Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles

Clare Menck se kunstenaarskap: ’n strewe-in-wording na die dokumentering van ’n deurleefde en geleefde wêreld


Amanda Botha - 2011-12-08

Untitled Document

Clare Menck se kunstenaarskap

’n Evaluering en herwaardering van Clare Menck se kunstenaarskap word verken in ’n tentoonstelling van 120 werke wat deur Sanlam aangebied word en het op 25 Oktober 2011 in Sanlam Kunsgalery in Bellville geopen. Amanda Botha beskryf Menck se kunstenaarskap as “’n strewe-in-wording na die dokumentering van ’n deurleefde en geleefde wêreld”. Die leefwêreld van Menck word verken in vier genres – stillewes, landskappe, portretkuns en interieurs – wat sy binne die tradisie van die realisme ondersoek. Haar verwysingswêreld word gevoed deur ’n sterk Westerse kunstradisie; meermale is ’n kopknik na tradisie en voorgangers sigbaar in die onderwerp en titels van werke. Maar tog getuig haar werk ook van ’n radikale wegswaai van die gekoesterde “reëls” van ’n bepaalde genre.


 

Die kunstenaarskap van Clare Menck kan verreken word in die keuse van haar onderwerpe, meer bepaald haar benadering in die verkenning daarvan. Sy het dit op rekord dat haar betrokkenheid op die alledaagse van die lewe fokus. Wat anders is, is dat sy dit op ’n buitengewone wyse ontgin. Sy het self verklaar: “Ek kan aan niks anders dink om te verf, behalwe om my eie lewe op rekord te plaas nie. Soos wat ek nie my eie vel kan ontvlug nie, is ek die stille getuie van ander mense se pyn, sowel as my eie.”

Om die lewe eerlik en ondersoekend in al sy fasette te beleef en te verreken, is op sigself ’n prestasie wat verdien om in die skilderkuns gevier te word. Menck se oeuvre bly ’n strewe-in-wording na die dokumentering, uiteindelik, van ’n deurleefde en geleefde wêreld.

Die leefwêreld van Menck word verken in vier genres – stillewes, landskappe, portretkuns en interieurs – wat sy binne die tradisie van die realisme ondersoek. Haar verwysingswêreld word gevoed deur ’n sterk Westerse kunstradisie – meermale is ’n kopknik na tradisie en voorgangers sigbaar in die onderwerp en titels van werke. Maar tog getuig haar werk ook van ’n radikale wegswaai van die gekoesterde “reëls” van ’n bepaalde genre.

In ’n essay waarin Hayden Proud Menck se werk verreken teen die tradisie van realisme, “‘Realism’ and Realist Tradition in the Paintings of Clare Menck” (Clare Menck, Hidden Life / Verborge Lewe), toon hy aan dat Menck ’n aansluiting vind by die 17de-eeuse Nederlandse skilderkuns by Rembrandt (1606-1669) en Vermeer (1632-1675). Hy verbind haar ook aan Gustave Courbert (1819-1877) se diktum dat om te skilder essensieel konkrete kuns is en slegs kan bestaan uit die verteenwoordiging van reële en bestaande dinge. Die fokus is om doelbewus te selekteer en aan bod te stel wat nie verwag word nie.

Haar sterk identifikasie met die Nederlandse en Vlaamse tradisie is duidelik in haar selfportrette, soos Selfportret met kopdoek (1990), waar sy haarself as ’n Nederlandse vrou voorhou, en ook Selfportret met ’n Hollandse landskap (1990). Haar bewondering vir Gerard ter Borch, die Jongere (1617-1681), lei ook tot subtiele verwysings in haar werk – en selfs haar persoonlike lewe.

Skilderye word in die algemeen as realisties geïdentifiseer wanneer dit openhartig die alledaagse lewe, die anekdotiese en die marginale skilder. Dit beklemtoon willekeurig aspekte van visie deur besliste gekonstrueerde en gestruktureerde komposisies te vermy. Idealisering word ook doelbewus geïgnoreer. Menck verbind ’n skildery aan ’n spesifieke plek, tyd en ervaring. Haar werk is vir haar kommunikasie en daarom gee sy besondere aandag aan die titels van haar werk.


Haar stillewes word kamees van verlore en herwonne geskiedenisse, dikwels gestileer tot ’n ervaring waarin kontrasterende uiterstes verrassend verenig word. Terselfdertyd geskied dit in ’n landskap wat voortdurend verander én verdwyn – ’n landskap wat sy met sorg dokumenteer. Dit word tydsdokumente, gestroop van sentiment of nostalgie.

Michael Godby verwys in sy essay “Interior Worlds” (Clare Menck, Hidden Life / Verborge Lewe) na Menck se aangetrokkenheid tot die stillewe-genre in die Westerse kuns. Deur deelname onderstreep sy die geldigheid van die genre, maar terselfdertyd herskryf sy die “reëls” in haar keuse van onderwerp of vorm of beide. Aan die eenkant is daar eerbetoon teenoor haar voorgangers, maar terselfdertyd daag sy ook die verwagting in tradisie uit deur juis verskuiwings te maak.

In vorm en inhoud verskil haar werk radikaal van haar voorgangers s’n. ’n Uitstaande voorbeeld is die plasing van objekte, volgens die aanvaarde reëls, in die middel van die oppervlakte, maar aangevul met onlogiese skaduwees en aweregse perspektiewe. Ook in haar spel met volume aan vorme – soms onverwags plat en eendimensioneel. Hierdie spel, kan volgens Godby, teruggevoer word na Chardin (1699-1719) en Cézanne (1839-1906).

 

Menck weerspreek ook die persepsie dat die uitbeelding van die stillewe-genre ’n aanvaarde dekorum het as getuienis van die viering van die “goeie” lewe. Die objekte wat sy verbeeld, sou selfs – in hierdie konteks – as “onwelvoeglik” afgemaak kon word: geroeste spykers, gebruikte teesakkies, ou blikke, toiletrolle, afval-koperpype, latex-handskoene, onderklere en selfs ’n knatertang. Hierdie afgeleefde objekte staan in die teken van die melankolie.

Nêrens poog sy om die insluiting van hierdie artikels te verduidelik nie; inteendeel, sy plaas dit dikwels in sterk kontras met bekorende voorwerpe soos gebruikte rooibosteesakkies naas ’n pragtige rooi borduurmandjie. Kontrasterende gevonde objekte word ook dikwels teenoor mekaar gestel. Die kontras in die teenoorgestelde word egter nie gekonfronteer nie, maar is aanvullend tot mekaar.

Haar stillewes laat die kyker toe om self verkennend na die vorme en saamgestelde voorwerpe te kyk. Daar is ontblotende vorme teenoor verbloemde vorme en soms word die indruk geskep dat daar ’n geheimsinnigheid is in wat die kunstenaar doelbewus verbloem, byvoorbeeld gedeeltelik oop laaie, houers wat toe is en afplatting van voorwerpe, wat die indruk wek van valse perspektiewe.

En tog sinspeel hierdie insluiting van verslete en verouderde objekte, soos ou teepotte, speelgoed en ou poppe in ’n doos, op die broosheid van herinnering. Deur die oproep van die herinnering word die realiteit van verlies verreken. Gevoelsmomente wat bepaalde gebeure en stemminge kenmerk, vind só gestalte in haar werk. Sy herroep herinneringe en besin oor verlies met die doel om te herwin. Só skep sy vir die kyker ’n kontemplatiewe moment – ’n eie herkenningsmoment van projeksie - en selfs meditasie.

Ook in die genre van landskapskildering daag sy die bestaande persepsies uit. In Menck se landskappe figureer die banale, ontbloot van mistiek, historiese, poëtiese of selfs natuur dimensies. En meestal is dit onbevolk en sonder oop ruimtes. Met die geboue en die paaie van haar landskappekarteer sy as ‘t ware die verlore geskiedenisse van mense, wat daarin gewoon het en op die paaie gereis het. Soos met haar stillewes, herinner die landskappe aan die geleefde lewens, verskans en verbloem agter die mure en die toe deure. Hierdie landskappe verbeeld herinneringe en is opsigself memorie. Dit bly ’n private terrein, behalwe soms, waar die eie skaduwee van die kunstenaar dit betree.


Alles dui op die binnewêreld van die kunstenaar waar sy haar afsonder in haar ateljee. Sy werk in die privaatheid van haar eie ruimte. Hier verken sy, geïsoleerd van die buitewêreld, die waarnemings van die fisieke ruimtes rondom haarén haar emosionele reaksie daarop.

Menck is betrokke by die rituele van die gesin- en familieverhoudinge, die groot maak van haar kinders, die alledaagse in hul huishoudelike bestaan. Die familie bly ’n anker van stabiliteit, veral in onseker tye. Ook hier sluit sy tematies aan by die 19de eeuse Realiste, Degas, Manet, Bazville en die jong Monet. Die verhoudinge in gesinverband waar die kunstenaar haar man (mede-kunstenaar Johann Louw) en haar kinders betrek, skep ’n beeld van onderlinge aanvaardiging. Kuns en moderskap en kunstenaar en minnares vind beslag in haar werk.


Ook binne die Suid-Afrikaanse konteks, vind Menck resonansies in meerdere of mindere mate by Maggie Laubser (1889-1973), Ruth Prowse (1883-1967), Florence Zerffi (1882-1962) en Dorothy Kay (1886-1964).

Haar selfportrette, ’n essensiële komponent in haar ouevre, het ook ’n ambivalente houding teenoor tradisie, eendersyds onderhou sy die beginsels, maar daag dit ook blatant uit. Hier is die spel met haarself – sy as middelpunt van haar eie private dramas. Sy maak gebruik van talle foto’s van haarself – wat sy self neem en wat anders, namens haar, van haar neem. Sy hou, in kort, haarself dop en hierdie emosies vind in haar werk neerslag. Dit is die drama wat sy in verf omskep. Hier poog sy om ’n nuwe realiteit van haarself vas te lê en is daar die interessante situasie waar die kunstenaar nie poog om bloot ’n selfbeeld daar te stel nie, maar is dit ook ’n poging om iets van die innerlike kwaliteite van ’n gemoedstoestand daar te stel.


Dit is intiem en persoonlik: die herinnering aan én verlies van ’n eens jeugdige voorkoms. Met die jare bring dit ’n ander patina – van rykheid en insig.

Haar selfportrette oor die laaste twee dekades word ’n deurskouende verkenning van die self, dikwels ’n studie in sielkunde en selfinsig om bestek op te neem van wat die beteken om met die lewe self om te gaan. Haar selfportrette karteer haar eie evolusie as minnares, eggenote en moeder. Haar seksualiteit en identiteit staan voorop. Ook word haar werk ’n rekord van haar ontwikkeling as vrou wat gekoppel is aan haar ontwikkeling as skilder. In hierdie verband praat Proud van ’n “gentle feminism”.


Boeiend is haar figure in interieurs. Die vraag is ook geldig of haar naakfigure naak of bloot ongekleed is. Hier ook skryf sy haar eie reëls. Die interieurs waarin die figure hulself bevind is desolate ruimtes met geen of min aanduiding van enige gerief. Dit is Spartaans, nie Boheems nie, maar ’n verkenning – en ’n poging tot verkenning van die eksistensiële dramas wat in die proses ontvou. Naaktheid hier verteenwoordig nie sensualteit nie, maar die onverbloemde self in sy of haar mees brose toestand. Menck herskep die ruimtes waarin sy hierdie figure plaas, sy poog ’n staat van objektiwiteit daar te skep. In die beklemtoning van die dye, die buik en die borste in die vroulike naakstudies en die fallus by die manlike uitbeeldinge, gaan dit primêr oor aspekte van vrugbaarheid en voortplanting. Ook is daar sprake van ’n selfbewustheid, selfs ongemak, in die voorstelling van haar en haar man se naak figure. Hierdie broosheid sinspeel daarop dat nie net gestroop is van kleding nie, maar dat hierdie ondersoek terselfdertyd die uiterlike en innerlike lewe wil belig.


Daar is ’n teerheid aan Menck se hantering van portrette van mense na aan haar. Die portrette van haar pa, Pa met Vlieër en Portret van Adriaan van Zyl word ’n moment verewig – die laaste kontak, die herinnering verbygegane tyd en die konfrontasie met en realiteit van die dood.


In die boeiende swemmer-reeks word hier gespeel met die gewig/gewigloosheid in water. Wanneer die figuur onder water sink, is dit om die self te onttrek en jouaan die helende kragte van die natuur te onderwerp. Wat sy hier as selfportret aanbied, beklemtoon nie self nie. Hier word die liggaam van ’n hoë uitkykpunt waargeneem, met die aksent op die omringende water. Hier is ’n bewustheid van vlugtigheid van belewing wat van verbygaande aard is. ’n Oomblik-in-tyd, kortstondig, is hierdie moment vaagelê, dalk ’n bevrydende oomblik.

In ’n essay, “Alles Voed die Skilderoog” van Ingrid Winterbach (Clare Menck – Hidden Life/Verborge Lewe) wys sy daarop dat Menck se oog selekteer wat nie veronderstel is om gesien te word nie, veral versteek van die openbare oog. So word die skilder voyeur óók van haar eie lewe. Sy lig die gordyn effens om vir die kyker vir ’n oomblik toegang te gee. “Sy maak die kyker ’n deelgenoot van die dikwels ontluisterede blik op haarself – op die verborge lewe van die kunstenaar, die lewe wat agter die skerms afspeel.”

Oor die afgelope twee dekades het Clare Menck haar toegelê om die gevestigde vorms van die genres van die Westerse kuns te verken en te ontleed. Sy het die fokus gehad op die groot kunstenaars wat sy bewonder. Hier, tog met ’n dubbele agenda. Sy wou en het die grammatika van weergawe op doek en die aanvaarde reëls van elke genre ondersoek, ten einde die teorieë te bevraagteken envir haarself ’n eie plek te vind. Hulle wêreld het in die disseksie van hulle werk en wyse van doen, verwysings geword waarin Menck haar eie “kunstenaarslewe” herskep in ’n post-moderne wêreld. Haar werk is intens krities betrokke met die inhoud en die wyse van representasie van haar wêreld – in sy volheid rondom haar kinders en ook in die bepeinsing van verlies in verlore narratiewe van huishoudelike dramas.

Die kontemplatiewe onttrekking in haar ateljee, skep ook ’n sekere vervreemding van die wêreld rondom haar en dit is om juis hierdie afsydigheid te oorbrug wat onderliggend aan al haar werk lê.

Die wisselwerking tussen bewussyn en die onderbewussyn, die spel tussen intellek en emosie, kenmerk Clare Menck se werk. Elke skildery word gekonstrueer met ’n besondere gevoeligheid vir die juiste aanslag en die presisiese intonasie van wat benadruk word. Sy beskik oor verbluffende tegniese vaardigheid wat opnuut wys op die voortreflikheid van haar kunstenaarskap. Haar werk vibreer van ’n soort innerlike energie. Sy skep visuele poësie wat die kyker betrek en meevoer. Sy het die vermoë om die menslike ervaring te deurskou en haar tyd te vertolk.


Bronne

  • Botha, Amanda,2011,” ’n Deurskouende Blik op die Mneslike Ervaring”, in Clare Menck Hidden Life/Verborge Lewe (red. Stefan Hundt), Sanlam, Bellville.
  • Botha, Amanda, 2010, Clare Menck, Twintig Jaar. Katalogus Oliewenhuis Kunsmuseum, Bloemfontein.
  • Botha, Amanda, 2008,”Celebration and meaning of the ordinary in Clare Menck’s work”, in Clare Menck:Paintings of Objects, Catalogue, iArt Gallery, Cape Town.
  • Godby, Michael,2011,”Interior Worlds”,in Clare Menck Hidden Life/Verborge Lewe (red. Stefan Hundt), Sanlam, Bellville.
  • Godby, Micheal,2008, “Recent Still Life paintings by Clare Menck:The Fine Art of Paradox”,in Clare Menck:Paintings of Objects, Catalogue, iArt Gallery, Cape Town.
  • Proud, Hayden,2011,”’Realism’ and Realist Tradition in the Paintings of Clare Menck”,in Clare Menck Hidden Life/Verborge Lewe (red. Stefan Hundt), Sanlam, Bellville.
    Winterback, Ingrid, 2011,”Alles Voed die Skildersoog”, in Clare Menck Hidden Life/Verborge Lewe (red. Stefan Hundt), Sanlam, Bellville.