Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Deine schöne Gestalt


Marlise Joubert - 2011-12-07

Hy was nooit van hierdie wêreld nie.

Veral nie van hierdie stomende stofstrate en verslonste bougainvilleas wat oor onwit gebreekte muurtjies hang nie. Nog minder van meer veraf dinge soos die staalbesems van die kerkklokke wat in die bodorp al om die ander uur hulle vee-ritmes laat klink.

As hy was, sou ek seker nie vir jare daarna so dikwels snags van hom gedroom het nie.

Soms het ek gedink hy was ’n ander weergawe van ’n Christusfiguur uitgestuur een oggend toe die wind sy stof oor die kruine van bome laat los. Toe die son koel geword het teen Lammieskop wat aan die buitenste nuwe uitbreiding van my dorp lê. Ek weet nie. Maar hy was onaards soos ’n blink nagwind. En om te dink dat daardie één aanraking tussen ons blywend en terugkerend geword het, is die soort absurditeit waaraan ek sonder keuse gewoond moes raak.

Ek kon die eerste roering voel gebeur een oggend in sy klaskamer aan die oostekant van ons rooibaksteen-skoolgebou. Voor die kamer was ’n breë stoep met growwe vaalgrys teëls wat afgeloop het verby die volgende vyf klaskamers. Van waar ek gesit het, kon ek altyd die rooi blomme van die vlamboom sien met die blare wat ingebuig word teen ’n groen geut. Verder weg strek die harde speelvlak tot teen die ogiesdraadheining. Dan die grondpad en die eerste silwer tralies en hekkies wat armoedige huisies beveilig.

Ek het na buite gestaar, bewus van die vlamboom se vlamrooi kroon en bewus van hom waar hy agter sy netjiese lessenaar voorgelees het:

Wer reitet so spät durch Nacht und Wind?
Es ist der Vater mit seinem Kind;
Er hat den Knaben wohl in dem Arm,
Er fasst ihn sicher, er hält ihn warm.

Ek wóú nie na hom kyk nie. Ek het probeer dink aan die man in die gedig wat vinnig met die kind te perd ry, wat die kind styf vashou, wat die kind warm hou.

Ek het geweet sy voorkop is hoog en glad en as hy opkyk en my oë sien, sou hy miskien weet hoe ek voel.

Ons moes iets in ons boeke skryf en terwyl almal besig raak, het hy langs my bank kom staan.

“Is jy dalk ’n suster van Ester Steyn?”

“Nee, Meneer …” Ek het verleë gelag en rooiwarm geword in my gesig terwyl ek steeds aan die rustige blare van die boom buite wou vasklou.

“O. Ek het maar net so gedink. Jy lyk so baie na haar. Wat is jou van nou weer?”

“Conradie, Meneer. Karin Conradie, Meneer. Ek is nie …”

Hy het geglimlag. Sy tande is wit en perfek. Op sy onderlip is ’n dun litteken, kraakfyn soos ’n barsie in ’n droë blaar. Sy neus is reguit en die wimpers van sy sagte oë donker. Hy is té mooi, het ek verwonderd gedink. Hoe kan ’n man so mooi wees? En wat maak hy op hierdie semelrige dorpie?

Dit was die begin van die jaar.

Die dae daarna kon ek nie ophou om soos Ester Steyn te lyk nie. Estertjie het hulle haar soms genoem. Want sy was klein, haar gesig guitig soos ’n kabouter s’n. Die onderste lede van haar oë het opwaartse bogies gevorm, sodat sy ondeund en weerloos voorgekom het – ’n kombinasie wat elke onderwyser se hart gesteel het. Sy het die manier gehad om met haar regterhand vinnig die voorste krulle van haar kop deurmekaar te woel. Ek het tuis ure aaneen voor die spieël gesit en die bogies van haar oë probeer namaak. En die handbeweging. Selfs haar kinderlike stem as sy sê: “Oe! Meneer! Haai nooit, menéér!”

Die inspanning om haar na te boots, het natuurlik te veel vir my geword, en om met opgetrekte oë vir ’n hele periode deur te sit, het my hoofpyne gegee.

Dit was een oggend tydens eerste pouse toe ek en Anja by die snoepwinkeltjie ons daaglikse Mel-O-Jels gekoop het dat ek ’n eienaardige verlammende gevoel ervaar het wat my telkens in die maande daarna sou oorrompel. Dit was die eerste keer dat my emosies ’n skerp fisieke gestalte aangeneem het.

Ek het nie geweet dat hy skuins agter ons staan om ook iets by die stalletjie te koop nie. Hy het liggies aan my blazer se mou getrek en gesê: “Conradie, jy sal mos vet word van al die soetgoed!”

“Ag, Menéér!” Eers toe hy weer in die bondel stampende kinders verdwyn het, onthou ek om my oë op te trek.

“Wat makeer jou oë? Is hulle seer?” wou Anja weet.

Dit was toe, daardie pouse, by die gebarste wasbakke in die kleedkamers, dat ek Anja vertel het my knieë is verskriklik lam en bewerig oor wat Hoffmann by die snoepwinkel gesê het. Miskien was dit omdat hy aan my mou getrek het.

“Jis jong, ek is heeltemal duiselig!” het ek gesê en stadig afgesak langs die pype van ’n wasbak. Anja het onbedaarlik aan die lag te gaan en my natgespat met die water uit ’n stromende kraan waar sy besig was om haar hande te was.

Ek het haar nooit weer enigiets vertel van my gevoelens vir Hoffmann nie. Ek kon haar wel later oortuig dat dit bedagsaam sou wees as ons vir hom ’n kaartjie kan gee vir sy verjaarsdag. Anja was kunstig en het ’n prentjie van drie poinsettias geteken. Ek het die bewoording gedoen: Herzlichen Glückwunsch zum Geburtstag und alles Gute für Deine Zukunft. Von Karin und Anja.

Die jaar het verder rustig verbygegaan. Ná die winter het peule saadgeskiet en die bergkamme was weer oortrek met dikbasblomme. Dit het somer geword en die skoolvakansie het langsaam verby gesleep.

Met die nuwe skooljaar, in standerd nege, kon ek steeds nie die intensiteit van my emosies oor Hoffmann verklaar nie. Nog minder het daar enige begrip gekom om my gerus te stel. Dit was asof ek oortuig gevoel het hy behoort aan my en dat hy bewus daarvan is. Ten spyte daarvan dat ons nooit gepraat het oor enigiets meer as wat toelaatbaar was nie, was daar tog iets ánders tussen ons wat gelê en wag het om ontdek te word. 

My dorp het nog nooit soveel lig oor alles uitgestraal nie. Soggens was die kleure van bome en tuine helder en ek het dikwels gesing terwyl ek met my fiets huis toe trap onder ’n laning jakarandas deur.

Ek kon sonder vrees alleen Lammieskop uitklim op ’n Saterdag en die rokerige dorpie uit die somerhitte lig en wegneem na ’n plek wat vreemd en eksoties langs mere en strande lê.

Ek kon die bosveld vol skurwe boomstamme en lang geel grassade verbeel as ’n klam wiegende woud rondom Innsbruck, die plek waar Hoffmann grootgeword het en waarvan hy soms met weemoed kon vertel.

Ek het my verbeel dat ek hom tóé, in daardie newelagtige, klam wêreld, geken het. Ek is veertien en ons loop met die hande in mekaar deur ’n donkergroen woud waar voëls soos helderblou vrugte in hoë bome hang. Hy kom lê langs my in die sagte blaremat; sy hand streel oor my voorkop: “Conradie, eendag as jy groot is, sal ek jou kom haal …”

My dagdrome was eenvoudig, intens en gedurig.

My Duits het daaronder begin ly en Hoffmann het my dikwels daaroor betig. Maar dit was asof ek weinig daarvoor kon omgee, asof hy my méér aanmoediging en aandag skuld voordat ek sou verbeter.

Daar was ander insidente daardie jaar, minder belangrik, maar tog soos klein propgeweervreugdes vir my. Ester het die skool verlaat en in die Handelshuis op die dorp gaan werk. ’n Paar maande daarna is sy getroud met ’n geskeide man wat ’n twyfelagtige reputasie onder die dorp se inwoners gehad het. Sy het haar skoolmaats vermy en as ons haar toevallig in die winkel raakloop, was sy onvriendelik, haar oë hard en treurig. Almal was geskok oor hierdie huwelik, want Estertjie was dan so ’n oulike, belowende kind met haar wipneusie. En daardie oë … Ek was egter bly, ek kón dit eenvoudig nie verhelp nie. Dit was asof sy uit die weg geruim is en ek kon meer ongesteurd en ontspanne my werklike self wees. My gevoel vir Hoffmann het verdiep en ek het in die geheim gedigte begin skryf.

Tog het dit geblyk dat my gevoelens eensydig bly, want daar was nooit enige ander bevestiging dat hy meer van my hou as wat hy veronderstel of geoorloof was nie.

Behalwe daardie een naweek, toe hy en juffrou Els ’n klompie leerlinge uit ons klas na ’n vakansieplaas toe geneem het.

Die plek was sowat 100 kilometer met die Rooibergpad langs. Hoffmann het die eienaar van Klopdrif geken en ons kon vir een nag in sy vakansiehuis hoog teen die berg op oornag.

Daar was twee groot rondawels, verbind met ’n kombuis en badkamer. Voor was ’n wye oop stoep omring deur ’n lae muurtjie en gestut op swaar houtpale wat tot teen die oorhangende grasdak strek.

Die vreemde tropiese atmosfeer van daardie omgewing het die verhouding tussen ons en die onderwysers meer ontspanne en spontaan gestem. Dit was byna of ek Hoffmann op sy naam kon noem: Franz. Ek het gedink ek sou dit doen as hy my Karin noem. Ek het altyd daardie gewoonte van hom om ons op ons vanne aan te spreek, gehaat. Daarmee kon hy so gerieflik die afstand bewaar tussen hom en die leerlinge.

Daar was ongeveer twaalf of veertien stuks van ons wat saam daardie oggend vroeg uitgery het in ’n bakkie en ’n kombi na Klopdrif toe. Almal was uitbundig en uitgelate. Ek was stil. Vaagweg beangs.

By die swemgat later die middag het die beklemmende gevoel erger geword en ek wou nie tussen die ander rondswem en baljaar nie. Ek swem al eenkant toe weg, maar sorg tog dat ek naby Hoffmann bly waar hy in die warm son sit en bak. Dis die eerste keer dat ek hom in ’n baaibroek kon sien. Sy bene is mooi, die dye stewig gevorm en die vel oor sy rug styf en glad gespan.

Ek swem voor hom verby en hy roep: “Conradie, hoekom is jy so stil, jong? Was birgst du so bang dein Gesicht?”

Ek duik weg met my kop onder die water en wonder of ek hom moet antwoord. Ek bars proesend deur die wateroppervlak en ek lag vir die eerste keer daardie dag.

“Meneer, Erlkönig hat mir ein Leids gethan!”

Ek wieg op my rug en kyk half teen die verblindende son na sy gesig. Hy lag, en duik skielik langs my verby met ’n egalige boog in sy lyf. En tóé was ek vry. Losgesny uit die beklemming en byna soos iemand met ’n troefkaart in die hand.

Die res van daardie middag was ek baldadig. En ek het Hoffmann doelbewus en uitdagend vermy.

Daar is klanke en geure wat blywend word, aande wat inbrand met geweld en só deel van jou hele wese word dat jy nooit weer daarvan kan loskom nie. En tog, terugskouend, het daar min daardie aand gebeur; die aanraking was momenteel. Waarom sou die herinnering daaraan dan ’n eie klein ewigheid geword het?

Eers was dit die vleisbraai en toe die singery om ’n klapperende vuur. Naggeluide, ver en dan naby. En die soet geur van mimosabome in die omtrek. Die seuns het die meisies geterg en die meisies het gefluister en gelag. Op die stoep het iemand die radio aangeskakel. Ons het begin dans. Veraf kon ek die geruis van die rivier hoor en in die raamwerk van die stoep het die maan die naaste bome grysgroen verlig.

Meneer het saam begin dans, eers met die juffrou en toe met een na die ander meisie. Hy het al hoe meer met my begin dans, maar dit het vreemd gebly in sy arms, asof hy nouliks aan my wou raak.

Dit het later geword. En donkerder. Iewers was die flou skynsel van die kers se lig naby die een hoek van die stoep waar die opvoumatrasse van die seuns gelê het. Die ander meisies het gaan slaap en net ek en Anja het oorgebly. Die seuns het op hulle matrasse begin saambondel en plek gemaak vir ons. Ek het naby Hoffmann gaan sit. Die seuns het gedemp gesels en geskerts en die musiek sagter gedraai.

Hoffmann het stil in sy hoek gesit-lê, sy gesig feitlik onsigbaar in die skemerte.

Toe swaai ek half om met my bene weg van hom af en lê my kop neer op sy bobeen. Die kers het uitgevlam en die reuk van pit en mimosa het saamgesmelt.

Almal was moeg en vaak en rustig. Niemand het enige opmerking gemaak daaroor dat ek my kop op Hoffmann neergelê het nie.

’n Nagvoël het homself knorrig reggeskud in die naaste boom. Alles was stil en donker. Net die buitelyne van die voorwerpe en gesigte sigbaar soos ons oë mettertyd die duisternis gewoond geraak het.

Ek was skaars van iemand anders bewus. Ek het net geweet van hóm en van die seer volheid in my borskas.

Ek was bang dat hy kon voel hoe my slape klop teen sy been, hoe my hande klam word van sweet. En toe, skielik, asof hy my wou gerusstel, was sy hand tussen my hare in, langs my oor verby en om my nek. Hy het die sagte holte agter in my nek begin vryf. Stadig, maar sonder enige huiwering.

Die oomblik was té veel. Ek kon dit nie langer verduur nie. Soveel onderdrukte emosie het ek nog nooit weer beleef nie.

Ek het orent gekom, oor iemand se voete gestrompel en na Anja geroep dat ons moet gaan slaap. Die seuns het traag en mompelend in beroering gekom. Anja het êrens uit die skemerte opgestaan, skuifelend in my rigting beweeg. Nag, Meneer. Dis so donker, Meneer. Waar is die deur dan nou? Oppas, hier lê ’n koffer of ’n ding in die pad. Eina, sjoe, my toon. Meneer? Dis so donker. Nag, julle. Nag, Meneer.

“Nag, Karin.”

Sy stem was rond, slaperig soet soos die geur van klam bome in die naglug.

Daar het nooit weer iets verder gebeur nie.

Ons is terug die volgende middag en die skool het Maandag soos gewoonlik die week geopen. En daarna was dit week na week, platonies ingeryg.

Hoffmann het stiller geword. Afgetrokke. Soos ’n vreemdeling. Hy het nie meer maklik met my kom praat nie. En as sy oë myne vang, het hy altyd weer vinnig weggekyk.

En tog het ek iets van hom besit; iets van sy menswees en sy aanraking het vir altyd deurgedring en vasgesteek, jaar in en jaar uit daarna.

En soms, nog, wéét ek sy stem, rond en sag, sy breë gladde voorkop vorentoe gebuig terwyl hy lees:

In seinen Armen das Kind war tot.