Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Kronkelpad trek al die los drade bymekaar


Madri Victor - 2011-12-13

Kronkelpad
Irma Joubert
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624053873
Prys: R124.95

Klik hier en koop Kronkelpad nou van Kalahari.net!


“Die lewe loop soms vreemde kronkelpaaie met ’n mens,” vertel Lettie Louw se ma haar op skool nadat sy, soos vele ander meisies, tevergeefs op die gewilde en aantreklike De Wet Fourie verlief raak, “maar elke pot kry op die ou end sy eie deksel.”

Indien jy Irma Joubert se trilogie gevolg het, met Anderkant Pontenilo as die eerste boek en daarna Pèrsomi, sal jy weet dat daar vele kronkelpaaie was vir dié karakters: Klara, De Wet en Boelie Fourie, Christene, die bywonerkinders Gerbrand en Pèrsomi , Annabel en haar broer Reinier, en die Romanelli-broers. Kronkelpad, die laaste in dié reeks, vertel die verhaal van Lettie Louw, vriendin van Klara, en Marco Romanelli, Antonio se broer. Marco maak ’n vinnige verskyning in Anderkant Pontenilo, met verwysings na sy liefde vir die Jodin Rachel Rozenfeld en die ontberings wat Marco saam met dié gesin deurstaan. Van Lettie sien ons bra min in die eerste twee boeke; as mollige alleenkind van die plaaslike dokter is sy, soos Pèrsomi, byna ’n randfiguur. As gevolg van haar vriendskap met Annabel, wat ontstaan het slegs omdat dié se ma haar kleintyd vir lang rukke by die Louw-huis kom aflaai het, word sy egter deel van Annabel, Christine en Klara se vriendekring. In Pèrsomi kry die leser die indruk dat Lettie intelligent, maar stil, teruggetrokke en broos is wanneer sy moet getuig in die hofsaak waarin Pèrsomi die gedwonge verskuiwing van die Indiërwinkeliers beveg.

In Kronkelpad word die wáre Lettie vir die leser gewys. Sy is, ten spyte van haar saggeaardheid, ook doelgerig en ambisieus. Lettie weet dat sy nooit so popmooi en fyn soos Christine, so gewild soos Klara, of so smeulend aantreklik vir die seuns soos Annabel sal wees nie. Wanneer sy sien dat De Wet, soos ander gewilde ouens, haar nooit beskore sal wees nie, neem Lettie die besluit om haar eerder op haar mediese studies toe te spits; sy sal die beste dokter word wat sy kán. Sy neem stadig maar seker haar pa se praktyk oor en sorg dat sy op hoogte bly van die jongste mediese bevindings en navorsing. En anders as wat sy altyd geglo het, loop die liefde haar tóg nie verby nie. Wanneer sy die Italianer Marco Romanelli ontmoet, begin daar ’n pragtige vriendskap tussen hulle ontwikkel. Marco word na Suid-Afrika gestuur nadat sy longe beskadig is weens sy aanhouding in die Joodse kampe. As Marco se dokter is Lettie baie goed bewus van sy swak gesondheid. Ook van sy pynlike geskiedenis in die kampe en sy tevergeefse liefde vir ’n Joodse meisie – moontlik daarom dat Lettie soveel aanklank by dié man vind. Marco, aan die ander kant, vind in Lettie ’n bond- en geesgenoot. Saam stap hulle die langsame kronkelpad van heling en liefde. Lettie en Marco is minlike karakters wat diep in lesers se harte sal inkruip.

Die verhaal speel af teen die polio-epidemie van die 1950’s en getrou aan Irma Joubert se reputasie as skrywer betrek sy in Kronkelpad die geskiedenis meesterlik. Sy vleg feite naatloos in die verhaal sodat die verlede lewend en eg vir die leser word. Die polio-epidemie van die vyftigerjare is ’n tema wat, soos die hervestiging van Duitse wesies wat as agtergrond in Tussen stasies gebruik is, grootliks ongeskryf gebly het in ons letterkunde. Daar bestaan steeds vele wanopvattings en onsekerhede oor polio, en die 1950’s-epidemie is ’n deel van ons geskiedenis waarvan jonger lesers waarskynlik nie eens bewus is nie. Joubert ondersoek hierdie relatief onbekende tema met groot sukses. Haar beskrywing van die spanning rondom die uitbraak van die epidemie, die vrees waarmee ouers saamleef wanneer jou kind die dag nie kan opstaan nie, die hel van hospitale en die pynlike herstelproses met behulp van fisioterapie en die ysterlong, en die invloed wat só ’n gebeurtenis op gesinne en families het, is aangrypend. In teenstelling met die polio-epidemie is die Joodse onderdrukking en aanhouding in kampe soos Auschwitz ’n tema wat al deeglik beskryf is. Só ’n tema moet met groot versigtigheid behandel word; Joubert gee vir die leser slegs die nodigste feite en doen min historiese inkleding, juis omdat die leser vertroud sal wees met die tematiek. Sy fokus in die gedeeltes rondom die vervolging van Marco en die Rozenfeld-gesin eerder op die emosionele belewenis van Marco. Dit verseker dat die hantering van ’n baie moeilike tema nooit melodramaties word nie.

Anders as met Pèrsomi het ek die historiese en mediese inligting in Kronkelpaaie nie oorweldigend gevind nie. Dit staan nooit in die pad van die verhaal nie en karakters word op simpatieke wyse uitgebeeld. Joubert betrek haar leser emosioneel by die verhaal en wek baie empatie vir haar karakters. Die verhaal van die Romanelli-gesin in Suid-Afrika bly eg menslik en word nie verromantiseer nie. Daarom dat ek die afloop van die verhaal teleurstellend vind. Om die verhaal te laat eindig in dieselfde ruimte waar die trilogie begin, die klein Italiaanse tuisdorpie van die Romanelli’s, is ’n slim afsluitingstegniek. Maar ongelukkig het die voorafgaande reis deur Italië nie my belangstelling geprikkel nie. Die beskrywings van Italiaanse besienswaardighede het te veel herinner aan ’n reisbrosjure. En die verhouding wat Lettie aanknoop, het te veel van ’n Hollywood-slot gevoel; dit is geforseerd gelukkig. Die roman kon reeds rondom bl 390 tot ’n einde gekom het, of met Lettie wat alleen saam met Antonio, Klara en die Romanelli-kinders na Italië reis. Die lewe deel immers nie vir almal súlke gelukkige eindes uit soos wat ’n mens hier sien nie – en kronkelpaaie word nie altyd reguit paaie nie. Boonop het ek nooit die indruk gekry dat Lettie vóór die reis na Italië ongelukkig of onvervuld was nie. Maar toegegee, die meeste aanhangers van Irma Joubert sal waarskynlik teleurgesteld wees met my voorstelle; Joubert se historiese romans fokus op verhoudings, veral liefdesverhoudings, en bied vir die leser nie net ’n kykie in die verlede nie, maar ook ’n gelukkige einde waarin die liefde blom. En dit doen Kronkelpad met groot sukses. Joubert trek met hierdie verhaal al die los drade van die trilogie se karakters bymekaar. Soos Lettie se ma voorspel: hier kry elke pot sy deksel – ten spyte van die kronkelpaaie waarop die leser saamstap.