Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Essays

Joernaliste is beide brûe en tolke


Francois Verster - 2011-12-13

Die Departement Joernalistiek op Stellenbosch het van 21-25 November 2011 ’n slypskool aangebied waar bekende wetenskaplikes soos dr Jurie van den Heever en joernaliste soos Elsabé Brits as sprekers opgetree het. Ook etlike akademici met hulle wortels in die joernalistiek, soos proff Lizette Rabe en George Claassen (beide van die US) en dr Pedro Diederichs van Tswane Universiteit van Tegnologie (TUT), het bydraes gelewer.

Ek het prof Claassen se lesing, “Writing for and talking to the public – why scientific jargon is bunk”, bygewoon. Claassen het gesê hy beweer nie wetenskaplike terminologie is nutteloos nie, maar dat dit nutteloos is om dit vir die publiek aan te bied sonder enige verduideliking. Indien dit “onverdun” aangebied word, kan dit gevaarlik wees, of bloot onverstaanbaar. Die gevaar van laasgenoemde is juis dat die publiek vervreem kan word van die wetenskap. In Afrika dalk méér as elders: ons moet baie meer wetenskaplikes kweek en die jeug moet die wetenskappe as interessant én toeganklik ervaar.

Claassen het die algemene hoogdrawende wetenskaplike skryfwyse, oftewel “academicspeak” (“akademiaans”) as die vernaamste sondebok uitgewys – waarom baie lesers nie met die wetenskappe identifiseer nie en dan onbewus bly van soveel fassinerende verskynsels. Hier dink mens aan Carl Sagan, die eerste wetenskaplike wat die wetenskap aan derduisende mense toeganklik gemaak het. En die wonderbaarlike heelal aan ons bekendgestel het.

Goed en wel, min wetenskaplikes sal so ’n hoë seepkis soos Sagan kan bestyg – hulle doelwit moet eerder wees om maklik(er) leesbaar te wees: om  terminologie te verduidelik, om verstaanbare vergelykings te tref (soos om te sê: “Kyk, die maan is so ver van ons as daardie plaashek, en die son is so ver soos daardie koppie dáár”), maar veral moet wetenskaplikes in eenvoudiger taal skryf sodat niewetenskaplikes – soos joernaliste – dit kan verstaan. Want dis joernaliste wat as tolke of brûe tussen wetenskaplikes en leke optree. As die brug gebrekkig is, moet wetenskaplikes nie verbaas wees as die gewone lesers soms rondspartel nie. Liewer van meet af aan sorg vir ’n stewige onderbou as om later reddingsgordels te soek.

Bygesê, dis dalk effe kwaai om van akademici te verwag om af te wyk van hulle gewone akademiese “register” (trant, styl en kenmerkende woordeskat) en plotseling in leketaal te skryf. Maar dit sal baie beteken vir die joernaliste wat sukkel om te begryp wat akademici bedoel as hulle byvoorbeeld van kwantumfisika en obskure formules praat. Uiteraard skryf akademici gewoonlik in vakkundige joernale vír ander akademici, maar Claassen voel hulle kan minstens probeer.

Uit eie ondervinding kan ek getuig dat dit aanpassing verg om in verskillende “registers” te skryf: die trant en woordkeuse vir ’n artikel in die Kaapse Bibliotekaris verskil net soveel van dié vir die vakjoernaal SA Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis as van wat vir LitNet verwag word, of die streekskoerant Bolander. Die lesersmark bepaal dus die trant, taalgebruik en selfs die styl. En dis seker waar dat mense gemakliker skryf vir mense soos hulself. As jy Manie van Midrand is, is middelmoot dalk jou natuurlike register. En prof Hoogenboezem skryf vir ander hoogbeboesemdes.

So, sal wetenskaplikes aan Claassen se versoek kan voldoen? Ja, daar ís hoop: daar is die sogenaamde Gunning Fog-indeks, wat neerkom op ’n formule wat bepaal hoe lank woorde, sinne en paragrawe behoort te wees. Kortliks – nie te lank nie, asseblief. En enigeen kan dit op Google vind as jy dit wil benut. Maar ek wonder – hoe aanloklik formules vir wetenskaplikes mag wees, word skryfkuns nie so maklik gedefinieer nie. Die artikelskrywer moet duidelik kan kommunikeer én sy/haar skrywes moet duidelike kommunikasie wees. “Good communication is clear communication,” is die leuse. Weereens: min wetenskaplikes – hulle het immers nie BA Tale gestudeer nie – is goeie skrywers.

Maar as hulle wil hê diegene wat kán skryf (vir die lekepubliek) moet die oorspronklike feite en gevolgtrekkings korrek en verstaanbaar en hopelik interessant oordra, sal dit deug om minstens tot by die brug te stap om sodoende die tolk se opdrag/oordrag/voordrag te vergemaklik.

Claassen het ’n paar wenke gegee vir goeie skryfwerk, soos om jou te verbeel dat jou leser jou eie oupa is of iemand wat iets lees wat nie in sy/haar moedertaal geskryf is nie. Verder begin mens by die bekende en beweeg dan na die onbekende. Illustrasies help ook – net 10% van wat mense onthou as hulle lees, is woordteks en 30% is beeldteks (prente, diagramme, ens). Skrywers moet afkortings ook so min as moontlik gebruik en moet sny soveel as moontlik, genadeloos, tot teen die been.

Ek glo nogal dat as jy ’n eie stem en ritme het, jy met baie kan wegkom, maar dit kos oefening, en tyd, wat akademici nie noodwendig wil opoffer nie. Uit die gehoor kom die vraag toe hoeka: “Terwyl akademici iets kry vir geakkrediteerde artikels, waarom moet hulle vir populêre blaaie (lees: die publiek) skryf?”

Hoewel die aanbeveling is dat akademici éérs vir vakkundige joernale skryf en dán die joernaliste nader winkv– om te verseker hulle bevindings is as korrek bewys alvorens dit van die hoogtes uitgebasuin word, is die rede vir die slypskool basies dat die massas ingelig en opgehef moet word. En dat skelms soos kwaksalwers wat onkunde uitbuit deur kwaksalf te smous vir selfs ernstige siektes, uitgewys word. Sonder ’n swaaiende beesstert en ’n toordokter se dolosse – eerder omdat die lesers dan reeds weet so iemand praat twak.

Nee, Afrika benodig nie “bull-twang” nie. Afrika roep om hulp, en haar hulp is nie van wyse manne op bergpieke – of ivoortorings – nie. Mag die wetenskaplikes die valbrug laat sak tot reg onder waar ons almal wag – nie op die kaptein nie, maar op die dokter, die navorser en ja, die vuurpylontwerpers. En trap maar oor daai brug: joernaliste is nou al gewoond om getrap te word.

Vir my gaan dit veral daaroor dat die vakdissiplines, maar veral die ekspert en die leek, nie afgesonderde eilandjies in ’n oseaan van onkunde mag wees nie. Daar is eenvoudig te min Darwins om die voëls en die “fools” te gaan ontdek – of red. En dis hoekom slypskole soos Claassen se “Science meets the media in Stellenbosch” nodig is.