Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Resensies | Reviews > Afrikaans

Grape bring kwessies uitdagend dog verteerbaar na vore


Johan Fourie - 2011-12-07

Grape: From Slavery to BEE
Jeanne Viall, Wilmot James en Jakes Gerwel
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624049388
Prys: R179.95

Klik hier en koop Grape nou van Kalahari.net!






Ek het die boek met die kleurvolle voorblad sien lê op die rakke van my plaaslike boekwinkel en dit belangstellend opgetel en deurgeblaai. Interessant, ja, maar vir ’n Stellenbosser is ’n boek oor wyn tog soos sneeu vir ’n Eskimo, nie waar nie? Die mededinging vir leestyd is elk geval so straf, het ek geargumenteer, dat ek eerder ’n titel sou verkies waaruit ek meer kon leer, of so het ek gedink.

’n Maand of wat later was ek dus verras toe die boek, Jeanne Viall, Wilmot James en Jakes Gerwel se Grape: From slavery to BEE, op my lessenaar opdaag met die versoek om dit te resenseer. Ek kon nie die geleentheid vir ’n tweede keer opgee nie.

Die boek is opgedeel in elf hoofstukke met uiteenlopende temas: die ontstaan van die vroeë Kaapse wynbedryf, die vraag na plaasarbeiders en hul herkoms, die verhoudings tussen eienaars en werkers, die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse wynverbruikerskultuur, tafeldruiwe, klimaatsverandering en, soos die titel aandui, swart ekonomiese bemagtiging en transformasie. Die boek gaan dus oor baie meer as net druiwe en bied amper ’n geskiedenis, biografie en sosiologie van die wingerd- en wynbedryf in die Wes- en Noord-Kaap, als in een.

Dié wat vertroud is met historiese werke soos Giliomee se Die Afrikaner, gaan dele van die vroeë geskiedenis herken. Dit is egter die klemverskuiwing vanaf die eienaars na die werkers – die slawe, knegte en Khoikhoi – wat hierdie geskiedenis waarskynlik meer menslik, meer persoonlik maak. Dis nie ’n akademiese werk nie, maar dit raadpleeg die belangrikste bronne en verhelder die droë geskiedenis met ’n verskeidenheid verhale wat soos ’n sepie afspeel. Goeie populêre geskiedenis.

Dis jammer oor die aantal (kleinerige) foutjies wat ingesluip het – Van der Stel het nie Van Riebeeck opgevolg nie (37); ’n legger was net meer as 500 liter, nie 500 000 nie (58); Lourens Campher het nie net ’n draghaan en ’n swaard besit nie, dit is bloot al wat die opgaafrolle lys (59) – asook een of drie spelfoute (insluitend my naam). Soms word die verlede ook verromantiseer, soos met “dit het betaal om te toyi-toyi” met verwysing na slawe in die 1820’s (dit is heeltemal ahistories), of “soos meeste slawe, het sy geen van gehad nie”. Vanne was oor die algemeen ’n nuwe verskynsel. Ek is nie seker dat die Mosambiekse, Madagaskar-, Indonesiese of Indiese gemeenskappe van die 18de eeu – die oorsprong van die meeste van die slawe – ook vanne gehad het nie? Maar dit alles doen min afbreuk aan die groter storie.

Dit was sonder twyfel ook die skrywers se uitgangspunt om die stories te vertel van die onverteldes: deurgaans lees mens Jeanne (wat, vermoed ek, die meeste van die skryfwerk gedoen het) se empatie met die plaaswerkers raak, haar amperse partydigheid ten gunste van die kwesbares en die ontneemdes. Dit is verfrissend, ’n eerste, maar dit bly steeds ’n vooroordeel, en een wat soms pla. Ek het ’n paar maal gewonder of albei kante van die storie ewe regverdig aangebied word.

Dis egter hierdie lewensverhale en biografieë ingevleg tussen die geskiedenis en wetenskap wat die boek sy kleur gee. Sommer met die intrapslag gesels Jeanne met Mohammed Karaan, die dekaan van Agriwetenskappe op Stellenbosch. Karaan maak ’n paar kontroversiële stellings – “die wynindustrie vernietig meer as wat dit skep” – wat die toon vir die res van die boek bepaal. En dis is die belangrikste rede om Grape te lees: dit gee die leser (veral wit, Afrikaanse wyndrinkers soos ek) nuwe stof tot nadenke.

So waaroor moet ons dink? Karaan, waarskynlik effens tong-in-die-kies, dink hardop: “My radikale voorstel is dat ons alle land nasionaliseer. Meeste kommersiële boere is nie lewensvatbaar nie, meeste kleinboere is nie lewensvatbaar nie, so hoekom hou ons die stelsel op?” Dit sal die meeste van ons laat stik in ons Pinotage, veral gegewe Karaan se amp (en sy betrokkenheid by die Nasionale Beplanningskommissie van minister Manuel). Maar voor mens dit afskiet as die beswyminge van ’n begeestigde,  is dit dalk nodig om hardop saam te dink. Wynboere sukkel. ’n 2011-verslag van die Departement Landbou stel onomwonde dat insetkostes heelwat vinniger gestyg het as die inkomste van wynboere. Die vraag na wyn is internasionaal onder druk weens die resessie, terwyl die vraag in nuwe markte nie vinnig genoeg groei om as alternatief te dien nie. Daarbenewens plaas klimaatsverandering (met warmer temperature in die westelike deel van Suid-Afrika en ’n groter kans op ekstreme weerstoestande), die groen ekonomie (volhoubare, organiese, koolstofneutrale boerdery), politieke druk (vir grondonteiening en transformasie) en sekuriteitskwessies (plaasveiligheid) boere verder in ’n drukgang. Ja, daar is dié met ander inkomstebronne wat die wynbou sien as ’n leefstyl- en verbruikersitem. Maar hulle is dun gesaai, veral in die gebiede buite Stellenbosch.

Wat staan die regering te doen? Is die wynbedryf ’n volhoubare werkskepper, die tipe werksgeleenthede wat dien as katalisator vir ekonomiese ontwikkeling? Of is die wynbedryf bloot ’n kurkprop wat die wanbalanse van die verlede behou en beklemtoon? Om die wynbedryf die rug te keer is ekonomiese selfmoord, maar om ’n sieke aan die lewe te hou is duur en ’n vermorsing van skaars bronne.

Grape beantwoord nie hierdie vrae nie, maar dit bring hierdie kwessies op ’n uitdagende dog verteerbare manier na vore. Lesers sou swakker keuses kon maak as om in hul geliefde boekwinkel hierdie boek, met sy kleurvolle voorblad, uit te kies.