Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Resensies | Reviews

Die geheim van Slangfontein: Voorwaar 'n aanbeveling


Leon-Ben Lamprecht - 2011-12-08

Grootste Treffers/Die geheim van Slangfontein
Radio Kalahari Orkes


Klik hier en koop Die geheim van Slangfontein van Kalahari.net.

 

Dit was maar ’n kakkerige DVD, om eerlik te wees. Ek moes seker geweet het toe my vriend Die Generaal nie opgewonde klink oor my jongste aankopie nie: Led Zeppelin se The song remains the same-DVD.

“Meh,” het hy skouerophalend gereageer. Ek moes toe al geweet het. Maar nouja. Die resultaat? Twee ure van my lewe wat ek nie gaan terugkry nie.

To be fair, die musiek was fantasties, so ek het seker net ’n uur van my lewe verloor, maar die ... toneeltjies tussenin was verby bisar (en ek het ’n gesonde sin vir die absurde, belowe).

Ek was dus bietjie lugtig toe ek hoor van die Radio Kalahari Orkes se Die Geheim van Slangfontein. Hulle is vir my ’n musiekgroep waarvan ek nogals baie hou. Gaan dit ook fail to impress, soos die Led Zep-DVD? (En hoekom op dese aarde vergelyk ek ’n amperse boeremusiekband met ’n wilde rockband?)

Goeie nuus, maats, dis ’n lekker kyk, man, en net die ding vir die Kerskous.

Die saak staan so: Terwyl Rian “Rooi Jan” Malan in die Kalahari rondreis (onder meer na sy vrou hom verlaat het), hoor hy ’n spookstasie op sy radio speel – die Radio Kalahari (“100 jaar agter die tyd, maar nog steeds op die spoor”). Die musiek maak die “binneboer” in hom wakker (soos die stofomslag dit beskryf) en hy gaan soek Slangfontein, waar die radiostasie vandaan uitsaai. Dis egter moeiliker om dit te vind as verwag.

Maar dan gaan soek hy sy hart (ja, jy lees reg) en vind dit.

Wat volg, is Rooi Jan wat lekker saam die RKO kuier, en besluit hulle moet by Oppikoppi saam met Jack Parow optree, want dit gaan van hulle sterre maak, en dis wat die wêreld nodig het: dat meer mense van die Radio Kalahari Orkes weet.

Dié (losserige) storie is maar basies net ’n winkelpop om die liedjies aan te hang, maar dis nietemin pret. In geen stadium van die 67 minuut lange DVD (dis in twee episodes opgedeel) het ek verveeld geraak, of gewens dinge wil vinniger verbyrol nie.

Die Koppi-tonele (insluitend die Koppi-bywoners se reaksie – kyk veral uit vir die lang man met die Alaska-beer-hemp op die einde: hy is histeries) is beslis die hoogtepunt, en ’n gepaste einde vir dié outjie.

Hier is ook ’n handvol musiekvideo’s, as jy klaar die fliek gekyk het.

Voorwaar, voorwaar! Ek beveel dié ene aan, en méér so as jy ’n RKO fan is: as Kersgeskenk vir jou suur skoonpa (dalk beur dit hom bietjie op), as Kersgeskenk vir jouself, of hel, as jy nie in Kersfees glo nie, sommer net vir sommer.

  • Wag, wag, voor jy iets meer interessant gaan lees: saam met die DVD is ook ’n Grootste Treffers-album vrygestel (ook basies die klankbaan van die film). As jy nog nie ’n Radio Kalahari Orkes-album het nie, begin met dié een. Die meeste van die lekkerste snitte is hier: “Kaptein”, “Blaas jou Vuvuzela” (saam met Parow), “Staan my by” (saam met Chris Chameleon), “Renaissance” en “Die held”. Dis wel jammer snitte soos “Son” (wat wel op die DVD is), “Lobola”, “Onverskrokke” (ook op die DVD) en “Whakka Doef Doef” is nie hierop nie, maar jy sal sekerlik nooit almal tevrede stel nie. Die 14 tjoens wat wel hierop is, verteenwoordig ’n goeie deursnit.

  • (As jy nog ’n mening oor dié DVD soek, gaan loer hier.)

Die geheim van Slangfontein-lokprent
Wen!
Stuur jou naam en posadres aan wen@litnet.co.za en staan ’n kans om Die geheim van Slangfontein se DVD te wen! Gebruik die woord SLANGFONTEIN in die titel.