Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans > Biebouw-resensies

Streekselement gee bestaansreg aan Bitter heuning


JB Roux - 2011-12-08

Untitled Document

Bitter heuning 
Hermoine Suttner
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795703133
Prys: R189.95

Klik hier en koop Bitter heuning nou van Kalahari.net.



Volgens SASOL se Vetplante van Suid-Afrika is die Sandveld ’n “sanderige, plat area met rotsriwwe” en strek dit vanaf Alexanderbaai in die noorde tot Bloubergstrand in die suide.

Bogenoemde boekie verklaar ook: “(D)ie Sandveld (is) diamant-, vis- en kreefwêreld, ’n plek met sy eie unieke karakter, aardse, vriendelike mense en uitstekende seekos.”

Inderdaad: niemand sal stry dat die Sandveld – oftewel die Weskus – ’n karakter en bekoring van sy eie het nie. Dit sluit die mense in: hul herkoms, hulle manier van praat en doen en lééf. Dit spreek vanself dat daar van tyd tot tyd stories sal verskyn wat eie is aan die streek, verhale wat slegs vertel kan word deur mense wat hierdie deel van die wêreld tot in hul murg leer ken het.

Maar is dit billik om skrywers as streekskrywers – Sandveldskrywers, in hierdie geval – te etiketteer? Is dit nie beperkend of verkleinerend nie? Is dit hoegenaamd nodig?

Hermoine Suttner is van Poolse en Russiese afkoms en het tussen Namakwaland en Velddrif (naby die monding van die Bergrivier) grootgeword. Sy en haar man het later ’n vakansiehuis in Velddrif gekoop. Sy woon deesdae in Kaapstad, maar bring steeds baie tyd aan die oewer van die Bergrivier deur.

Bitter heuning is die optekening van ’n verhaal wat deur ’n naamlose Sandveldse vrou aan Suttner oorvertel is. Dele van die roman is egter outobiografies.

Bitter heuning is aanvanklik in Engels geskryf. Suttner het die verhaal lank met haar saamgedra, en sonder Petra Grutter (self ’n streekskrywer, wie se werk hoofsaaklik in die Overberg gesetel is) se aanmoediging sou Bitter heuning dalk nooit die lig gesien het nie. Linda Rode het die oorspronklike manuskrip in Afrikaans vertaal en Suzette Kotzé-Myburgh het dit geredigeer. ’n Mens kan aanneem Nèlleke de Jager, bestuurder van Kwela, het ook insette gelewer.

Dié roman is dus ’n spanpoging – deur ’n groep vroue. Dit is gepas, aangesien Bitter heuning veral ’n boek oor vroue is, hul unieke swaarkry, dikwels aan die hand van die mans van wie hulle afhanklik is. Swaarkry wat soms slegs deur die dood beëindig word.

Bavaria Mara, wie se moeder tydens die Boereoorlog verban is en op pad terug na Suid-Afrika vanaf Lissabon geboorte geskenk het aan ’n dogtertjie, is vernoem na die skip op wie sy die lewenslig aanskou het. Bavaria trou later met Jakob, ’n bliksem van ’n man. Na die mode van die tyd was dit praktiese oorwegings wat gelei het tot Jakob se huweliksaanbod, en ook dat Bavaria ingestem het. Tye is swaar en die egpaar trek Noorde toe op soek na uitkoms. Tydens hul reise slaan die noodlot éérs toe en ná baie ontberinge keer hulle terug na die familieplaas aan die Weskus. Geldelik gaan dit al hoe beter, maar dis lank nie die einde van Bavaria se swaarkry nie.

Hierdie deel van die roman herinner aan FA Venter se outobiografiese Kambrokind. Ontheemding en die reis van een plaas na die ander om ’n holte vir die voet te vind – en die soeke na ’n holte vir die hart – vorm trouens ’n leitmotief van die begin tot aan die einde van die boek. Die hoofkarakters blý aan die soek na die “gelukkige einde” wat vroeg in die verhaal Bavaria se ma beskore is nadat sy met oupa Knud, ’n Deense seeman, getroud is. Mara se vertelling oor haar eie lewe maak – net soos die vertelling oor haar ma se lewe – van Bitter heuning ’n “swerfroman”, veral in ’n figuurlike en emosionele sin.

Interessant genoeg word Bavaria se verhaal deur haar dogter, Mara, vertel, terwyl dit Mara gegun word om self haar lewensverhaal met lesers te deel. Te wyte aan haar pa is Mara se lewe as kind geen piekniek nie. Ook as volwassene is haar lewe vol beproewings: geluk blý binne raakafstand, maar ontglip haar telkens. Die boek het ’n sterk romantiese inslag, deurdat die verteller se lewe en gemoedstoestand oorheers word deur ’n man se liefde, en dikwels die gebrek daaraan en versugting daarna. Die indruk word geskep dat slegs ’n man, die régte man, ’n vrou ’n gelukkige en vervulde lewe kan laat lei. Sinici wat dit as kritiek teen Bitter heuning wil voorhou, moet onthou dat hierdie roman bloot getrou is aan die tydsgewrig waarin dit afspeel. En dat dit grootliks op die werklikheid gebaseer is.

Ongeduldige lesers sal die boek dalk effens langsaam vind. Al het die redigeerder goeie werk gedoen, is daar steeds reste en is lesers soms op hulself aangewese om die móói en funksionele uit ’n langerige gebrabbel te haal. Maar die skrywer (en vertaler) vergoed daarvoor deur ’n ouwêreldse bekoring te skep en die Weskus te laat lééf. ’n Enkele voorbeeld is die volgende paragraaf op bladsy 56:

Toe kom die vlei in sig. Sy sien die rietdakke van die afgekalkte huise, die wit skulpgruiswerwe wat skitter in die son. Sy ruik al die vis op die kole. Sy merk die bokkoms wat op die droog aan die pale hang.

Dis maklik om die Weskus met sy bokkomsteiers en vissershuisies tot cliché te maak, veral as jy nie die geskiedenis en swaarkry van sy voormense ken nie. Maar in hierdie opsig is Bitter heuning bo verdenking: die skrywer se bewondering en liefde vir hierdie wêreld is eg.

Om terug te keer na die kwessie van streekskrywers: hoewel ek dié boek boeiend en ontroerend gevind het, sou Bitter heuning veel skraler gewees het indien dit nie in hierdie unieke streek afgespeel het, en die streek en sy mense so liries en akkuraat uitgebeeld is nie. Dit sluit die misleidende gelatenheid in waarmee vorige geslagte Weskussers dikwels swaarkry ervaar het.

Afgesien van die taalgebruik self bewys die subtitel en die voorbladfoto hierdie roman wíl ’n Sandveldse roman – ’n streeksroman – wees. ’n Verdere bewys is die swart-en-wit foto’s wat binne-in die boek afgedruk is. (Ongelukkig is sommige van hierdie foto’s ietwat onduidelik en pas spesifieke foto’s dikwels nie by die gebeure in die hoofstuk waarnaas dit verskyn nie.)

Maar weer eens: nie net wíl hierdie boek ’n Sandveldse verhaal wees nie, dis juis die Sandveldse idioom wat hierdie roman “red”. Die intrige is byvoorbeeld nie so boeiend dat dit ’n roman van hierdie omvang sou kon laat slaag indien dit nie so sterk op ’n eiesoortige streeksagtergrond gesteun het nie; dieselfde geld die karakterisering. Dis ’n goeie storie hierdie met geloofwaardige karakters van wie ’n mens hou, maar stories is universeel: ’n roman moet iets uitsonderliks hê om bestaansreg daaraan te gee. In hierdie geval is dit grootliks die streekselement.

Dit geld natuurlik nie alle streeksverhale nie. Dit sou byvoorbeeld onbillik wees om te beweer ’n skrywer soos E Kotzé se werk het meriete slegs – of veral – omdat dit ’n streeksinslag het.

Indien daar verset onder sommige streekskrywers is omdat hulle só genoem word, is dit onnodig. Die meeste Sandveld- en ander streekskrywers voel so ’n benaming gee erkenning vir die hulde wat hulle aan “hulle” omgewing bring. Hulle sien so ’n benaming vir wat dit is: ’n aanduiding dat ’n skrywer veral bekend is vir werk wat in ’n spesifieke omgewing afspeel. Dit beteken nie ’n skrywer het nie ook ander werk geskryf nie, of dat streekswerk nie met letterkunde in die algemeen kan meeding nie.