Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > SeminaarKamer | Seminar Room > Afrikaans > Miniseminare

Fanie Olivier oor Pretoria-PEN


Fanie Olivier - 2011-12-07

PEN (oorspronklik vir “Poets, Essayists and Novelists”) International is die oudste menseregte- en literêre gemeenskap ter wêreld. Om aan enige PEN-organisasie wêreldwyd te behoort, moet skrywers die basiese beginsels van PEN se grondwet onderskryf. Vryheid van spraak is vir PEN van kardinale belang. In Suid-Afrika bestaan daar twee PEN-sentrums: South African PEN en Pretoria-PEN, met laasgenoemde wat fokus op die Afrikaanse skrywer. Tydens ’n buitengewone algemene vergadering op 18 November 2011 is Dan Roodt as president van Pretoria-PEN herkies. ’n Groep skrywers bevraagteken sy verkiesing en wil Pretoria-PEN herkonstitueer. Skrywers en sameroepers van skrywersorganisasies het met LitNet gesels oor hul onderskeie assosiasies, hul doelstellings, en hoe bepaal word wie by elke groep die leiding neem.

Naomi Meyer het met Fanie Olivier, een van die skrywers wat Pretoria-PEN wil herkonstitueer, gesels. (Pieter Haasbroek en John Miles, mede-skrywers, doen saam met Fanie Olivier die organisatoriese werk.)

Fanie, wat is jou betrokkenheid by Pretoria-PEN, nou en in die verlede?

Ek was in 2004 een van die groepie skrywers wat in Pretoria die Afrikaanse PEN-vereniging opgerig het. Dan Roodt het hiermee die inisiatief geneem. Daar was ’n konsepgrondwet waarmee ons gewerk het, en die bestuur het daarna bestaan uit Dan as president, ek self (as ondervoorsitter), Pieter Haasbroek (tesourier) en Lydia van Eeden (sekretaresse). Uiteindelik was daar 39 lede.

Dan het die aanvoorwerk begin doen vir erkenning deur die internasionale PEN-organisasie. In 2005 het ek by die internasionale kongres in Bled, Slowenië, ’n voorlegging gemaak, maar die saak is terugverwys. By die volgende kongres in Berlyn is ons as sentrum erken, maar as gevolg van sterk teenkanting teen die naam "Afrikaanse-PEN" is daar besluit op Pretoria-PEN.

Daar is daarna nie weer bestuurs- of jaarvergaderings gehou nie, en die ledelys het nie gegroei nie. Oor die jare het Dan homself bly voorhou as president van die sentrum op internasionale verhoë.

Toe hy na ’n versoek hieroor niks gedoen het nie, het twee van die ou bestuurslede (ek self en Pieter – Lydia het intussen bedank, het ons later verneem ...) saam met John Miles begin met ’n proses om die sentrum te herkonstitueer: nuwe lede te werf, ’n vergadering van die ou en nuwe klomp lede te hou waarop ’n grondwet gefinaliseer sou word en dan vir International PEN te vra om die nuwe opset te seën.

Dit was nogal moeilik om almal in die hande te kry, want die adresse was in baie gevalle verouderd. Uiteindelik het 27 deelgeneem en is die proses aanvaar.

Toe het Dan egter saam met sy vrou Karen ’n eie paadjie gaan loop (waarskynlik om sy eie posisie te behou). John, Pieter en ek is besig om die proses waarop besluit is, te volg. Ons werf nuwe lede, en gaan dan vroeg volgende jaar ’n vergadering hou, ’n grondwet aanvaar en ’n bestuur kies.

Om saam te vat: Daar is ’n Afrikaanse PEN-sentrum, Pretoria-PEN, en twee groepe wat daarop aanspraak maak dat hulle die legitieme "eienaars" is: Dan Roodt se groep, en die groep waarvoor Pieter, John en ek nou die organisatoriese werk doen.
  
Op Pretoria-PEN se webwerf staan daar dat die organisasie verbind is tot die bevordering van letterkunde, spraakvryheid en taalregte. Wie het hierdie doelstellings geskryf? Wat beteken dit vir jou?

Hierdie doelstellings kom net so uit die Handves van die internasionale PEN. Die taalregte-aspek is vir PEN baie belangrik: daarom sal daar plek wees vir ’n Afrikaanse sentrum naas die ou SA-PEN, wat oor die belange van die Engelse skrywers en letterkunde in Suid-Afrika ’n ogie hou. Hoe ernstig PEN hieroor voel, sal blyk uit die feit dat daar byvoorbeeld ’n Baskiese PEN is.

Vir my beteken dit presies daardie dinge waarmee ek my my hele skrywers- en politieke lewe besig gehou het, maar rondom ons plaaslike PEN dan ook dat die sentrum onbevrees standpunt sal inneem wanneer hierdie dinge ter sprake kom.

Daar bestaan reeds ’n PEN South Africa-organisasie. Wat dan die relevansie of nodigheid van ’n Pretoria-PEN-organisasie, en is dit slegs vir Afrikaanse skrywers?

South Africa-PEN [PEN-South Africa] is ’n ou sentrum wat, soos ek hier bo verduidelik het, die belange van die Engelse skrywersgemeenskap beskerm en bevorder. Pretoria-PEN (of watter nuwe naam die sentrum ook al mag kry) sien om na die Afrikaanse skrywerswêreld. Die internasionale PEN maak voorsiening vir tot vyf sentra in ’n land, sodat daar ook geleentheid is vir die ander letterkundes in Suid-Afrika om sentra op te rig.

Het PEN International ’n grondwet, waarin bepaal word hoeveel mense by ’n vergadering teenwoordig moet wees ten einde ’n voorsitter te kies? Hoe werk dit by Pretoria-PEN, wanneer ’n nuwe voorsitter gekies word?

PEN International meng nie in met hoe sentra hulle huishoudelike sake reël nie, solank dit nie in stryd is met die handves van die organisasie nie. Daar is byvoorbeeld niks wat sou verhinder dat ’n sentrum se grondwet bepaal dat ’n voorsitter en bestuur via e-pos met ’n hoë deelnamedrumpel (bv 75 persent) verkies kan word nie, maar persoonlik sou ek dit onaanvaarbaar vind. Dis goed dat lede bymekaarkom om te kuier, te gesels en selfs te baklei, maar ek sou skat dat 40 persent vir iets soos ’n skrywersorganisasie as kworum behoort te geld.

Pretoria-PEN het sedert die eerste verkiesing nie weer ’n voorsitter gekies nie. Toe Dan-hulle in November hulle eie aparte vergadering en verkiesing gehou het, was daar net vyf mense teenwoordig. Net twee was deel van die 27 wat in die proses betrokke geraak het, en die 34 wat toe nog lede was. Dit was interessant dat Dan voor die tyd bepaal het dat vyf die kworum sou uitmaak!

Ons hoop dat ons by die herkonstitueringsvergadering darem 30 of so sal wees.

Wat is die kriteria om aan Pretoria-PEN te behoort?

Met die oprigting van die organisasie het P.E.N. gestaan vir Poets, Essayists and Novelists. Onder die “P” sou mens ook Playwrights saamgedink het, en onder die “E” Editors. Maar waar is die kortverhaalskrywers in so ’n benaming?! Uiteindelik moet elke sentra seker maar in sy reglemente bepaal wie sy lede sou wees. Dit lyk my egter dat die publikasie van ’n boek onder jou eie naam binne en rondom die letterkunde en gemeenskapslewe van Afrikaans as uitgangspunt sou dien. Dramas word moeilik gepubliseer, en ons kyk op die oomblik na persone van wie drie verskillende dramas met redelike sukses by die groot kunstefeeste opgevoer is. Uitgewers bly dikwels problematies, omdat skrywers voel hulle beheer die proses rondom publikasie en inhibeer daarom “spraakvryheid” – nogtans word hulle toegelaat, maar met fyn ogies dopgehou! Redakteurs van tydskrifte en van koerante wat hulle bemoei met, en ruimte skep vir, die dinge waarvoor PEN sigselwers opstel in die Handves, en joernaliste wat hulle op daardie terreine toespits, was nog altyd deel van so ’n opset.

Waarna streef jy, as skrywer, onafhanklik van enige organisasie?

Seker maar om goeie goed te skryf wat ander mense sou wou lees en wat op een of ander manier die kwaliteit van ons saamleef in Afrikaans, maar ook in Suid-Afrika, gaan bestendig. As ons (en dan bedoel ek die skrywersgemeenskap) daardeur in Afrikaans verby sulke grense kan saamgesels, is dit fantasties.