Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Poësie | Poetry > Afrikaans

Droewe gondel


De Waal Venter - 2011-12-07

Tomas Tranströmer
Sorgegondolen nr 2

Droewe gondel

I

Twee ou mans, skoonvader en skoonseun, Liszt en Wagner, bly by die Groot Kanaal
saam met die rustelose vrou wat getroud is met koning Midas
wat alles verander wat hy aanraak in Wagner.
Die see se koue groen stoot op deur die paleisvloere.
Wagner is gemerk, sy beroemd Punch-profiel is moeër as voorheen
sy gesig ’n wit vlag.
Die gondel is swaar gelaai met hul lewens, twee retoer en ’n enkel.

II

’n Venster in die paleis vlieg oop en mense frons in die skielike trek.
Buite op die water verskyn die vullisgondel geroei deur twee eenspaan-bandiete.
Liszt het ’n paar akkoorde neergeskryf, so swaar dat hulle eintlik weggestuur moet word
na die mineralogie-instituut in Padua vir analise.
Meteoriete!
Te swaar om te dryf kan hulle net sink en sink reg deur die toekoms
tot die Bruinhemde-dae.
Die gondel is gelaai met die toekoms se opgehoopte klippe.

III

Loergate op 1990.

25 Maart. Angs vir Litaue.
Gedroom ek besoek ’n groot hospitaal.
Geen personeel. Almal was pasiënte.

In dieselfde droom ’n pasgebore dogtertjie
wat volsinne gepraat het.

IV

Langs die skoonseun, ’n man van sy tyd, is Liszt ’n motgevrete grand seigneur.
Dit is ’n vermomming.
Die diepte, wat verskeie maskers aanpas en verwerp, het hierdie een net vir hom gekies –
die diepte wat in mense wil opstyg, sonder om ooit sy gesig te wys.

V

Abbé Liszt is gewoond om self sy tas te dra deur sneeu en sonskyn
en wanneer sy tyd kom om te sterf sal niemand hom by die stasie ontmoet nie.
’n Ligte bries van begaafde konjak voer hom mee te midde van ’n opdrag.
Hy het altyd opdragte.
Twee duisend briewe per jaar!
Die skoolseun wat sy spelfout honderd keer oorskryf voor hy kan huis toe gaan.
Die gondel is swaar gelaai met lewe, dis eenvoudig en swart.

VI

Terug na 1990.

Gedroom ek ry oor ’n honderd myl tevergeefs.
Dan vergroot alles. Mossies so groot soos henne
het so hard gesing dat my ore toegeslaan het.
Gedroom ek teken klavierklawers
op die kombuistafel. Ek het op hulle gespeel, geluidloos.
Die bure het kom luister.

VII

Die klavier wat stilgebly het deur die hele Parsifal (maar geluister het) kan uiteindelik iets sê.
Sugte ... sospiri ...
Wanneer Liszt vanaand speel, hou hy die see-pedaal ingetrap
sodat die see se groen krag opstyg deur die vloer en saamvloei met al die klippe in die gebou.
Goeienaand pragtige diepte!
Die gondel is swaar gelaai met lewe, dit is eenvoudig en swart.

VIII

Gedroom ek moes skool toe, maar kom te laat.
Almal in die kamer se gesigte was wit maskers.
Wie die onderwyser was, kon niemand sê nie.

 

 

  • Uit die Sweeds vertaal deur De Waal Venter