Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

Kersverhaal-kompetisie: Dakarai se beste Krismis


Martie Swanepoel - 2011-12-07

Daar is nege uur tussen my, die Tap-die-laaste-druppel-bloed-uit-jou-werkers-aandele-makelaar, en Oukersaand.   

Ek sal môre vir Henko en sy gesin in Kanada Skype as hulle wakker word. Ons sal seëninge oor mekaar uitspreek en dan sal ek my Woolies-Krismis-ete uitpak en my eerste bottel wyn oopmaak. En as ek lekker wil tjank vir inspirasie vir die tweede bottel, sal ek weer na Dinner for One kyk.

Ja, ou Miss Sophie van Sandton.

“Tjorts op my familie,” sal ek sê.

Almal op kantoor gaan my vandag weer beleefd nooi om môre saam met hulle gesinne te kom deurbring. Ek sal weer blatant lieg dat ek die dag “saam met dierbares” gaan kuier. Soos toe Ma en Pa nog geleef het.

Nou hou my broer ’n wit Kersfees in Kanada en ek gaan aan my doktorsgraad werk sodra my Kersfees-babalaas oor is.

Die verkeerslig waarop ek afpyl, slaan oor na geel en rooi. Ek swets. By die Tap-die-bloed-uit-jou-werkers mag mens nooit laat wees nie. Nie eens die dag voor ons ons Liewe Heer se geboorte vier nie.

’n Groep polisiemanne jaag ’n groep mans langs die pad. Niks vreemd in William Nicol-rylaan nie. In stadige beeld sien ek een oor die kruising hardloop en deur die lug tol nadat die vragmotor hom getref het. Hy plof reg voor my kar neer.

“Nee! Ek is laat!” gil ek in my lugverkoelde kar.

Om my ry medeselfsugtiges aan en party toeter oor die polisie die verkeer nie vinnig genoeg laat vloei nie. Die man lê hier voor my op die teerpad. Ek het geen keuse nie.

“Hy is klaar dood,” sê die polisievrou terloops terwyl ek langs hom kniel.

Maar sy oë flikker en sy mond gaap.

“Hy leef nog!” gil ek aan ’n dowe gehoor.

Ek gaan sit plat langs die sterwende jong man. ’n Man met dreadlocks verskyn skielik uit die nuuskieriges en kom gooi ’n paspoort op my skoot. “He is my brother …” Toe is hy weer weg.

Dakarai is van Zimbabwe. Waarskynlik onwettig in die land. Sy ma of iemand gaan seker vanaand en môre wonder waar is hy en sy broer Kersfees?

Ek vat sy nerf-af hand. Sy oë beweeg stadig.

“Can you hear me? Don’t be afraid.”

Ek herken nie my eie stem nie. Ek hoor iemand wat omgee.

Die oë fokus vir ’n paar sekondes.

“I won’t leave you alone, I promise.”

Ek begin woorde prewel aan ’n God wat vir my ’n vreemdeling geword het. “Vat sy lewe in U hande. Omvou sy mense met genade.”

Sy oë raak glasig.

“Moenie worry nie, Dakarai. Môre vier jy die beste Krismis van jou lewe. Daar gaan kalkoen wees en doekpoeding en roomys. En jy en Jesus gaan hande vat en in die rondte dans. Want Hy verjaar môre!”

Na my tweede glas wyn Google ek “Dakarai” … “Child brings joy”.

Fokken Mugabe.