Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > LitNet Akademies-gespreksruimte

Tieners in die kuberwêreld – kan jeugromans byhou? Franci Greyling lewer kommentaar


Franci Greyling - 2011-12-08

Franci Greyling reageer op die artikel “‘Fanie Viljoen se Onderwêreld as voorbeeld van die gesag- en magstryd in die jeugroman” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Johan Anker.

Oor ’n vraag

Die miniseminaar stel die vraag: “Tieners in die kuberwêreld – kan jeugromans byhou?” Wanneer die woorde geskommel word, ontstaan nog ’n paar vrae: “Kuberwêreld in die tieners – kan jeugromans byhou?”; “Jeugromans in die kuberwêreld – kan tieners byhou?”; “Die kuberwêreld – kan skrywers byhou?” en so meer.

In sy artikel “Fanie Viljoen se Onderwêreld as voorbeeld van die gesag- en magstryd in die jeugroman” illustreer Johan Anker hoe die kuberwêreld skering en inslag van dié jeugroman vorm. Ek wil hierby aansluit deur na ’n ander werk van Fanie Viljoen te verwys, naamlik “Pynstiller”/Pynstiller – ’n verhaal met die tema van selfskending onder tieners. Alhoewel die verhaal nie tematies met die kuberwêreld verband hou nie, demonstreer die verskillende weergawes daarvan iets van die eindelose kreatiewe moontlikhede wat skrywers in die digitale era kan ontgin.

Oor verandering

Ter aanvang enkele aantekeninge oor die verwikkelde verhouding tussen die kuberwêreld, die leser, die skrywer, kinder- en jeugliteratuur en kreatiewe storievertel­moontlikhede.

Die digitale era, en meer spesifiek die internet, het die samelewing radikaal verander en ons bevind ons tans in ’n fase van fundamentele tegnologiese en kulturele verandering, soortgelyk aan (of, volgens sommiges, veel aangrypender as) die Gutenberg-revolusie. Dit word algemeen aanvaar dat daar ’n noue verband bestaan tussen die tegnologie wat deur ’n individu en samelewing gebruik word, en denke. Dit is veral die geval ten opsigte die sogenaamde intellektuele tegnologieë – die gereedskap wat ons gebruik om ons verstandelike vermoë uit te brei of te versterk. Elke nuwe kommunikasie­tegnologie bied nuwe uitdrukkingsmoontlik­hede, maar transformeer terselfdertyd die bewussyn en beïnvloed kulturele en intellektuele dissiplines. Die internet beïnvloed dus nie slegs ons manier van lewe nie, maar ook die manier waarop ons dink, lees en onthou. (Sien in dié verband skrywers soos Ong 1982, Landow 1997 en Carr 2010.) Dit impliseer verder dat jongmense wat in hierdie tegnologiese era (as’t ware in ’n kuberwêreld) grootword, ander vaardighede en verwagtinge het as die vorige geslag.

Dat die digitale revolusie ook die uitgewersbedryf onherroeplik verander, blyk onder andere uit debatte oor die plek van die uitgewersbedryf en die toekoms van die boek (soos in die onlangse LitNet-miniseminaar Die boek in krisis); die ontstaan van nuwe publikasie­moontlikhede en terme soos e-boek, m-boek, p-boek; en besinning oor die leesvaardighede en -behoeftes van die sogenaamde digitale generasie.

Belangrike gevolge van die digitale era is ’n nuwe demokrasie, verplatting van strukture en vervaging van grense. ’n Sogenaamde deelnemende kultuur (participatory culture) het ontstaan waarin individue nie slegs as verbruikers optree nie (verbruikers­kultuur) nie, maar ook as bydraers of produsente. Die tegnologie stel enige individu met internettoegang in staat om self die skepper en publiseerder van inhoud te wees, en om deur sosiale media portuur­gemeenskappe te vestig, menings uit te spreek en invloed uit te oefen – funksies wat die digitale generasie as vanselfsprekend aanvaar.

Die digitale omwenteling het onafwendbare gevolge vir kinder- en jeugliteratuur. Ewers (2000:6) beskryf die veranderings van kinderliteratuur in ’n multimedia-omgewing as literêre veranderings (inhoud, onderwerpe, literêre tegnieke, vorme), funksionele veranderings (toepassing en metodes van gebruik) en veranderings in status. Die veranderings is egter nie enkelvoudig nie. Ewers identifiseer byvoorbeeld twee uiteenlopende tendense wat hy albei aan die invloed van tegnologie toegeskryf, naamlik die ontstaan van genres met ’n duidelike teikengroep en grense aan die een kant, en die vermenging van genres en die oorskryding van grense aan die ander kant. In haar teorie oor fundamentele veranderings in kinder­literatuur identifiseer Eliza Dresang (1999:12) drie konsepte wat wesenlik is aan die digitale era en wat in boeke gereflekteer word, naamlik interaktiwiteit, verbinding en toegang. Hierdie kenmerke kom volgens haar tot uiting in veranderde vorme en formate, perspektiewe en grense.

Bogenoemde veranderings manifesteer op diverse wyses en daar is ’n dinamiese wisselwerking tussen ’n magdom veranderlikes. Wanneer na die “nuwe” tegnologie en die bestaande (“ouer”) tegnologie in verhouding tot mekaar gekyk word, blyk dit dat daar wedersydse beïnvloeding plaasvind en dat verskillende vlakke onderskei kan word. In die geval van boeke (die “ouer” tegnologie) kan dit byvoorbeeld die verwysing na nuwe tegnologie of die gebruik daarvan in die storielyn behels, of die ontginning van nuwe stilistiese en narratiewe moontlikhede. Ter illustrasie: tematieshandel Onderwêreld oor kuberkrakers en sosiale manipulasie. Die vertelstruktuur van die verhaal sluit egter ook hierby aan deur die begin en einde van die boek wat as die in- en uitteken op ’n rekenaar aangedui word en die hoofstukke as digitale lêers. In Viljoen se Breinbliksem word die grafiese voorstelling van ’n MP3-speler as hoofstuk­indeling gebruik.

In Carina Diedericks-Hugo se jongste Thomas-boek, Thomas@­rockster.net, word die boek en kuberwêreld konkreet verbind deur die gebruik van interaktiewe elemente (skakels hierna kom in die boek voor). Alhoewel hierdie elemente nie nodig is om die narratief te kan volg nie, word die fiksio­nele wêreld daardeur uitgebrei en die grense tussen fiksie en werklikheid sodoende vervaag. Die multimedia-omgewing en interaktiwiteit is opvallend: QR-kodes wat lei na ’n foto, klankgreep en video; ’n MXit-kanaal waar die karakters se gesprekke gevolg kan word; ’n internet­speletjie; en ’n webblad waar onder andere eie musiek gemeng kan word.

Bestaande tegnologie kan egter ook in die nuwe tegnologie neerslag vind. Wanneer ’n nuwe tegnologie in gebruik kom, is die tendens aanvanklik om die vorige tegnologie (of formaat) in die nuwe medium te dupliseer, byvoorbeeld om bestaande tekste op die internet te publiseer. Met verdrag (en gepaardgaande met die ont­wikkeling van die nuwe tegnologie) word die unieke moontlik­hede ontgin, sodat tekste later in die medium gekon­septualiseer word (Greyling 2007:147-148). Rekenaar­speletjies is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Peter Hunt (2000:11) is van mening dat die nuwe tegnologie verreikende en fundamentele veran­derings tot gevolg het en selfs die wese van die narratief kan verander: “Electronic media are not simply changing the way we tell stories: they are changing the very nature of story, of what we understand (or do not understand) to be narratives.”

Oor skrywers en eksperimentering

Uit die voorafgaande blyk dit duidelik dat die eietydse jeugboekskrywer ’n mag­dom moont­likhede beskikbaar het om stories te vertel en te publiseer. Die snel veranderen­de tegnolo­giese omgewing is as’t ware ’n hutspot vir die verkenning van en eksperimentering met verskillende media, vorme en storievertelmoontlikhede.

Skrywers eksperimenteer wel met al hierdie moontlikhede, maar die potensiaal daarvan word nie noodwendig verder ontgin nie. Self­publikasie, hetsy in boekvorm of in ander formate, geniet nie dieselfde status as ’n publikasie by ’n bekende uitgewer waar keuring- en afrondings­proses bepaalde gehalte impliseer nie. Die hoër status en relatiewe permanensie van tekste in boekformaat maak dit makliker om tendense te identifiseer en om hieroor te kan besin. Die ontstaan en gebruik van nuwe vorme en toepassings elders gaan daarom dikwels onopgemerk verby, word nie na waarde geskat nie, of word as vanself­sprekend aanvaar. Met die eksponensiële groei van die internet en internettoepassings word vandag se uitvinding immers môre as vanself­sprekend aanvaar en die dag daarna deur ’n nuwe tegnolo­gie of toepassing vervang.1 Die vele publikasieplatforms, gefragmenteerdheid en dinamiese aard van die internet dra verder daartoe by dat alternatiewe storievertel­- en publikasie­moontlikhede dikwels onopgemerk bly. Hierdie “rand”-aktiwiteite kan egter waardevolle insigte bied met betrekking tot die evolusie, potensiaal en resepsie van alternatiewe vorme.

Oor die einders van die bladsy-­projek

’n Projek wat die geleentheid gebied het om te sien hoe skrywers en kunstenaars die grense van die boek uitdaag, is ‘n projek bekend as Oor die einders van die bladsy: ’n transdissiplinêre ondersoek na die praktykgeleide navorsing deur middel van die kunstenaarsboek), ’n gesamentlike projek van die vakgroepe Skryfkuns, Grafiese Ontwerp en Kunsgeskiedenis aan die Noordwes-Universiteit en ander instansies, soos die Universiteit van Johannesburg en Universiteit van Pretoria.

In die projek, wat oor drie jaar gestrek het, is ongeveer 40 kunstenaars en skrywers, asook mense uit verwante dissiplines soos argitektuur en taaltegnologie, genooi om sogenaamde kunstenaars­boeke te maak. Kunstenaarsboeke is die ideale middel om grense uit te daag en oor te steek, aangesien dit buite die beperkinge van die uitgewersbedryf funksioneer en op individuele kunstenaarsvisie, konseptualisering en uitvoering gebaseer is. Kunstenaarsboeke is ook in wese transdissiplinêr van aard. As konseptuele kunswerk bied die kunstenaarsboek verder die geleentheid vir effektiewe kritiese analise (Greyling 2011).

Deelnemers aan die projek het kunstenaars en skrywers soos Dianne Victor, Strijdom van der Merwe, Fanie Viljoen, David Paton, Leon de Villiers, Flip Hattingh en Ian Marley ingesluit. Soos verwag is, is uiteenlopende boeke geskep wat gewissel het van verskeie variasies van die kodeksvorm tot ’n herbesoek aan kleitablette, en vanaf fisiese boeke tot digitale toe­passings. Die boeke is opgeneem in ’n groepsuitstalling wat in 2010 in Stellen­bosch, Potchefstroom en Johannesburg gehou is. Kunstenaars en navorsers in die pro­­jek is ook verder betrokke by formele navorsing wat uit die projek voortspruit. (Meer inligting oor die projek is beskikbaar by www.bookboek.co.za.)

Oor Fanie Viljoen se “Pynstiller”/Pynstiller

Vir die Oor die einders van die bladsy-projek het Fanie Viljoen, wat benewens skrywer ook illustreerder is, besluit om ’n eie kortverhaal, “Pynstiller”, in ’n grafiese verhaal te omskep. In die proses het verskeie weergawes van die verhaal in verskillende mediums en formate ontstaan, naamlik as kortverhaal, ’n grafiese verhaal in boekvorm, ’n grafiese verhaal op Facebook, ‘n selfoonstorie op Yoza mobi, en ‘n digitale boek. Elkeen van hierdie weergawes het die potensiaal om lesers op ’n ander manier te bereik en te betrek.

Viljoen het die verhaal aanvanklik in Engels geskryf, maar dit later in Afrikaans vertaal as “Pynstiller”. Hierdie kortverhaal (Viljoen 2010c) is opgeneem in die jeugbundel Skreeu en ander verhale (LAPA), waar die lesers op die konvensionele manier met die verhaal kennis maak, naamlik as ’n woordteks binne ’n versamelbundel.

Die tweede weergawe van die verhaal is die grafiese boek Pynstiller (Viljoen 2010a). Viljoen was verantwoordelik vir die hele projek, insluitende die illustrasies, boekontwerp en bladuitleg. Die tekeninge is met pen gedoen, ingeskandeer, verder met die grafiese program Photoshop gemanipuleer en saam met die woordteks uitgelê. Viljoen het die boek self laat druk en bind (’n oplaag van 25; ringbind). Hierdie boek is in die Oor die einders van die bladsy-uitstalling opgeneem. Besoekers aan die uitstalling is aangemoedig om die boeke te hanteer, aangesien die materiële objek deel van die betekenis en leeservaring is. Dit is beslis die geval met die boek Pynstiller. Die voorbladontwerp bestaan byvoorbeeld uit ‘n illustrasie van ’n lemmetjie met driedimensionele bloeddruppels en ’n dowwe rooi duimafdruk. Wanneer die leser die boek hanteer, word hy/sy as’t ware gedwing om hieraan te vat – en word sodoende ook fisies met die tema gekonfronteer. Die reaksie van jongmense wat die boek gelees het, dui daarop dat die tema relevant is en dat hulle met die visuele aanbieding kan identifiseer.

Die digitale formaat van die teks, illustrasies en boekontwerp het dit moontlik gemaak om die verhaal in verskillende formate te publiseer. Terwyl hy besig was om die bladsye te ontwerp, het Voljoen op die gedagte gekom om dit ook op die sosiale platform Facebook te plaas (Viljoen 2009b). Hy het ’n oop Facebook-groep, Pynstiller, gestig en sy volgelinge en vriende van ander groepe (Breinbliksem en sy persoonlike profiel) genooi om by die groep aan te sluit. Die bladsye is met verdrag gepubliseer (as foto’s/images) en lede is genooi is om kommen­taar te lewer; hulle bydraes het egter nie die werk self beïnvloed nie (Viljoen 2009a). Dit is opvallend dat alhoewel daar mense is wat op die boek en die illustrasies kommentaar gelewer het, die reaksie en gesprek­ke grootliks oor die tema self – naamlik selfskending – gehandel het. Lede het ook kreatiewe bydraes geleer wat met die tema verband hou. Dit blyk duidelik dat ’n sosiale gemeenskap gevorm het waarin die groeplede deelnemers en produsente geword het. Viljoen het ook later die grafiese verhaal met die Engelse teks uitgelê en ’n Facebook-profiel, Painkiller, geskep. Die oogmerk hiermee was onder andere om dit as bemarking te gebruik vir Mindf*d, die Engelse vertaling van Breinbliksem (Viljoen 2010b).

 ’n Verdere uitvloeisel van die projek was die verspreiding van Pynstiller en Painkiller as selfoonstories op Yoza cellphone stories (Viljoen 2010d). Die Yoza-projek, ’n platform wat selfoontegnologie vir leesbevor­dering gebruik, is die inisiatief van die tegnologienavorser Steve Vosloo en word deur die Shuttleworth Stigting befonds. Die verhale (sogenaamde m-novels – mobile novels) is beskikbaar via MXit en op die internet. Om Pynstiller vir ’n selfoon aan te pas is die teks met klein stukkie van die illustrasies gekom­bineer. Yoza moedig lesers aan om kommentaar oor die hoofstukke of ’n verhaal as geheel te lewer. Die kommentaar (meestal in sms-taal) oor die twee weergawes strek van lof na afkeer. Alhoewel nie alle lesers nood­wendig ingenome met die tema en formaat is nie, of hulself genuanseerd uitdruk nie, is dit wel duidelik dat hulle uitgesproke is en aanneem dat hulle menings ’n verskil kan maak.

’n Digitale weergawe van Pynstiller (Viljoen 2011a) is ook deel van die digitale katalogus van die Oor die einders van die bladsy-projek (ontwerp en programmering deur Jaco Burger). Die uitleg is identies aan die fisiese boek en twee teenoor mekaar staande bladsye word saam vertoon. Die omblaai-effek word ook visueel voorgestel. Alhoewel die materiële ervaring ontbreek, kan die boek in hierdie formaat betreklik goedkoop versprei word. Die formaat is ook van permanen­ter aard as ’n Facebook-groep, wat van die internet verwyder kan word of as gevolg van ’n afname in aktiwiteit bloot van die “kuberradar” verdwyn.

Voorlopige gevolgtrekking

In kunstenaarsboeke word onderskei tussen die unieke, individuele boek (wat ook ’n beperkte oplaag kan insluit) en die sogenaamde democratic multiple – boeke wat goedkoop aan soveel mense as moontlik versprei word. “Pynstiller”/Pynstiller (veral die Facebook-weergawe) is ’n uitstekende voorbeeld van die “democratic multiple” in die nuwe tegnologiese omgewing.

Uit die reaksie op die verskillende weergawes van “Pynstiller”/Pynstiller blyk dit dat Fanie Viljoen deur die alternatiewe wyses waarop hy dieselfde storie vertel en gepubliseer het, wel die teikenlesers bereik. Op die vraag, “Tieners in die kuberwêreld – kan jeugromans byhou?” en my alternatiewe vraag, “Die kuberwêreld – kan skrywers byhou?”, is die antwoord ja. Dit verg egter wel van skrywers om die kreatiewe moontlikhede raak te sien en te verken. Dis natuurlik ’n ander vraag of dit lonend is – en hoeveel skrywers soveel tyd kan spandeer aan projekte wat nie noodwendig tot hul skrywersprofiel of publikasiemoontlikhede in die hoofstroom bydra nie. Wat Fanie Viljoen se “Pynstiller”/Pynstiller wel illustreer, is dat daar talle moontlik­hede van storievertel en publikasie beskikbaar is: van ’n stewige boek in die hand tot ’n vervlietende selfoonboodskap.

Bronnelys

Anon. 2011. Participatory culture. http://en.wikipedia.org/wiki/Participatory_culture (10 Oktober 2011 geraadpleeg).

Carr, Nicholas. 2010. The shallows: How the internet is changing the way we think, read and remember. Londen: Atlantic Books.

Dresang, ET. 1999. Radical change: Books for youth in a digital age. New York: HW Wilson.

Ewers, HH. 2000. Changing functions of children’s literature: New book genres and literary functions. Bookbird 38(1):6-11.

Greyling, F. 2007. Die baie lewens van Balkie: tegnologie, kinderliteratuur, grense, hibridisering. Stilet XIX(2):144–61.

—. 2011. Kreatiewe remediasie van Pynstiller deur Fanie Viljoen: Kortverhaal na grafiese verhaal. (Ongepubliseerde artikel)  

Hunt, Peter. 2000. Futures for Children’s Literature: evolution or radical break? Cambridge Journal of Education, 30(1):111–19.

Jenkins, H. 2006. Confronting the challenges of participatory culture: Media education for the 21st century. White Paper. MacArthur Foundation.

Landow, GP. 1997. Hypertext 2.0. The convergence of contemporary critical theory and technology. Baltimore: The Johns Hopkins University Press.

Ong, WJ. 1982. Orality and literacy: technologizing of the word. Londen: Routledge.

Viljoen, F. 2009a. Sketsboek en joernaal (A4-sketsboek). Oor die einders van die bladsy-projek. Ongepubliseer.

—. 2009b. Pynstiller. http://www.facebook.com/?ref=home#!/group.php?gid=94259061126 (14 September 2010 geraadpleeg).

—. 2009c. Fanie Viljoen. http://www.bookboek.co.za/fv.html (11 Augustus 2011 geraadpleeg).

—. 2010a. Pynstiller (Grafies). Selfpublikasie.

—. 2010b. Persoonlike onderhoud met die navorser, 8 April 2010, Randburg. Opname in besit van navorser.

—. 2010c. Pynstiller. In Nel, M en A Vermaak (reds), Skreeu en ander verhale. Pretoria: LAPA.

—. 2010d. Pynstiller. http://yoza.mobi/stories/23 (14 September 2010 geraadpleeg).

—. 2011a. Pynstiller. In Greyling, F, I Marley en L Combrink (reds), 2011. Oor die einders van die bladsy: Katalogus. CD. Potchefstroom: Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, Noordwes-Universiteit.

—. 2011b. Persoonlike korrespondensie met navorser. 8 Augustus 2011.

Eindnota

1 Eliza Dresang gebruik byvoorbeeld in 1999 die term handheld book om na die gedrukte boek te verwys. Met die opkoms van tablette soos Kindle en iPadis die betekenis egter nie meer vanselfsprekend nie.