Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

’n Gevoel vir ’n man


Jaco Fouché - 2011-12-13

Die werk is by die kerk. Sy is vier-en-vyftig.

“Geen afhanklikes nie?” vra die pastoor.

“Nee.” Sy sê nie sy het twee verhoudings beleef waarvan een byna tot ’n huwelik gelei het nie. Dis lank terug.

“As jy die ergste las van my kan afhaal tot dit somer is, help dit. Meestal hoef jy net te luister en dan bid jy. Af en toe is iets meer dalk nodig.”

Barbara knik. Sy gaan die werk goed doen.

“Ek kyk hoe vaar jy. Dit kan permanent wees.”

Die kantoor is klein. Die venster maak op die fontein voor die lesingsaaltjie oop. Heeldag lank kom die klank van rinkelende water tot haar ore, sussend en mooi. Sy sit agter die lessenaar met Bybel en aantekeningboek.

Die eerste geval kom op die tweede dag. Sy hoor voetstappe voor die venster. Dis ’n vrou wat kom plaasneem: “Ek en my geliefde is bymekaar en ek het ’n voorkind by hom. Maar hy is getroud.”

Barbara voel bevoorreg om die vrou se probleem aan te hoor.  Hulle bid.

’n Dag daarna praat ’n seun met haar oor ’n boetie wat hy afknou. Hy huil en sy praat geduldig met hom.

’n Vrou met krale om die bene het las van drome. “Is jy ’n sangoma?” vra Barbara. Die vrou sê sy is nog in opleiding. Barbara sê dat sy weet wat sy moet doen: haar aan God onderwerp en nie verder met geeste lol nie.

Die pastoor stap in. “Die mense klink tevrede.”

“Ek dink ek dring tot van hulle deur.Partykeer kry ’n mens mos ’n gevoel vir iemand.”

Die besoeke neem toe. Barbara luister en praat en bid en verwys na die Bybel. Saans gaan sy huis toe, drink tee by ’n hortjiesvenster en voel dankbaar dat sy iets vir haar medemens kan beteken.

Sy gee baie van haarself en saans gaan slaap sy vroeër. Vyf dae van die week sien sy hulle – teen hierdie tyd drie, vier ’n dag. Saterdae doen sy huiswerk en wasgoed. Sondae sit sy by die leiergroep in die kerk.

Die bejaarde man kom in die derde maand. Sy hoor iets deur die venster wat anders klink as die gewone klanke waarmee mense die kantoor nader. Dis ’n voetstap, ’n klonk-geluid, ’n voetstap, ’n klonk-geluid, alles stadig.

“Jammer vir die geraas,” sê die man in die kantoor. “My kunsbeen werk nie goed nie.”

Hy het ’n baadjie met ’n geruite patroon aan. Hy dra bril. Sy kop is bles. Hy het baard. Iets aan sy voorkoms is verontrustend, moontlik die donker oë agter die bril wat lyk of hulle toegaan, net om op die laaste oomblik oopgesper word. “Ek is Jerry Venter.”

“Waarmee kan ek help, Jerry?”

“Ek staan aan die einde van ’n lewe wat my fut getap het, maar in my jong dae was ek ’n belowende kunstenaar.”

Hy vertel van kinderjare in ’n arm deel van Johannesburg, hoe hy binnenshuis was om die slae vry te spring wat die buurtseuns op straat uitgedeel het. Hy het geteken. Dit was ’n verlossing om grootmens te word. Hy het by ’n drukkery gaan werk en een aand van sy motorfiets afgeval, sodat die drukkersinstrumente in sy rugsak hom wonde toegedien het. Hy het nagte deur aan skilderye gewerk om homself op te hef. Ná ’n eerste uitstalling het hy op die rand van die kunswêreld naam gemaak.

“Ek het met ’n portuur begin omgaan wat ek andersins nooit sou leer ken nie. Dit was vleiend om in die mense se mooi huise te kuier en my kuns te verduidelik. Daar was vroue. Ek het hulle gevlei tot hulle poseer.”

“Ja?”

“Vandag is daar niks van daardie lewe oor nie. Kyk hoe bewe ek. Ek sukkel om die kwas vas te hou.”

“En jou been?”

“Motorongeluk. Ek was op die kruin van my loopbaan, alhoewel ek dit nie geweet het nie. Ek was oortuig dinge sal beter en beter raak en binnekort sal ek gereken word. Ek het ná ’n partytjie in ’n muur vasgery. En daarna … Die nuus het versprei oor my onbesonne leefwyse. Ek is my vriende kwyt.”

“Wat verwag jy van my?”

“Ek was getroud, maar het in my opgang ’n ander vrou ontmoet. Toe skei ek. My gewese vrou is skielik dood. Iets toevalligs, nie my skuld nie.”

“Dit moet ’n swaar ding wees om te dra.”

“Ek het my toegewy aan die nuwe vrou. My verraad teenoor ’n vrou sou eenmalig wees. Maar …”

“Maar as ’n mens dit een keer doen, is die volgende kere makliker?”

“Ná die jare van getroude lewe was dit asof ek vrygelaat is. Ek het vroue vir koffie genooi, bevriend. Dit het verder en verder gegaan. Ek is die nuwe vriendin kwyt.”

“Glo jy, Jerry?”

“Wel …”

Hulle loop mekaar in die supermark raak. Hy gooi met ’n bewende hand aartappels in ’n plastieksakkie.

“Hallo, Jerry.”

Hulle drink koffie. Sy vertel van haar lewe in ’n kantoor, die nuus dat werknemers weer om hulle werke moes aansoek doen. Sy het nie. Sy sou dit seker nie kry nie en sy wou dit ook nie hê nie.

“En nou is jy jou eie mens?”

“Dis ’n goeie lewe by die kerk. Ek beteken iets vir ander.”

Wanneer hy weer kom, is dit nie ’n beradingsbesoek nie. Hulle praat en lag so dat die pastoor in die deur kom staan:

“Jy het die gawe om mense gelukkig te maak, Barbara.”

By die diens sien sy hom sit. Hy knik vir haar en sy knik terug. Ná die tyd loop sy hom by die deur raak. Hulle praat oor die weer. Hy vra haar waar sy bly.

Hy staan in die vroegaand voor die huisie wat sy huur. “Ek hoop nie jy gee om nie.”

“Nee,” glimlag sy, maar sy laat die voordeur en gordyne oop bly, ter wille van stigtelikheid.

“Ek het vir jou van my skilderye kom wys.” Hy maak ’n album met foto’s van kunswerke oop: landskappe, maar meestal is dit figuurstudies. Baie van die prente is van vroue.

“Verwag jy dat ek jou gelukwens?” vra sy.

“Opperman het gesê kuns is boos. Ek wil hê jy moet weet hoe ek was.”

“Het hierdie vroue almal kaal voor jou geposeer?”

“Ja.”

“Wat het jou mense gesê?”

“Ek het nie meer mense nie.”

In ’n koffiewinkel sê hy:                “Jy is lig in my lewe.”

“Dis nie ek wat die lig moet wees nie.”

“Maar jy bring dit aan my. Ken jy die verhaal van Dorian Gray? Oscar Wilde het dit geskryf en dit gaan oor ’n jong man wat ’n portret van homself laat maak. En dan beleef die portret die gevolge van sy sondes. Dis hoe ek voel ek is, ’n uitbeelding van wat ek kon gewees het as my lewe anders was.”

“Jy haal mense aan. Die sielkundige Jung het gesê ’n mens wat swaarkry, het ’n geestelike ontwaking nodig.”

By die kerk sê die pastoor: “Iemand het jou en daardie man saam gesien.”

“Ek maak ’n verskil in sy lewe.”

“As jy getroud was, het ek gesê dit begin by ’n koppie koffie.”

“Ek het ’n gevoel omtrent hom.”

Toe sy van Jerry droom, is sy been gesond en sy kop vol hare. Hy is jonk en op pad boontoe waar hy glimlaggend vir ’n foto poseer.

Sy nooi hom vir ’n maaltyd en praat evangelie. Hy luister en vra uit. Hy ken die Bybelse agtergrond, hoewel nie in besonderhede wat haar tevrede stel nie. Terwyl lentewinde teen die vensters vaswaai, terwyl sy sy hand vashou, gee hy sy hart kalm aan die Here. Dis asof sy oë minder knip.

Tydens die diens vra die pastoor mense wat wil, om vorentoe te kom. Jerry staan op en loop met sy kunsbeen stadig en luid na voor, waar daar vir hom en ander gebid word. Barbara sit op haar plek by die leiergroep en kyk weg, so trots voel sy.

Natuurlik beraad sy ander mense ook. En dit gaan goed. Die werk geval haar. Miskien is dit moederinstinkte wat nou in werking tree. Sy gee praktiese raad. Waar nodig, dring sy op bekering aan. Waar dit nie nodig is nie, verwys sy na dokters, bel sielkundiges, skakel in een geval met die koerant om ’n skoolkind oorsee te laat gaan vir ’n sportgeleentheid.

Die nuus dat Jerry dood is, bereik Barbara op ’n warm dag. Die pastoor kom sê vir haar en hulle bid gou saam.

“Ek is jammer dat ek negatiewe dinge oor hom gedink het, maar ek was oor jou besorg,” sê hy. “En as jy die pos wil hê, is dit joune.”

“Ek doen dit graag.”

By ’n leiersgroepvergadering versoek sy die kerk om vir ’n begrafnis te betaal, aangesien Jerry geen kontak met naasbestaandes gehad het nie. Dit sal gebeur.

Tog is daar die dag van die begrafnis iemand wat hom geken het, ’n Joanne.

“Die ou pes het my al my dae gegee, maar iemand moet hom seker begrawe.”

“Wie is jy?”

“Ek was sy laaste model. Ek dink nie ná my het enige vrou ooit weer vir sy sjarme geval nie. So ’n ou rondloper.” Die vrou voel met ’n vingerpunt in ’n mondhoek terwyl sy rondkyk. “Min mense. Dis een ding van onbekend begrawe word. Niemand sal jou tranerig sê hulle het ’n voorgevoel gehad nie.”