwas
’n astrante klos – & my oë die kleur
van sjerrie wat die laaste gas los in ’n eenkantglas.

Ontluistering is ook eie aan De Lange se werk, en veral ook ’n bevraagtekening van die normatiewe. So word die jong Afrikanerheld Jopie Fourie in ’n kwatryn ’n “viriele boereskut” genoem (26) en dien die “vuilgevatte kiekie” van ons held as stimulus vir masturbasie. In “Jacob Israël de Haan” (31) wonder die spreker of De Haan by die “Klaag – & Tempelmuur” in Jerusalem gaan kniel het om te bid of om te soek na ’n seksuele avontuur.

Van seksuele avontuur gepraat, die kwatryn “Ken jy die gewone man” (29) handel trouens ook oor heel moontlik ’n straight man wat “sy woede deur ’n gloriegat pomp/ in ’n ronde O van verbasing & verdriet”. (Ek hou altyd van De Lange se gebruik van ’n man se lat (67) in sy werk. Dis so eie aan hom. Miskien val dit gawer op die oog as iets soos “free range-piel” (27).)

Net ’n gevestigde digter kan dit regkry om 75 bladsye te vul met kwatryne, want op die lange duur kan die vormgetrouheid en die rym ’n leser dalk net vermoei. De Lange kry dit beslis reg en verras met sy rym, sy tematiese verskeidenheid en sy uiters geslaagde natuurbeelding. Hier en daar is ’n minder geslaagde kwatryn, soos “Heildronk” (30), maar dis in die minderheid.

Ek sien uit na De Lange se volgende bundels, want inderdaad het hy in die periode 1995-2009, toe daar geen digbundels van hom verskyn het nie, beslis nie die muse gemuilband nie.