Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Kompetisies | Competitions

Kersverhaal-kompetisie: ’n Kitaar vir Kersfees


Boet Snyman - 2011-12-07

Sy naam is Jan.

Sonder dat hy dit weet, vertel sy blouselblou oë ’n storie. Partykeer hartseer en ander kere weer gemaak-happy.

Hy bly op die strand en slaap onder ’n stuk seil ... sommerso.
 
Die erg verslete klere change hy nooit nie.

Maar hy is nie common nie. Nee ... nee, ek het self gekyk en self gesien.

Vandag was hy besig. Dit is besigheid, sê hy, goeie besigheid.

Baie kleingeld gekry van ryk vrouens wat skuldig vir hom kyk . Toehande vinnig uithou wanneer hulle een arm swaar hang met Kersfees se pakkies. Tog is daar iets in hom wat hulle laat omdraai. Met sy blouselblou oë wag hy op hulle. Te vinnig draai hulle dan om. Soms gee Harvest se mense vir hom klere. Nog nuwe klere.

“Toe gaan trek aan, dan kan jy ook Kersfees mooi lyk.”

Waar ek hom ongemerk dophou, weet hy nie ek sien hoe hy die klere verkoop nie.

Woede wis alle jammer uit. “Sommer goedkoop dop met genoeg skop,” praat hy met homself.

Ek sal nie weer na hom gaan kyk nie – hierdie keer is dit klaar. Die vergeelde koerant op my skoot.
 
“Dag voor Kersfees is sy dood.”

Dronk man het bestuur met sy vrou langs hom en seuntjie op haar skoot.

Laatnag het hulle teruggery van ’n optrede af. “Ek is reg man, ek sal bestuur.”

Die vernietiging van verwyt het die man gery. Mettertyd het die beeld vervaag. Die mense by wie hy gebly het, was so goed vir hom en tog het hy na die klank verlang.

En toe kom die haat. Hy het haar vermoor, het hy bly dink en sonder ophou begin te soek.

“Ek sal hom kry, ek belowe, hy gaan betaal.”

Oor en oor het hy dit by die verwaarlooste graf bely. Net om jare daarna die gehate moordenaar self daar te kry.

Die kitaarklanke laat hom naderstap. En Kersfees het betekenis gekry.

Die oorledene was sy ma en die kitaar ’n geskenk nog vir sy pa.

Hulle oë ontmoet en hulle weet dis verby. Die kitaar kon hy nie verkoop vir hardehout nie en daarom word vergifnis waar ...

’n Ander beeld swem voor sy oë van ’n man oopgespalk aan hout. Die kitaar word ’n kruis wat Jan saam met hom dra. Hy kon dit nooit verkoop nie en ook nooit weer daarop speel nie. Maar hy sal dit saamdra om te onthou van sy bloeiende vrou.

En gister toe hy hom sien, toe weet hy daar is net een manier.

Sy vingers is styf en seer. Die lied kom egter vanself. Dis eers net ’n roering, maar dan vat hy meer raak.

Die jongman se blik word sagter terwyl hy speel.

“Amazing Grace” word werklikheid en sy blou oë se blindheid word weggevee. Sy sou wou hê dat hy moet speel op die kitaar wat sy hulle laas Kersfees vir hom gegee het.

Wanneer die klanke gegryp word deur engele wat saam met vryheid sing, staan die jongman ook verwonderend stil.

“Kom Pa, kom huis toe, bring jou kitaar. Hierdie Kersfees is ons dan almal bymekaar.”