Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Die ASV se bande met Pretoria-PEN


Willem Fransman - 2011-12-07

PEN (oorspronklik vir “Poets, Essayists and Novelists”) International is die oudste menseregte- en literêre gemeenskap ter wêreld. Om aan enige PEN-organisasie wêreldwyd te behoort, moet skrywers die basiese beginsels van PEN se grondwet onderskryf. Vryheid van spraak is vir PEN van kardinale belang. In Suid-Afrika bestaan daar twee PEN-sentrums: South African PEN en Pretoria-PEN, met laasgenoemde wat fokus op die Afrikaanse skrywer. Tydens ’n buitengewone algemene vergadering op 18 November 2011 is Dan Roodt as president van Pretoria-PEN herkies. ’n Groep skrywers bevraagteken sy verkiesing en wil Pretoria-PEN herkonstitueer. Skrywers en sameroepers van skrywersorganisasies het met LitNet gesels oor hul onderskeie assosiasies, hul doelstellings, en hoe bepaal word wie by elke groep die leiding neem.

Naomi Meyer het met Willem Fransman, laasdienende voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging, gesels.

Wat is die Afrikaanse Skrywersvereniging se betrokkenheid by Pretoria-PEN, nou en in die verlede?

Eerste dinge eerste: ek beantwoord die vrae in my kapasiteit as die laasdienende nasionale voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV). Soos bekend het ek in Mei 2010 my bedanking ingedien. Sedertdien is niemand in die posisie aangestel nie en het die ASV in dormansie verval. As ek dus antwoord, is dit vanuit my persoonlike hoedanigheid, maar ook omdat ek vertroud met die geskiedenis van die ASV is en ook die feit dat daar ’n geskiedenis tussen ons en Dan Roodt bestaan!

Die ASV het nooit gepoog om formeel bande met Dan Roodt se Pretoria-PEN te hê nie. Om die waarheid te sê, was ons van die begin af daarteen gekant. Daarvan getuig die artikel in Die Burger van 1 Junie 2006, waarin ons ten sterkste kapsie teen die stigting gemaak het: ons beswaar was dat Pretoria-PEN ons (lees die Afrikaanse skrywersgemeenskap) nog verder kon verdeel.

“Ons kan nie bekostig om verder gefragmenteer te raak nie,” is berig. Die ASV was nog altyd ’n organisasie wat veeltaligheid vooropgestel het, vandaar die feit dat ons by SAWA (South African Writers Association) en nou ook by die NAWGSA (National Writers Guild of South Africa) lidmaatskap het. Beide hierdie organisasies is liggame waarin al elf amptelike landstale verteenwoordiging geniet! SAWA het ongelukkig nooit verder as sy stigtingsvergadering beweeg nie!

Op Pretoria-PEN se webwerf staan daar dat die organisasie verbind is tot die bevordering van letterkunde, spraakvryheid en taalregte. Wat beteken dit vir julle by die Afrikaanse Skrywersvereniging?

Niks, ons het nog altyd geglo in inklusiwiteit. Pretoria-PEN sou die letterkunde van ’n handjievol (lees wit) lede bevorder, terwyl ons poog om soveel as moontlik opkomende skrywers (en dank God tot dusver oor die kleurgrens heen) toe te rus in die kuns van die kreatiewe skryfkuns en van storievertel. Spraakvryheid beteken ook vir ons niks as dit wat deur ons organisasie geuiter word, net bedoel is om konfronterend of sensasiewekkend te wees. En omtrent taalregte was dit nog altyd ons openbare mening dat ons nie as ’n betogende en ’n plakkaatdraende organisasie bekend wil staan nie, en moedig eerder lede aan om in hul persoonlike hoedanigheid aan sulke aksies deel te neem.

Daar bestaan reeds ’n PEN South Africa-organisasie. Wat is dan die relevansie of nodigheid van ’n Pretoria-PEN-organisasie?

In ons verstaan van die handves van die Internasionale Pen, behoort ’n skrywersorganisasie wat by hulle lidmaatskap aanvra, hom te beywer vir die “vriendskap en samewerking tussen skrywers, vryheid van uitdrukking en die verteenwoordiging van ’n gewete in die wêreldletterkunde”. Pretoria-PEN was dus vóór stigting reeds irrelevant, en na hulle in-sonde-ontvang-en-gebore-stigting was hulle meer ’n verdelende faktor as ’n samebindende groep.

Betreffende PEN South Africa: ek reken dat Afrikaanse skrywers, maar ook al die ander taalgroeperinge, eerder deel van dié organisasie moet word en nie eens moet poog om ’n Afrikaanse PEN te stig nie. Ons bring al die onafhanklike Afrikaanse skrywersorganisasies byeen onder die vaandel van die Afrikaanse Skrywersunie (ASU). En die ASU, op sy beurt, verteenwoordig dan ons belange aan PEN South Africa (wat dan ’n organisasie verteenwoordigend van al ons land se skrywers word!) en vandaar na Internasionale PEN! En dit kan dan PEN South Africa wees wat met die regering kan onderhandel – amper ’n drukgroep vorm – om skrywersake ook nasionaal onder hul aandag te bring!

Om bovermelde rede(s) sien ek dus ook nie kans vir die planne waarmee Fanie Olivier en kie besig is nie, want ek staan en val by die beginsel van inklusiwiteit van alle skrywers.

Hoe werk dit by die Afrikaanse Skrywersvereniging wanneer ’n nuwe voorsitter gekies word?

Die voorsitter en die ondervoorsitter word altyd in ’n algemene jaarvergadering gekies. Die res van die bestuur (ses) word ook deur die aanwesige lede verkies. Op die eerste vergadering na die algemene jaarvergadering wys die bestuur self die persone in die ander posisies, soos sekretaris, kassier, ensovoorts, aan.

Lede word ’n redelike tyd voor die vergadering kennis gegee van die datum, tyd en plek deur die sekretaris. In die kennisgewing sal die volledige agenda, notule, asook moontlike grondwetwysigings deurgegee word.

Indien daar nie ’n kworum (twee derdes opbetaalde lede) teenwoordig is nie (aanvaarbare vooraf verskonings word ook in aanmerking geneem, maar die verskonings mag nie meer wees as die teenwoordige lede wees nie), het ons twee opsies:

1. die bestuurslede bly in poste aan vir nog ’n termyn; maar
2. as te veel bestuurslede nie herkiesbaar is nie, word ’n nuwe datum bepaal vir ’n volgende vergadering.

Wat is die kriteria om aan die Afrikaanse Skrywersvereniging te behoort?

Dit moet net iemand wees wat die uitdruklike wens uitspreek om ’n skrywer, storieverteller of liriekskrywer te wees. So ’n persoon kon al gepubliseer het, of in die proses van publikasie wees, of ’n skrywerswerkswinkel bygewoon het, of bereid wees om een by te woon.

Waarna streef jy, as skrywer, onafhanklik van enige organisasie?

Uit dure ondervinding het ek nou uitgevind dat baie skrywers nie groepsdiere is nie. Maar dan weer kry jy skrywers, veral die opkomende skrywers, wat eerder daarvan hou om wel aan skrywersgroepe of kreatiewe skrywersgroepe wil behoort. Enersyds vir die kruisbestuiwing en andersyds weer vir die sosiale aspekte daarvan. Ek glo in beide aspekte van skrywer wees. Geen mens is ’n eiland nie. Was dit nie Etienne Leroux wat gesê het: “Skrywers is die swartskape van die gemeenskap, daarom is dit soms goed om saam met hulle dronk te word!” nie?